Posts Tagged ‘Poetry in the Raw’

Naakte poësie, of te wel: “extreme poetry”

Friday, October 16th, 2009
Naakte poësie

Naakte poësie

Enkele weke gelede het ek ‘n ietwat opsetlike Nuuswekker geplaas oor poësie as beproefde prikkellektuur vir die slaapkamer, en daar glip my oog vanoggend via De Contrabas se skakel na die Amerikaanse webblad Martlet waar berig gedoen word oor ‘n Bekgeveg (Poetry Slam) wat verlede week in New York (vermoed ek) plaasgevind het. Wat hierdie derde “Poetry in the Raw” uitsonderlik gemaak het, is die feit dat al die digters sonder om te rym of bloos in hul volle naakte glorie voor die gehoor opgetree het. 

Missie Peters, organiseerder van Raw en lid van die Victoria Slam-span, het gesê dat sy dié idee gekry het toe sy een van haar spanlede ‘n gedig in sy adamsgewaad tydens ‘n partytjie sien voordra het. “I was amazed by how the poetry affected his body,” het sy gesê. “His stomach clenched, his toes curled and I thought, ‘Oh my god, this is beautiful. Why have we never seen this before?’ And then, ‘I have to do it.'” En daardeur waarskynlik ‘n totaal nuwe perspektief gegee aan die oer-oue beginsel van “die wit in die poësie” en ander stilistiese elemente; vas onder die indruk dat dit vanweë konsentrasie en ontroering is wat die gehoor met toe oë sit en luister na haar voorlesing.

Nietemin, volgens Peters is die atmosfeer tydens “Poetry in the Raw” inderdaad die van “extreme reverence and appreciation”. Sy het beklemtoon dat dit hier nié gaan om ekshibisionisme, seksualiteit of om jou eie “horing” te blaas nie; dit gaan daaroor om ‘n bepaalde gedig, asook die gehoor, op ‘n totaal unieke manier te beleef en te inspireer. Nog ‘n interessante voorsorg is dat géén alkohol glo tydens die geleentheid toegelaat is nie, terwyl dit ook van die gehoor verwag was om telkens na afloop van ‘n voorlesing ‘n eie kledingstuk uit te trek. “Poetry in the Raw is about making yourself more vulnerable,” het Peters gesê. “We want to see people grow from this.”

Nou ja toe. Presies wat dit is wat sy verwag om te groei, of in watter rigting, het sy egter nie gesê nie. Maar ek vermoed dat sy eintlik maar iets heeltemal onskuldigs soos versreëllengtes of enjambemente in gedagte gehad het. (Of dalk strofebou?) Persoonlik reken ek egter dat só ‘n inisiatief nooit in Suid-Afrika sal kan posvat nie, aangesien daar by ons immers (en met goeie reg) ‘n veel sterker voorkeur ten opsigte van belydenispoësie in teenstelling tot besnydenispoësie bestaan.

Klink vir my in iedergeval na ‘n horingdroë affêre. Geen drank? Stel jou dít voor …

***

Vanoggend is daar sommer heelwat nuwe plasings op die webblad om te geniet. So kyk Charl-Pierre Naudé krities na ‘n artikel oor die Nobelpryswenner wat gister in Die Burger verskyn het, terwyl Johann Lodewyk Marais inspirerend skryf oor voortreflike poësiekritiek en Desmond Painter oor Willie van der Merwe se intreerede as hoogleraar by die Vrije Universiteit Amsterdam; toegelig met ‘n aangrypende aanhaling oor die funksie van ‘n glimlag. En dan moet jy ook nie Andries Bezuidenhout se ironiese vers “Donker lig” miskyk nie …

Ten slotte – bly tog koelkop hierdie naweek, hoor. ‘n Mens weet immers nooit op welke stadium ‘n digter jou konsentrasievermoë tot die uiterste gaan beproef nie.

Mooi bly.

LE

 

  •