Andries Bezuidenhout. Digitaliseer: Geweld elektronies
DIGITALISEER
“die oorskakeling is pynloos”
hoe het dit skielik stil geword –
tikmasjienvuiste wat deur lint
bloed uit blaaie moker
drukperse wat spore stamp
om aan die laksman rigting te wys
gietvorms wat viniel só martel
dat naalde gille uit groewe steek
speke wat films in rolle folter
suur wat papier gedaantes laat bieg
klaviere wat pleidooie uit snare hamer
beitels wat gestaltes uit klip kasty?
waar’s die rumoer van implemente
noudat ons geweld elektronies pleeg?