Ilse van Staden is in 1972 in Pretoria gebore, maar het grootgeword in die Waterberge in die Limpopoprovinsie. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Pro Arte (Pretoria) en studeer veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy voltooi ook ʼn B.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan UNISA. Haar debuutbundel Watervlerk ontvang die Eugène Marais- en Ingrid Jonker-pryse. Sedertdien publiseer sy nog vier digbundels, ʼn kortverhaalbundel en twee romans. ʼn Versamelbundel van Duitse vertalings van haar poësie word beplan vir 2024. Sy praktiseer tans as veearts in New South Wales, Australië.
Publikasiegeskiedenis: 2003 Watervlerk (Poësie) 2008 Fluisterklip (Poësie) 2009 Die dood is ’n mooi blou blom (Poësie) 2009 Tafel vir twee (Kortverhale) 2016 Waar die oog van stil word (Poësie) 2016 Goeie dood wat saggies byt (Roman) 2022 Palimpses (Roman) 2023 verveertaal (Poësie)
|
dun nerwe
daar is dae
die vygies vermom as sidderende sterre
brommers teen die binneruit
en vet miswurms wat opkrul in kompos
daar is dae
van spitvurke deur erdwurms
halfgevrete voëls op die beddegoed
die volmaan nog naak op die horison
en verleëdae met dun nerwe
wat nietemin deur dorings loop
blomme kyk
sonne plant
oor heinings geselsies aanknoop
dae wat nag-in duur
hoe dún is hul nerwe nie
*
patrone van stilte
waarom mure plekke van stilte is.
waarom stiltes patrone maak op matte.
die skemer duur en duur deur geel glasruite
geriffelde lig in glas gestol
die skemer raak swaar en stil.
die mure onder my hande weef en spin
patrone van matte op die stiltes buite
die lig sterf stadig in toiings van wolke
wolke wat plekke van stilte is.
mure en ruite sluit dig teen die donker
lig is die nag se lê hierbinne
hier op die stiltes van ou tapyte.
© Ilse van Staden. Maart 2010
*
ruigte
ek het die ruigtes nie verlaat nie
die koningsblou skoenlappers flikkerend sien dans
pas de deux en walse
om van die pofadders nie te praat nie
die reën vol skuiwergate na die son
maar roetes onbeplan en wisselend
boonop in ’n onbekende taal
eenhorings wat skuil agter stamme
wit en ruiterloos en bang
ek het die kompas van my voete gevolg
soos dowwe suggesties van rym
maar in strikke en moerasse
die riglyne telkens verloor
teen ou mure van ruïnes gebots
verward, verweer en blind
die braille-geskrifte in rots donker nageboots
ek het die liane deur my ribbes gevleg
’n tapisserie van onwaarskynlikheid
met lussies waaraan lugballonne bo bome dryf
aan toevallige verbygangers ’n waarskuwing
’n brief van my verblyf
en soms het ek op die rand van die ruigte
my vingers uitgesteek na son en lig
en die tinteling van aanraking gevoel
soos hoendervleis teen my ruggraat af
:die tastende snorbaarde van ’n gedig
© Ilse van Staden. Augustus 2009.
*
mooi blou blom
vanoggend bibberende gebede:
somers oninhaalbaar verby
ononderbroke blou soos donderweer
verhef bo daknokke, bo bome van eenderse vere
geen ontkenning van die vlug nie
die dood is ’n hoë C
houtkapper wat sketter
se onverskrokke aria deur die leë lug
’n sonkol gesplits deur spieëls
brokkelende verbygang
die dood is ’n mooi blou blom
van onverwylde woordloosheid
die tong sterf dadelik af
en stilte land soos vlinders
op blou kelkblare
die dood is ’n afdwaalwoord
wat koggel in ’n kelk van kleure
in spieëls onspelbaar verwring
en jy vermoed
verlossing is verloorbaar ver
’n blom lê buite
by die buitedeur verwilderde voëls
uit bome verdwaal
© Ilse van Staden. Mei 2009.
*
Fluisterklip
Die fluisterklip lê vanselfsprekend
ver en alleen die veld in
ver en stil
want die grondonthou is swaar
soos eeue en soos woorde.
Wees stadig en wees stil
met die veldgras teen jou vel,
taalloos soos vroeër
moet geen woord rep nie.
Die fluisterklip roep suutjies soos wind
jou stil haart fluisterend nader.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008