Jy het kinds geword
Na NPvWL se Jy was ’n kind
Jy het kinds geword, die onseker wete
van herkenning en vergeet is in jou oë;
jou brose onthou is daagliks afgemete
tot fragmente van jou verlede — die hoë
gras van gister lê plat voor die wind,
en helder oomblikke bring net naakte vrees;
jy het nou die weg van minder word gevind,
en waar jy was, sal net stilte wees.
Daarom is jy (in verslae vermoede)
soos ’n vlei wat poog om vol te staan,
maar geleidelik sak, en in my woede
teen die strooptog van die lot, die stil vergaan
van weggesyferde dinge. Verniet
bou ek vir jou ’n nes tussen riet.
© Marthé McLoud, 2026
