navigasie
alleen maak die huis die gewone geluide:
die yskas klik aan
en af,
teen die muur
vlieg die onhoorbare vas,
‘n gecko kom by in die grys lig
om met bleek tong getrou
dit af te was
die tafel onder ’n koppie
tussen teël en plafon
staan en houtslaap, ewe ver
van die ligstreep
wat die son soggens maak, dog
die trap onder voet is nog net so
onverwags, totdat koffie hom
in die lyf
knus tuismaak
© ND Cronjé, 2026
