Posts Tagged ‘Oxford’

Marcelle Olivier. Gedagtes uit KleinBrittanje: Dit wat ook gemis word

Saturday, February 16th, 2013
Sonsondergangreën by Wonderwerkgrot, 7 Februarie 2013, Noordkaap. ©m.o.
 
 

Heil Die Leser! Waarskuwing! Hiermee volg ‘n oorgeromantiseerde stuk nonsens en ‘n handvol eie verse. Lees op eie risiko.

 

at the museum of natural history

winter, oxford

 

at the museum of natural history

i might use my winters well,

i might have my morning windows:

the light, the cold, the slight

 

remains of outside chill slipped

in on entry; the yellow more-quiet.

 

by five the afternoon has darkened

like a cicatrice in young skin,

and cabinets and tools, minerals

and bones, bees, writing, and i

 

have between the sky and the floor

a sheet of clear horizon to keep in

 

the mutter of feet, the flutter

of thought, the clutter of meat.

on the butterfly watch the room

empties, and my season creeps east

 

– sand shifting beneath

the bodies of shells – towards

 

the doors. there behind the listless

wood the eyeless sleepless dwell.

 

Onlangs, en gedurig, mis ek Oxford. Winter-Oxford. En, somer-Oxford: die brosgeel steenwerk St Giles langs, immergroen kwads; my omber lessenaar bó in die Radcliffe Camera waar ek kon uitkyk oor St Mary’s kerk en nooit werklik enige werk gedoen kon kry nie, en my hout-hout hoeklessenaar in die Rhodesbiblioteek met sy Zimbabwe voëls en boekrakkerige uitsig waar ek wel kon skryf; ‘n alewig blounat Port Meadow en ‘n modderige, koei-bedrupte stappie Binseykerk en Wythamwoud en Trout toe; sandgeel bokkies rondom Addison’s Walk, die gruisgrys golwing van platbodemroei op ‘n te-diep Isis; sluip-pers nagte in die botaniese tuin, donkerkollege visioene op Dead Man’s Walk; glinsterende reënaand-fietsry vanaf High Street na Iffley Road vir waterpolo-oefening, silwer vroeg-stil kortpadkies deur New College Lane; wit-dra krieket in die Universiteitspark, ‘n Keble-kleurige kat in ‘n kollege-lodge, die khaki waters van die kanaal daar digby Lucy’s Ironworks in Jerigo; die roesbruin deur wat lei na die Pitt Rivers Museum met sy toeoog-langwimper verminiatuurde mense en die namiddaglig wat die stil, antieke dakglas in die Natuurhistoriese Museum terug reflekteer; die spook van Morse se motorkar wat langs die Holywell Musiekkamers verbyry, die posbusrooi Oxford Tube-bus wat weereens die ingange na Broad en Cornmarket Streets blokkeer, en ag, die hele plek. Sommer die hele, hele, bleddie plek.

Natuurlik, Cambridge ook: platsneeu, platsneeu; ‘n witoorwater-Cam, leë, takagtige bome, en wind en wind en wind; kierielopers wat veld-in stap deur breek-af grasse en veryste modderpoeletjies so net duskant donkerwordtyd om drie-uur in die middag; kollege-vensters wat dromerig brand-idees van hulle glimgeelvure uitdeel straatkant toe. Ek mis die huistoeloop oor Jesus Green en Midsummer Common wanneer die ligte soos merkers uit die mis opduik, die dramaproduksie-plakkate rondom Great St Mary’s en die oorgroeide begraafplaasspeeltuin daar agter Little St Mary’s. Ek mis my begaafde studente met hulle slim idees wat my laat hakkel agter ‘n antwoord aan, en my minder-begaafde studente met hulle dom idees wat my laat hakkel agter ‘n beter voorbeeld aan sodat agteros se verklipte bene ook in die argeologiese kraal kan kom rus. Ek mis die gevoel van biblioteek instap en weet ek sal iets vind wat ek nooit gesoek het en daarna nooit sonder kan klaarkom nie. Ek mis selfs die fotokopieermasjien in die hoofargief wat ‘n fortuin gevra het om skewe fotostate in spikkelswartwit op power pampier te maak, die onbekombare fietsparkering by die treinstasie, en die nors kelner by my gunsteling restourant; veral miskien die nors kelner by my gunstelinge restourant. Ek mis selfs die reën, reën, reën.

 

thursday night on the corner of grange road

cambridge

 

the streets here are slippery with leaves.

a cyclist struggles to stop, skidding

the bicycle carefully across the pavement

until the momentum ceases. a pedestrian

glares across his shoulder as he sidesteps

and says you shouldn’t cycle on the pavement,

you know. it’s bloody dangerous. especially

in this weather. especially at night. and where

are your fucking lights, asshole!

  

i tip my umbrella at a forty-degree angle to get rid

of some water and watch the cyclist put up

a middle finger in the direction

of the abusive accuser: it stands out tall

in the flush of fluorescence from the street lamp,

a fat little lightning conductor sucking at the sky.

but the young man with the civic sensibilities has stalked off

towards the next cup of light without looking back

again. bloody cyclists fucking morons asshole.

 

it rains harder and there is a new sound – i think

i can hear the dull and soggy creak of leaves

shatter slightly under the weight of each hit.

i think i can hear the drops enter the river, driven

deep into the mystery-green flesh of the cam.

and moss grow. i think i can hear moss grow.

 

on the periphery of all this the cyclist has dismounted,

and is now pushing the bicycle warily across a shiny

film of winter debris towards the corner of grange road.

 

Nou, hier in die hoëveld met sy horisonwye donderstorms maar vreesaanjaende stadsdramas, wonder ek of dit ooit werklikwaar-waar was dat ek kon uitstap by my voordeur na ‘n Joan Baez-konsert toe?; na ‘n Jane Goodall-lesing toe, ‘n Franz Marc-uitstalling, ‘n Margaret Drabble-voorlesing. So maklik, so normaal, soos om na niks toe stap nie: net soos ‘n wandel om ‘n botteltjie sjampoe en ‘n sakkie aartappels te gaan koop, langs ‘n diepasemhaal-rivier verby en deur ‘n vrek-ou klippiestraat waar jongmense oor ‘n 15de-eeuse muur gegraffiti het dat ‘Piff rulz’; miskien is dit ‘n Banksy – ek weet nie. Jy sien, dit word alles iets. Dít word erg gemis. Maar ek weet ook ek is besig om te verromantiseer. Ek wil nie dink aan die swak skole en ongeletterde tieners en drankmisbruik en konserwatiewe regerings nie. Ek wil nie dink aan die duur treine en onmoontlike huislenings en die depressiewe grys lug wat alles en almal soos ‘n skurwe, muwwe kombers toevou nie. Ek wil nie dink aan mense wat iemande is net omdat hulle spilpuntsentraal gebore was nie, net omdat die wêreld om hulle draai nie. Ek wil nie dink aan húlle kinders nie. My vel is te dun daarvoor.

 

international space station

 

footage from the iss shows how thin

our shell is, shows the bright film

 

of aurora australis contract,

expand: a phosphorescent

 

oil spill in space. time has no

means to know itself absent

 

from air and if i close my eyes

to the rush of astronaut-minutes:

 

animal, vegetable, mineral.

 

Laasweek ry ek vir vyf dae alleen deur die Noordkaap. Dier, plant, mineraal. Almal vandaar. Ek ry deur ou gebeure en sien ou pylpunte en ouer handbyle wat die landskap vet lê soos betekenisvolle skape. Dis meer as my agtergrond, meer as my tyd in biblioteke en kolleges en sneeu. Dis eerlik hier, wreed, en ryk.

Ek gaan loer by Wonderwerkgrot na die geverfde wit volstruise wat die mure vol hardloop, en verder donkergrot-in na die miljoenjaaroue ampermens-horisonne waaraan kollegas opgrawe en wat so diep lê dat die Eerste Vuur wat daar gemaak is skoon vergeet het om asem te haal. Vroegoggend, nog voor die donker behoorlik vlam gevat het, volg ek die kaart Taung toe om die geboorteplek van ‘n skedeltjie te gaan naspeur, en op ‘n verlate plaaspad Reivilo toe (dis Olivier omgekeerd, vir diegene wat sien hoe dinge in die heelal staan), letterlik net ná sonsopkoms, gooi ek my 4×4 om na ‘n intieme gesprek tussen my wiele en die middelmannetjiegruis. Die kar en ek rol so saam deur die veldsypaadjie, stilte en hartklop so saam deur die lug – ‘n lang tyd, amper so lank soos die osoon en die see al bestaan –  en ons eindig na ‘n triptiek van akrobatiese outomotoriese trieks met ons neuse in die rigting waaruit ons gekom het, met die bestuurdersy van die kar wat die grond soen. Die son is skaars ‘n paar minute vol bo die horison.

Prakties, eerstens, skakel ek die enjin af. My lewe het nie voor my oë geflits nie, en ek voel net effens vies oor die ongerief van die hele affêre. Ek vat-vat, buig-buig, knikkopknik en vind myself heel, ontkoppel my sitplekgordel – die eerbare, goeie, hartstogtelik onselfsugtige sitplekgordel! – en soek ‘n foon, ‘n bril, ‘n beursie. Die seën van ‘n ongebreekte bril is iets wat net ons blindes kan verstaan. Ek bel die AA terwyl ek so onderstebo lê, sukkel met my sein, en probeer vergeefs die swaar passasiersdeur bó my opstoot om uit te klim; sy venster wil ook nie oop nie, totdat ek onthou dat ek eers die kar moet aanskakel om oop te kan maak. Aan, oop, af – en ek klouter deur die passasiersvenster uit. Kaalvoet staan ek en kyk na die opgefrommelde en versplinterde stuk yster en glas terwyl ek deur die swak sein en tagtig keer se heen-en-weer-bel probeer verduidelik waar ek is, wie ek is, wie ek dink húlle is. Nee, ek bloei nie, ek’s okei, geen mense-ambulans benodig nie, net ene vir my arme motorkar.

Ek is vér weg van iewers, dié weet ek. Ek stap terug op die grondpad, kyk na my wielspore; ek is rustig. Ek luister die naamlose vreemdgeluid-voëltjies wat bossie-in bossie-uit vlieg, na die krieke wat vergeet het die môrestond het stilswye in die mond. Ek luister na die sang van die grensdrade teen die ligte wind oral om my, na die ritsels in die graspolle. Ek beloer die slangspoortjie wat so ver met die reguit pad afskuifel dat ek uiteindelik moet omdraai en terug loop doer-daar kar toe, en soek steenwerktuie wat dalk deur motorbande uitgeskop is – hoe interessant sou dit nie wees as ‘n Ascheulse handbyl my ondergang was nie – maar vind niks in die gruis nie. Ook geen koeie of skape of donkies nie te siene nie; net klein op die drumpel van die horison staan ‘n windpomp. Maar dis ‘n eerlike, mooi, stil plek vir Oliviertjie se eerste motorongeluk ooit.

Vir ‘n uur en half of wat is dit net ek en die pad en die singende drade, en dit is soos ek dink paradys moet wees. Oop, ver, diep. En tussen-in staar ons na mekaar, ek en die motorkar – ek verstaan nie mooi nie, maar alles is kalm. Later kom ‘n Landy verby met ‘n plaasboer van die Kalahari agter die stuur; ons steek hand uit: nog ‘n Olivier ook, né. Hy en sy seunOlivier en sy drie werkers stoot my ryding vir my regop en ek is dankbaar; my plakkies en piesang word uit die kar gevis en aan my besorg. Ek eet my merkwaardig-onbeseerde piesang; ek bestudeer die wrak. ‘n Man uit Kuruman arriveer tien minute later en hyg die 4×4 agterop sy insleepwa en vir ‘n seer uur ry ek saam met hom terug deur ‘n bekende landskap, maar een wat onder ‘n warm midoggendson begin sweet en anders lyk; my klein tassie, my skootrekenaar, ‘n boks vol goeters wat uit my kar uit kom, alles op my skoot. ‘n Barmhartige en proaktiewe vrou met ‘n  waterboor en tagtig katte ontferm haar oor my in die dorp en ry my polisie toe, dokter toe, motel toe; ek kom nooit naby die oog van Kuruman nie, maar ek het ‘n ongeluksvorm en -nommer geteken deur ‘n Konstabel White wat vir drie maande lank in ‘n koma was nadat hy sy motorkar naby Keimoes gerol het, weer moes leer lees en skryf, en steeds met sy arm in slinger rondloop. Ek verstaan nie mooi nie.

In die ironies-genaamde Eldorado net buitekant die dorp, en danksy die gawe motel-eienaar se vredeliewende uitkyk op my situasie, lê ek in ‘n gratis, witgelakende bed met die lugreëling aan, en wag vir die Ander Helfte om van Gaborone af te ry om my te haal. Blinkvosperd ens. Maar vér. Ek stuur facebook-foto’tjies van die skedonk in die gras aan die wêreld, eintlik te bang om aan die slaap te raak vir ingeval ek my kop harder gestamp het as wat ek dink: ek weet mos nie eintlik of ek dalk my bewussyn verloor het nie – die situasie het hom nie ontleen aan onafhanklike verifikasie nie. So ek bly wakker, vir die wis en die onwis. Dieselfde rede hoekom ek ‘n sitplekgordel op ‘n wye, leë grondpad gedra het – vir die wis en die onwis. Later hoor ek daardie einste wye, leë grondpad is bekend vir sy nukke, en dat selfs die boere wat hom goed ken hulle bakkies daar gly. “Daar is iets aan daardie pad,” laat weet ‘n vriend uit Kimberley uit. Iets.

Iets. Iets verlore, ook. My skarabee-amulet het van my silwer halssnoertjie afgeval gedurende die rol, en in die veld agtergebly. Die turkoois-dingetjie kom uit Kaïro uit, ‘n geskenk, jare gelede al, en ek was lief vir sy klein gewig waar hy so tussen my sleutelbene gehang het, lief om te dink oor sy bestaan. Die skarabee-miskruier is Khepri, die Egiptiese god van die vroegoggendson, van sonsopkoms – hulle sê hy rol die son uit vir Ra. En Khepri is ook die god van hergeboortes: perfek-gemaakte miskruiertjies word gebore, uit die reste wat rondgerol word, asof hulle reeds volledig en volwasse in miniatuur bestaan, dus die  ou woord Kheper – to come into being. Kheper. Kewer. My blou kewertjie wat in die uitrol van ‘n nuwe son my ook laat uitkruip het uit die reste sonder skade, volledig mens. Godebeskerming. Sien: Kewer het losgewikkel van die kettinkie om my nek, die sand onder sy turkooissteenbene gevoel en hulle gerek, en sy klipvlerkies oopgelig, en lewendig synde ons die veld ingegogga om – ver weg van die Nyl, in ‘n woestyn van ‘n ander aard – sy ware jare uit te leef. Dis hoe die heelal staan, tog nie? Dier, plant, mineraal.

 

dwyka carboniferous

landscape, south africa

 

on the fringe of the oldest floor

there are young rocks: recent thanks

for life amid the flat dichotomy

 

that passes as food for sheep.

yeast in the ridges keeps the sunset

alive; some storms bring with

 

hot cheap rain, and false hope.

to share something here – stone,

love – is impractical and cruel.

 

Nou, terug uit die Noordkaap, terug in die nooitdonker van aande hier, terug in ‘n stad gewortel in die droom van goudrykgenoeg wees om weer platteland te word, verstaan ek nog steeds nie mooi nie. Alles gaan voort, verwyderd van die agterstevoor-Oliviers so saamgespil op een klein stukkie aarde, turkoois skarabee-kewers, ‘n foto van ‘n sonsopkoms geneem oomblikke voor die uitrol van die dag; verwyderd van dit wat ek mis op ‘n ander kontinent, ys, en my grootmenslewe daar skaars ‘n tiener oud. Dertien jaar in Groot Brittanje, vyf dae op binnelandse plaaspaaie, en wat leer mens in daardie tyd werklik? Verandering is altyd goed, sê almal: verwydering vir die emigrant, verandering vir die immigrant.

Ek weet nie of ek verder hieraan moet opgrawe nie, weet nie wat die klippies verder kan vertel en in watter taal nie. Ek was mos nou al in Eldorado en glo my, die stories wat jy hoor is nie altyd waar nie. In praktyk, nou, hier, effe seer, effe blou, maar baie heel, mis ek werklik die grensdrade wat vir my sing en die fyn geskarrel van ‘n goggatjie in die gras, die alleenwees van nuutwees; die iets.

 

fooling

 

a clearing came to me

on a dirt road, windmills far

from anything but sheep

 

and aloes: the mistrust of dust

giving the living site away.

 

i stopped the bakkie and went

at it alone. the ground was lame

from succulents and the sort

 

of hardened, flesh-inside

grasses you can find here,

 

but there was skeleton

of tortoise, and a depression

engaged in silting when wet –

 

like in teeth, it is difficult to believe

in not very long ago, in without.

 

i found: debris, mostly. hardly

a handful of broken segments, no

trapezes; a few hours’ worth

 

of flakes: jasper, silcrete, bad quartz

but good chert, and foreign.

 

*

 

i thought: i would be willing

to eat elephant to have you with me

here in the open. i thought:

 

i would show you ochre. i know

you were danced up

 

by a woman with one foot;

my memory of you is a humming

one, full of children angry

 

at the killing of the single goat

– exchanged for a bundle

 

of freshly-dried sinew, a quiver

beaded white with ostrich eggshell,

and a springbuck-skin knapsack

 

worn by /kaggen himself

– they could have owned:

 

hunger for meat is perilous

to culture, as foolishly detrimental

as puberty is to joy. this

 

is how i think of you. this

is how my heart shows.

 

*

 

losing track of time,

and without shade, i grew

hot. the road vibrated

 

– a convoy of spirit antelope,

a distant grazing –

 

and i saw: a red-mouthed

beetle eat the head of a locust

culled by drift-sand;

 

i saw: a shrug of grey hills. no-one

saw me making sense from you –

 

it is difficult to believe

in not very long ago, in without.

it is difficult to not invest.

 

and i asked the honey-drinkers:

they climb into trees for it, for fooling;

 

i asked the fat-eaters. for people

do not come here. i only came by accident.

they said: forget the stones,

 

just drive away; there is always,

always water to the west.

 

 

Sonsopkoms naby Reivilo, 8 Februarie 2013, Noordkaap. ©m.o.

Marcelle Olivier. Gode en godeskemerings

Thursday, June 3rd, 2010

Nuus uit Brittanje: Gode en godeskemerings

 

‘The shades work like the wind, invisibly.

And they have always been our companions,

dressed in the flesh of the children they reared,

[…]

not such spirits that they can’t be scolded

not such mortals that they can be profaned’

 

 

Bostaande reëls kom uit Chris Mann se bekende gedig ‘In praise of the Shades’. Iemand het my onlangs gevra oor gode in Afrika, en dié vraag het toe aan ‘n lang gesprek oor mites en mitiese karakters geboorte gegee. Per toeval het ek weer kans gehad om Mann se gedig te lees binne die konteks van my gedagtes oor hierdie gesprek, nadat ek gaan registreer het vir hierdie jaar se eleksie vir Oxford University Professor of Poetry.

Oxford Universiteit

Oxford Universiteit

Die pos is gesog, en lesers sal dalk laasjaar se storie onthou, toe Ruth Padel die eleksie gewen het nadat Derek Walcott onttrek het as gevolg van ‘n anonieme veldtog teen sy aanstelling. Briewe en fotokopieë van ekstrakte uit ‘n boek wat handel oor die aard van Walcott se verhoudings met van sy vrouestudente is aan studente, lektore en College-hoofde gestuur (elke student en dosent by die Universiteit het ‘n eie posbussie, en dit is redelik maklik om te sorg dat almal wat jy graag wil bereik jou stukkie papier in die hande sal kry). Padel het kort voor die begin van die akademiese jaar bedank (en tegnies dus nooit die eerste vrou geword om die amp te beklee nie) nadat sy verantwoordelikheid aanvaar het dat van haar epos-kommentaar teenoor joernaliste van Oxford Universiteit veroorsaak het dat iemand (nie Padel self nie) die veldtog begin het.

Dit was ‘n nasionale skandaal aan hierdie kant, en digters, akademici en joernaliste het vir weke lank in die koerante en op die radio daaroor gedebatteer en, as ons dan juis oor gode wil praat, het hierdie episode Oxford ‘n groot tree nader aan ‘n godeskemering gebring. Maak nie saak hoe positief mens voel oor die intellektuele kwaliteit of ryk geskiedenis van Cambridge en Oxford nie, dié universiteite bly plekke van diep-gesetelde en soms baie eng persepsies en tradisies wat hulle reputasie binne Brittanje self, erg aantas. In Suid-Afrika, seker amper oral anders in die wêreld, hoor mens nie van al die argumente teen die voortbestaan van hierdie twee Universiteite in hulle huidige gewaad nie. Die feit dat hierdie skandaal eintlik by enige ander universiteit kon gebeur het, het nie saak gemaak vir dié wat gevoel het dat dit aanduidend is van die bekrompe, elitistiese, en insestueuse kultuur wat hier gekweek word nie. Dus het die gode net ‘n klein bietjie nader aarde toe geval. Nie te ver nie, natuurlik, maar nog steeds – dit was nie goeie PR nie. In elk geval, ‘n diskussie van die goeie en slegte kante van Oxford en Cambridge is eintlik ‘n storie vir ‘n ander blog. So, kom ons keer terug na die digterlike gode.

Die pos van Oxford Professor vir die Digkuns het toe vir ‘n jaar bly lê – stof en sulke dinge – en begin van laasmaand is die nuwe nominasies vir die vyf-jaar ampstermyn bekend gemaak. Alle lede van die Konvokasie mag stem, maar tot en met vanjaar moes jy dit in persoon doen by die Universiteit se Eksamenskole; nou kan ek my kruisie in die virtuele ruimte trek. Ek het gaan registreer vir my aanlyn-stembriefie, en toe gaan loer presies wie die kandidate is. En daar is sommer ‘n hele spul meer as die gewone drie of vyf genomineerdes. Omdat beide ek en hy by Keble College studeer het, het ek geweet dat Geoffrey Hill op die lysie is (hy blyk verreweg die vernaamste – en soos dit op die oomblik lyk, mees-populêre – kandidaat te wees), maar groot was my vreugde toe ek ons eie Chris Mann ook op die webwerf raakloop. Hy was ‘n Oxford Rhodes Scholar, en ek dink nogal daar is iets te sê vir sy aktiewe, en baie persoonlike, belangstelling in Suid-Afrikaanse kultuur en politiek wat ‘n belangrike rol sou kon speel in hoe ons literatuur in die buiteland waargeneem word. Die feit dat Walcott ‘n Karibiese agtergrond met hom sou saambring was een van sy groot verkoopspunte voordat hy onttrek het, en ek sou hoop dat dieselfde argument – ‘n literêre geskiedenis wat gedeeltelik en soms met moeite op Brittanje se koloniale invloed rus – dalk ook sou kon geld vir Mann. Jy kan sy verklaring hier gaan lees, terwyl jy terselfdertyd asseblief styf duimvashou.

Chris Mann

Chris Mann

 

 

Ander nuus is dat die Hay Literêre Fees op die oomblik in volle swang is – ‘n week en ‘n half van praatjies en prentjies deur allerlei gode uit die ryke van die kunste, die politiek, en die akademie. Soos elke jaar is die fees hierdie jaar naby aan uitverkoop, selfs al weet feesgangers die Walliese reën gaan weereens almal se skoene laat muf trek, die anti-terrorisme polisie gaan jou kaas-en-tamatie toebroodjie uitmekaar skiet as jy dit by die tent probeer insmokkel waar Pervez Musharraf sy onderhoud het, en ten minste een persoon gaan aangekla word van iets verskrikliks omdat hy ‘n foto van sy twee-jarige kind geneem het waar sy kaal in ‘n waterplas staan en roomys eet. Selfs al weet feesgangers dit gaan hulle meer kos as ‘n tweeweke lange vakansie in ‘n vyfster hotel in Kreta. Want tussendeur die reën en die verkeersknope is daar die kans om langs Stephen Fry in die tou vir bier te staan, om vir Nick Clegg direk te vra of hy verkies om aan die linkerkant of die regterkant van sy en David Cameron se huweliksbed te slaap (sien laasweek se blog), om ‘n verflenterd-geleesde, geliefde kopie van ‘Oranges are not the only fruit’ deur Jeanette Winterson te laat teken, en om ‘n vetkryt met Quentin Blake te deel. Om ‘n tent langs iemand op te slaan wat uit die goedheid van sy hart vir jou ‘n ekstra slaapsak sal leen, omdat jy joune aan ‘n Bob Dylan-tipe karakter met ‘n vergeelde kitaar oor sy skouer verkwansel het in ruil vir ‘n kaartjie om Nadine Gordimer te hoor praat oor die boekwaarde van woorde. Orraait, ek moet seker toegee dat die slaapsakstorie nou nie met my gebeur het nie, maar dit kon wel met iemand daar gebeur het. Die punt is: Gode, van watter aard en in watter gedaante ook al, loop hier tussen ons.

Ongeveer 80 000 gode sak in Meimaand toe op die dorpie van Hay-on-Wye met sy 1450 inwoners (Hay spog met een boekwinkel vir elke 36 van daardie 1450!) – slegs omrede daar oor boeke en skrywers gepraat word. Moet ook nie dink Hay is so populêr omdat dit die enigste groot literêre fees nie; daar is menigte ander okkasies vir boekerige dinge, insluitende die Latitude Festival. Laasgenoemde het ook musiek en drama, maar daar is aparte verhoë vir digkuns, prosa én nie-fiksie. Hier, soos met Hay, is mense ook bereid om in die modder te kampeer en geduldig in ‘n lang tou voor ‘n ry blou latrines te wag asof dit Glastonbury of Woodstock is, solank hulle ‘n kans het om Kazuo Ishiguro te hoor voorlees en enige een van die twee David Mitchell’s se hand te kan skud. En, soos met Hay, verdwyn die kaartjies so vinnig soos tradisionele Victoria sponskoek by ‘n Engelse gehuggie se kerkbazaar sodra die program gepubliseer word.

'n Meisie lees in die reën by Hay-on-Wye

'n Meisie lees in die reën by Hay-on-Wye

Ek is lief vir die feit dat mense hier in Brittanje dit so entoesiasties normaal dink om te lees. Elke televisiekanaal het ‘n joernalis wat vir tien dae permanent in Hay gestasioneer is, op soek na daardie eerste scoop van ‘n hittige argument tussen twee Groot Digterlike Name oor die realistiese toekoms van die haiku-vorm in moderne rap-musiek, en die BBC Radio saai daagliks ‘n paar hoogtepunte uit vir die van ons wat by die huis sit en tee drink. Die groot dagblaaie publiseer elke dag ‘n opsomming van die vorige 24 uur se gebeure, komplimenteer fees-sessies met addisionele koerant-onderhoude, en sit audio-skakels op die web. Selfs die ponie-koerante maak spasie daarvoor – nou dalk nie op bladsy drie nie (daar waar ‘n godin van ‘n totale ander aard haar verskyning maak), en dalk nie noodwendig met ‘n fokus op hogere intellektualisme nie, tog ‘n beriggie of twee sal daar altyd wees. Maar hierdie jaar was daar ook ‘n paar meer ernstige stories, want terwyl Ian McEwan by Hay gelamenteer het oor die feit dat niemand anders boeke skryf oor klimaatsverandering nie, was die Sweedse skrywer Henning Mankell (wat veronderstel was om te praat oor sy beminde maar droewe gods-tipe karakter Wallander – onlangs weer deur Kenneth Branagh vertolk) in ‘n effense meer dringende posisie. Dit nadat hy as deel van die flotilla wat hulpvoorraad aan Gaza probeer bring het deur die Israeli goewerment in hegtenis geneem is. Godeskemerings, inderdaad.

 

En nou lees ek weer grepe uit ‘American Gods’, Neil Gaiman se opus oor die ewigdurende bedrog van gode en die bedrieglikheid van godeskemerings. Gaiman se studie van moderne en mitiese snoodheid (en dié woord moes ek gaan opsoek, om seker te maak dit is wat ek wel bedoel; ek het dit baie lanklaas gebruik) en attraksie, en die ophemeling van rede, invloed, en afhanklikheid in die individu se soeke na sin of onsin, is uniek selfs al sou dit net wees vir die normalisering van die ou persepsie dat gode vlees van ‘n aard is en saam met ons leef.

‘He don’t want to see you. I don’t want to see you neither. You bad news.’

That’s because I don’t come if it isn’t important.’

Ek het nogal lank getob oor hoe die betekenis, en implikasies, sou verander as die sin hier bo sou lees: ‘That’s because I only come if it is important.’ Op die ou end het ek besluit dat dit gaan oor wie in beheer is: die gode – dié (on)gewone mense wat ons lewe so beïnvloed dat ons selfs plek maak vir hulle in ons drome – ís, en is selfsugtig. Dat daar ‘n verskil is tussen wat belangrik is vir ons omdat dit ons aangaan, en wat belangrik is vir ons omdat dit die gode aangaan. Dalk is dit veiliger om ons daarby te berus. ‘[D]ressed in the flesh of the children they reared‘.

Dít sal ek dan ook in ag neem wanneer ek later die week voor my virtuele stembussie gaan staan en vir iemand anders se god stem.

  •