Die laaste reis
Om my vertrek dan te beskryf:
ek, nog compos mentis,
maar met die son karmosyn in die weste,
trek die deur vir laas agter my dig,
my koets gereed, die bagasietrein gelaai,
vlug ek uit voor die dood,
wat hier maai onder vromes en die boosstes;
te lank het ek geluister na sy herout,
wanneer hy met stegies langs
en agterstrate,
die basuin vir die gestorwe siele blaas
in die geel lig wat deur die ruite
van siekekamers in die nag na buite val;
g’n sieketrooster of paap sal by my kniel,
ek gaan die kou van die laaste reis
op my eentjie tegemoet,
en ek sien reeds, as ek die koets bestyg,
die perdespan wat my wegvat is bleek
en ek wis in die laaste lig van die son,
hulle is gestuur op klare instruksie van Charon.
© Ferdi Wheeler, 2026
