Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
28 September 2026

Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)

 

 

Resensie: Vers & Kapittel III, Daniel Hugo, 2026, Kaapstad: Turksvy.

Resensent: Dewald Koen

 

Op 21 Julie 2021 berig die gemeenskapskoerant The Witness oor die grootskaalse plundery tydens gewelddadige protesoptrede by inkopiesentrums in hoofsaaklik KwaZulu-Natal en Gauteng. Die meeste winkels is rot en kaal besteel met die uitsondering van boekwinkels. Tussen gebreekte vertoonvensters, rommel en winkelpoppe sonder ledemate pronk ’n tak van ’n bekende boekwinkel ongestoord in die chaotiese toneel. Onaangeraak. Gereed om die volgende dag handel te dryf. Hierdie tendens spreek boekdele (is dit nie ironies nie?) oor die Suid-Afrikaanse samelewing. Word boeke en die wonderwêrelde wat daarmee gepaardgaan so nutteloos geag? Boeke voed op die korttermyn nie honger mae nie, maar deur kennis te verwerf en geletterdheidsvlakke te verhoog, kan ’n ekonomiese opbloei tot gevolg hê waarby ’n ganse samelewing kan baatvind. Klaarblyklik is boeke vir die meeste Suid-Afrikaners van nul en gener waarde.

Waarom is hierdie relaas enigsins van belang? Dit bring my by die digter-literator Daniel Hugo se Vers & Kapittel III wat pas by Turksvy verskyn het. In die voorwoord stel Hugo die vraag: “Wie steel boeke?” Daar is gerugte van ’n paar boekversamelaars van ouds wat visenteer moes word voordat hulle jou huis of solder verlaat het. Dit daar gelaat, voer Hugo aan dat boekrakke ’n “rustige, gesellige en gesofistikeerde atmosfeer” in huise skep waarteen geen elektroniese leesapparatuur kan meeding nie. Helaas word die versamelbundel ingelui met hierdie veelseggende vers:

 

Terugkeer

 

ná tien jaar het ek weer toegang tot my boeke

in ’n kamer wat volgepak was met ongebruikte beddens,

’n fiets, ou TV-stel en ’n seun se musiekinstrumente

 

(die boekrakke het geduldig stof tot nadenke bly vergaan)

 

in die tussentyd had ek ’n nuwe werkplek ingerig

op ’n Karoo-dorp waar ek ’n dubbelbed met my muse deel

die uitspansel skermloos sien flikker en na leivoorklanke luister

 

(die fiets sal ek in ’n ander gedig metafories ’n plek gee)

 

ek vind nou boeke wat my lank gelede geboei

en geïnspireer het: digbundels, biografieë, literêre kritiek

ek is in my element, ek herontdek my geheue

 

Hierdie gedig is ’n belangrike sleutel tot die versameling geskrifte waarin Hugo sy liefde vir boeke asook kennis van poësie met die leser deel.

 

I

“iets met vers en kapittel bewys” (HAT, 2015:585)

Hugo se derde versamelbundel vorm deel van ’n drieluik waarin artikels, rubrieke, resensies en gedenklesings oor die digkuns gebundel is. In die derde bundel het Hugo gedenklesings ingesluit wat ’n verdere dimensie tot die verkenning van die Afrikaanse poëtikale landskap bied. Die bespreking van ’n verskeidenheid digters, gedigte, temas en literêre geskiedenis bied aan die leser uiteenlopende tekste om hul kennis te verbreed. Boonop is daar ook “staaltjies” oor die soms eksentrieke geaardheid van ’n digter of twee. Alhoewel die bundel ’n magdom leesstof insluit oor die Afrikaanse poësie (meer as 300 bladsye), gaan ek in hierdie resensie hoofsaaklik fokus op die bespreking van enkele artikels of rubrieke wat my opgeval het.

 

II

Kantlynaantekeninge, Lina Spies, Boekmense en die huiskat

In sy artikel getiteld “Kantlynaantekeninge” (100) fokus Hugo op die bladspieël met verwysings na die gedrukte deel van ’n bladsy met ’n blanko raam daaromheen. Hierdie kantlyn word deur talle lesers gebruik om aspekte van die teks aan te dui wat hulle interessant vind, dwars in die krop steek of bloot om kommentaar daarop te lewer. Hugo maak van verskeie voorbeelde gebruik om hierdie tendens te ondersoek. Ter illustrasie het ek soortgelyk aan Hugo se  “[b]oekmens” (182) in my boekery gaan snuffel om te sien watter interessante “[k]antlynaantekeninge” ek kon opspoor. My soektog lei tot kantlynaantekeninge deur twee prominente Afrikaanse skrywers naamlik die digter-literator Lina Spies en die skrywer Jan Rabie. Toevallig skryf Hugo in een van die vele rubrieke in Vers en Kapittel III oor “Lina Spies se gedigte oor die huiskat” (235) wat direk by my soeke na kantlynaantekeninge aansluit. Hugo noem in laasgenoemde rubriek dat hy die ontvanger van ’n aantal boeke uit Lina Spies se boekrak is. Heel toevallig het ’n aantal van Spies se digbundels by my aangeland.

 

 

Lina Spies was een van die eerste vroulike dosente wat in die aanvangsjare van die nuutgestigte Universiteit van Port Elizabeth (1965) aangestel is. Een van die digbundels wat sy in die Departement Afrikaans en Nederlands gedoseer het, was Breyten Breytenbach se Die huis van die Dowe (1967). Naas die vele kantaantekeninge wat sy ter voorbereiding vir haar lesings gemaak het, is daar ook een vroeë weergawe van ’n gedig getiteld “Vir Cornelia” in die bundel neergepen. Hierdie gedig is in 1973 in hersiene formaat in haar tweede bundel Winterhawe opgeneem.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hierdie kantaantekeninge bied ’n interessante insig in die denke en wyse waarop Spies Breytenbach se poësie ontleed. ’n Tweede vonds was ’n eerste uitgawe van D.J. Opperman se Heilige beeste (1945) wat aan Jan Rabie behoort het. Hierdie stukkie Africana het via Rachel Breytenbach, Breyten Breytenbach se suster, in my besit gekom.

 

 

Naas die gedig “Echo en narcissus” (1945:34) skryf Rabie: “D.J. Self?” Gedigte waarby hy aanklank gevind het is met regmerkies aangedui terwyl ander kommentaarloos gelaat is. Hugo se bespreking oor kantlynaantekeninge het my as leser tot verdere ondersoek gestem wat tot die ontdekking van hierdie inligting gelei het. Sy toeganklike skryfstyl is aansteeklik en moedig die leser aan om meer te wil weet omtrent die onderwerp ter sprake.

In die rubriek “Olga Kirsch en die boeremark” (185) merk Hugo op: “Tweedehandse boeke met inskripsies en handtekeninge voorin het my nog altyd gefassineer. Elke boek het ’n unieke verhaal van wie dit gekoop en gelees het.” Hy skryf verder oor die Olga Kirsch-bundel Oorwinteraars in die vreemde (1978) wat hy vir “’n appel en ’n ei” aangekoop het. Dit lei tot ’n ondersoek na die digter se lewe wat onderhoudend uiteengesit en bespreek word. Soortgelyk aan Kirsch skryf Hugo ook oor onder andere “Sheila Cussons: Digter en gedig” (189) en “Lina Spies se gedigte oor die huiskat” (235).

 

 

In een van Spies se bundels vind ek ’n poskaart waarin sy skryf oor die verlies van haar geliefde kat, Snoes. Sy skryf verder oor Emily Dickinson wat ’n groot invloed op haar poësie gehad het. Hugo se rubriek tree as sulks in gesprek met Spies en haar voorliefde vir katte. Hy skryf verder oor haar ambivalensie ten opsigte van die “wreedheid en geweld” [wat] onder die oppervlak van die kat se getemde natuur [skuil].” Ook Elisabeth Eybers word betrek met verwysing na haar bekende gedig “Huiskat”. In vergelyking met Spies, deel Eybers nie dieselfde liefde vir felus catus nie. Hy sluit af met die volgende opmerking: “Geen skrywersbiografie is volledig of betroubaar sonder kennis van wat op hulle boekrakke gestaan het nie.”

Hugo krap diep in die argiewe. Hoeveel Afrikaanse poësielesers is vertroud met die gedigte van die dowe digter Judith Viljoen? Van Viljoen het in 1980 ’n enkele digbundel getiteld Die groot stilte – verse van ’n dowe verskyn wat klaarblyklik in die literêre niet verdwyn het. “Om Ina en Hennie te onthou I & II” stel Hugo op indringende wyse ondersoek na Rousseau se werkswyse wanneer sy gedigte geskryf het. ’n Leser kan bloot verstom staan oor sy kennis van die Afrikaanse digkuns en haar geliefde digters.

 

III

Die resensieafdeling is veral nuttig vir navorsingsdoeleindes aangesien dit soms moeilik is om sekere resensies aanlyn op te spoor aangesien dit agter betaalmure verskuil is. Die meerderheid resensies wat hierin opgeneem is, het redelik onlangs verskyn. Twee gedenklesings naamlik “Die geheime werking van literêre invloed” (306) en “N.P. van Wyk Louw en die geestige vers in Tristia” (331) bied aan die intellektuele leser pitkos vir die fynproewer.

In die geheel is die bundel taalkundig goed versorg en op weldeurdagte wyse saamgestel in terme van die rangskikking van die afdelings en die gepaardgaande tekste hetsy artikel of rubriek. Enkele foute soos “Litnet” (sic) kom voor en by sommige tekste word geen bron (bl. 42, 157, 166, 184, 210 & 268) aan die einde aangedui soos in die res van die versamelbundel nie. Laasgenoemde doen geensins afbreuk aan die bundel as geheel nie en is bloot vir kennisname vir moontlike herdrukke.

Hugo se kennis van en insigte in die Afrikaanse poësie is verbysterend. Oudergewoonte is hierdie versameling pitkos vir die literêre siel. Hugo is ’n gesoute digter, maar ook ’n literator met buitengewone kennis oor die Afrikaanse, Engelse, Nederlandse en Duitse poësie. Vers & Kapittel III is nie noodwendig geskryf vir die paar oorblywende Afrikaanssprekende literatore nie, maar ook vir Jan (én San) Publiek. Die inhoud is toeganklik geskryf en stel die belangstellende leser bloot aan die poëtikale skatkis in Afrikaans en die kruisbestuiwing tussen poësie in ander tale. Dit is prysenswaardig dat Hugo hierdie kennis opteken sodat dit nie vir toekomstige literatore, letterkundestudente en poësieliefhebbers verlore gaan nie. Soortgelyk aan die belangrike navorsing wat die wydbelese wyle J.C. Kannemeyer onderneem en opgeteken het, sal Hugo se Vers & Kapittel(s) as tydkapsules dien vir die behoud van kennis van die Afrikaanse poësie. Hugo merk tereg in sy voorwoord op: “Tussen die vyeblare van ’n boek word dikwels veel onthul.” Vers & Kapittel III is ’n welkome oasis in ’n woesteny van boekraklose huishoudings.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “Habitus” (Kobus Kotzé)

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)
  • Nini Bennett-Moll. Jack Unterweger en die outeursfunksie van ’n reeksmoordenaar
  • Jan Rabie-Rapportprys 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport Herman Binge-filmprys 2026
  • Netwerk24 kykNET Rapport Breyten Breytenbach-prys vir digkuns 2026

Nuutste kommentaar

  1. Helené Coetzee on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)27 September 2026

    Wat 'n aangrypende boek!

  2. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  3. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  4. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  5. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d