Posts Tagged ‘Hannah Szenes’

Nini Bennett. Die genesende waarde van die woord

Wednesday, November 27th, 2019

 

Dit is dalk nie toeval dat die god Apollo geassosieer word met digkuns en genesing nie. Inteendeel: dié Griekse en Romeinse god word gesien as die historiese landmerk in die ontstaan van poësieterapie, soos ons dit vandag ken. Of, om dr Louis Hoffman, ’n kliniese sielkundige van Colorado, aan te haal: “Before there was psychotherapy, there was poetry, which can be recognized as one of the oldest healing arts that has been utilized across many different cultures throughout history.” In The Natural and Cultural History of Tears verwys Tom Lutz na die heel eerste geskrewe rekords van ’n mens wat huil – wat ook heel waarskynlik die eerste geskrewe elegie vorm, naamlik die Ras Shamra-tekste. Hierdie Kanaänitiese kleitablette, gedateer in die veertiende eeu v.C, is in 1928 opgegrawe in Sirië. Dit het waarskynlik aan die antieke stad, Ungarit behoort en het verlore geraak tydens ’n aardbewing. Op ’n tablet is daar ’n narratiewe gedig oor die dood van Baäl, ’n aardgod wat deur verskeie antieke Midde-Oosterse kulture aanbid is. Volgens Lutz vertel een van die fragmente hoe Baäl se suster, die maagdelike godin Anat, die hartseer nuus aangehoor het en “haarself versadig het aan trane; sy het haar trane soos wyn gedrink.”

Die terapeutiese waarde in die lees en skryf van poësie lê in die verwerking van emosie. Die doel van terapie is onder meer om die pynlike ervaring te besoek, te herleef, afstand te kry daarvan, dit weer te besoek…in die proses om sin te maak daaruit op emosionele, sowel as kognitiewe vlak. Daar is dus parallelle tussen psigoterapie en poësieterapie. ’n Gedig is ’n veilige plek om in die diepste registers van verdriet te delf, sonder die inmenging van kommentaar of rede. En om te skryf is ’n daad van geloof, om Ingrid Jonker aan te haal. Om oor persoonlike trauma te skryf, skep die moontlikheid dat iemand daar buite – ’n leser – mag resoneer met die vers en sal ‘antwoord’ deur empatiese aanvaarding. Effektiewe psigoterapie bied emosionele ontlading. Pasiënte beskryf dikwels hoe “lig” hulle voel na ’n sessie; eienskappe wat inderdaad met dié van poësieterapie korreleer.

In die Chinese taal bestaan die woord “poësie” uit twee letters: die eerste een beteken “woord”, en die tweede een “tempel”. ’n Gedig is met ander woorde ’n woordtempel; of poësie is die gebruik van die sakrale woord. William Wordsworth, op sy beurt, beweer: “Poetry is the spontaneous overflow of powerful feelings; it takes its origin from emotion recollected in tranquility”. Om poësie te skryf, beteken dat jy diep in jouself moet soek na ’n outentieke stem in die strewe na selfrealisering. Ons stem is tog die beliggaming van wie ons is, hetsy gesproke of geskrewe. Ons stemme verskil in terme van ritme, tonale verskeidenheid, variasie, en die idiosinkrasie van assosiasies, beelde of ander somaties-sensoriese metafore. Om psigiatriese medisyne te drink, gee gestalte aan die wetenskap van pyn; en poësie – aan die kuns van pyn. Medisyne se verhouding met pyn is dus ’n verdowende of narkotiese een, terwyl die simbiose tussen poësie en pyn vra vir ekspressie: vir die artikulasie van die pyn. Om te genees beteken etimologies gesproke om heel te maak; om met poësie die geestelike laserasies te heg en die persoon te herenig met die wêreld om hom. En vir diegene wat eensaam of depressief is, bied poësie ‘n sensitiewe deelgenoot om, metafories gesproke, beter in die donker te kan sien. Die Ierse digter, Alice Kinsella vertel van haar belewenis met depressie tydens die skryf van haar bundel, Flower Press: “Writing these poems became a way for me to simultaneously remember and let go. I could honour the past while giving myself permission to heal. Perhaps it’s the same for many poets who write after a loss. Writing allows us to feel the consolation of memory, without feeling haunted.”

Ten spyte van individuele verskille, is ons almal uiteindelik uitgelewer aan dieselfde lot – ons is gewikkel in ’n ewige dialoog met siekte, dood en sterfgang. En ons moet konformeer; ons kan nie pal loop en kla oor die laste van die lewe nie. Poësie, egter, is die volmaakte medium om uitdrukking te gee ons pyn en verlies – woorde gelei én dit genees.

Die gewilde en hoog aangeskrewe AVBOB Poësieprojek is ’n meertalige webtuiste en platform waar digters en lesers verenig rondom die genesende krag van poësie. Besoek www.avbobpoetry.co.za as jy nog nie ’n profiel geregistreer het of gedigte ingestuur het nie. Die kompetisie sluit 30 November om middernag.

Gemeenskappe wat treur

Na die terreuraanval van 11 September 2001 het poësie van oraloor opgeskiet. In ’n artikel in die New York Times is dié verskynsel gedokumenteer: “In the weeks since the terrorist attacks, people have been consoling themselves—and one another—with poetry in an almost unprecedented way … Improvised memorials often conceived around poems sprang up all over the city, in store windows, at bus stops, in Washington Square Park, Brooklyn Heights, and elsewhere…” Gemeenskappe wat treur, begin poësie te skryf (en te lees). In ’n vorige blog beskryf ek ook die webtuistes wat oornag ontstaan het ná die aardbewing van 11 Maart 2011 in Japan (https://versindaba.co.za/2018/08/19/nini-bennett-voetstoots/). Slagoffers en oorlewendes is na ’n sosiale katastrofe stomgeslaan, letterlik en figuurlik, en reik uit na poësie om die onmoontlike, die onuitspreeklike, te probeer verwoord of te verstaan. In sommige kulture in Korea en Indië huil professionele roubeklaers by sommige oorledenes (gewoonlik mense van statuur) se begrafnisse.

Ongeag die onmoontlikheid, die pyn of angs van ’n situasie: digters het nog altyd dwarsdeur trauma geskryf. Wilfred Owen, ’n bekende Engelse digter het tot met sy dood op die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog sy verse in sy dagboek gepen. Hannah Szenes het op soortgelyke wyse haar gedigte vir haar ma bewaar – nadat sy gevang, gemartel en uiteindelik tereggestel is as Joodse SOE-agent. Paul Celan het sy gedigte tydens WO II in ’n Roemeense oorlogsghetto geskryf. Ook gevangenes skryf poësie as deel van hulle rehabilitasieprogramme. Terminaalsiekes, en mense wat palliatiewe sorg ontvang, lees poësie as eufemisme vir hulle lyding – en dit is iets wat doulas, hulle sterwensbegeleiers, goed verstaan; daar bestaan selfs webtuistes van hierdie begeleiers se keuse van poësie. Die meeste doulas is vroulik. Dit is vroue wat tradisioneel die liggame van geliefdes uitgelê, versorg, of gebalsem het; en dit is vroue wat blomme op grafte sit. Dit is vroedvroue wat kinders help om gebore te word, en dit is vroue wat help om die laaste uitvaart of oorgang te versag. Die ewige begeleiers van lewe en dood. Die onderstaande gedig van Arseny Tarkovsky is vir my ’n sublieme vergestalting van hierdie efemere aard van dinge:

 

And this I dreamt, and this I dream,

And some time this I will dream again,

And all will be repeated, all be re-embodied,

You will dream everything I have seen in dream.

 

To one side from ourselves, to one side from the world

Wave follows wave to break on the shore,

On each wave is a star, a person, a bird,

Dreams, reality, death—on wave after wave.

 

No need for a date: I was, I am, and I will be,

Life is a wonder of wonders, and to wonder

I dedicate myself, on my knees, like an orphan,

Alone—among mirrors—fenced in by reflections:

Cities and seas, iridescent, intensified.

A mother in tears takes a child on her lap.

 

Soos uit die Russies vertaal deur Virginia Rounding.

 

Die helende metafoor

Linguiste, sielkundiges, filosowe, skrywers en literêre kritici se bemoeienis met die metafoor is welbekend. In sy essay, The Poet, verwys Ralph Waldo Emerson na die ontwikkeling van taal as “fossielpoësie”. Idiomatiese taalgebruik en clichés is voorbeelde hiervan. Wat vandag sal deurgaan as ’n futlose segging, was eens op ’n tyd ’n vars en skerpsinnige metafoor. Afrikaanse voorbeelde is waarskynlik uitdrukkings soos “die uurglas loop leeg”, of “elke donker wolk het ’n silwer randjie”. Hierdie trope en beeldgebruik (die fossiellae van die taal) herinner ons aan die eens lewendige poëtiese oorsprong van so segging.  En dit is hoe die mens sin maak uit nuwe verskynsels – hy vergelyk dit met die bekende in sy kultuur, omgewing en identiteit. Volgens Aristoteles lê die waarmerk van goeie digterskap in die gebruik en aanwending van die metafoor: “But the greatest thing by far is to be a master of metaphor. It is the one thing that cannot be learnt from others; and it is also a sign of genius, since a good metaphor implies an intuitive perception of the similarity in dissimilars.” Tog is metafore nie beperk tot die argitektuur van taal nie; dit is intrinsiek deel van die mens se verbeelding en denke – en dis ’n verlengstuk van die bewussyn. ’n Metafoor is die knoop tussen woord en beeld; tussen taal en sensoriese ervarings; en tussen taal en narratiewe. ’n Metafoor noop ’n digter, skrywer of leser tot figuurlike rollespel; om jouself op metaforiese wyse te verplaas in iemand anders se skoene en die sensoriese en emosionele belewenis van daardie persoon te deel. Met analogisering soos hierdie loop identifikasie en empatie hand aan hand.

’n Metafoor is ook die die draer van ’n ‘storie’, byvoorbeeld in Richard Dawkings se River Out of Eden (1995) word die konseptuele metafoor van “the river of genes” gebruik. Die rivier kan vertak met verloop van tyd; óf hierdie vertakkings kan uitmekaar dryf om nuwe spesies te vorm; óf die takke kan opdroog (uitsterf); óf die takke kan herhaaldelik verdeel en bly eskaleer in die 30 miljoen takke, soos ons dit vandag ken. Wetenskaplikes maak mildelik gebruik van uitgebreide metafore om ’n konsep te verduidelik. Ook die nimlike wetenskaplike, Carl Sagan, dwing bewondering af met die gebruik van sy besonder poëtiese taal.

Narratiewe medisyne

“One sheds one’s sicknesses in books,” het D.H. Lawrence op ’n keer gesê. Tog is biblioterapie al vir eeue met ons, en is daar heelwat professionele biblioterapeute in lande soos die VSA en Kanada. In Dante se tyd is boeke in apteekwinkels verkoop – letterkunde is met ander woorde gesien as ‘medisyne’: leesstof met farmaseutiese eienskappe. “Prose not Prozac”, lui die voorskrif. Of: “Literature not lithium”, is bekende kwinkslae onder die moderne voorstanders van biblioterapie. Volgens Samuel Crothers, die man wat die konsep biblioterapie gemunt het, dui die begrip op woorde wat emosies heel; die gebruik van lektuur om mense te help met emosionele, sielkundige of sosiale probleme. Biblioterapie het sy ontstaan te danke aan die antieke beskawings van 300 v.C se biblioteke, waar inskripsies by die ingang van die geboue beloof het dat die lees van boeke genesing vir die siel inhou. Volgens Crothers bestaan biblioterapie uit drie dele: identifikasie, katarsis en insig. Die veronderstelling is dat ’n leser (sal) identifiseer met sekere aspekte van ’n verhaal, en na ’n katarsis verligting sal ervaar via die gedeelde emosies met die karakters in die verhaal; en uiteindelik tot nuwe insigte sal kom in die hantering van soortgelyke persoonlike emosies. Alhoewel biblioterapie nie altyd binne formele verband gebruik word nie, lees mense om te genees. Soldate wat aan PTSS ly, kry dikwels ’n “voorskrif” van romans of ander verhale om hulle te help met die verwerking van trauma – die transformerende krag van narratiewe terapie.

 

Verwysings

www.avbobpoetry.co.za

https://aeon.co/essays/metaphors-grow-the-mind-and-feed-the-soul-dont-lose-them?fbclid=IwAR1eHBqbfbVyGB-p8U_9Y5NjHxzUe7-sSq9tJql3lTlZmHwapFM6aTsWUb4

https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-empowerment-diary/201904/how-poetry-can-heal?fbclid=IwAR1sCNS2Nm-wxjv6vmo1k9RwmLcXYKN4x6PIYOt1io78Uuq4JIeWDn2eWKw

https://www.goodtherapy.org/blog/can-poem-be-healing-writing-poetry-through-pain-0131185?fbclid=IwAR11lXPbybqjG8mI-ONp0vKDELULyclepwqWnxxZ7oWEZ0Kc1JncsgodUQs

https://www.theodysseyonline.com/why-poetry-heals?fbclid=IwAR0GiUINlYQBp3-MOsRTcQSck6qXqJ23g8yJjPpbImwt6JDJEvNfPKrtKsc

https://www.theguardian.com/global/2016/jun/18/poetry-can-heal-it-helped-me-through-depression?fbclid=IwAR33UEXT9z48tczEK14fbObiIEqItU3dvTvUoxDu2IpJzZELKA8Ha5gcqlo

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

.