Thérese Hulme

Hoe meer ek met Scottsville se jongmense gewerk het, hoe meer het ek besef dat hier ook kodes is wat voorskryf wat gepraat en wat nie gepraat mag word nie. Dié kodes trek ook grense vir taal. As jongmens in dié gemeenskap leer jy “jou plek ken” en daardie plek is meesal ‘n plek van stilte. Ons het die titel piemp vir die bundel gekies omdat dit ‘n werkwoord is oor die verbreking van stilswye en geheimhouding. Tradisioneel is dit ‘n woord wat geassosieer word met skande. Dis ‘n woord wat ek die eerste keer by jongmense in Scottsville gehoor het. In hierdie bundel steek elkeen van die jong skrywers met hul eie Afrikaans die grense van stilte en skande oor. So word piemp terselfdertyd ‘n metafoor vir die risiko van taal.
Ronelda S. Kamfer, wenner van die 2009 Eugène Marais-prys, skryf só oor piemp:
“Wanneer ‘n mens in ‘n gemeenskap woon waar geweld, bendes en dwelms deel is van jou daaglikse roetine, is die goeie dinge so spesiaal dat jy hulle altyd koester en onthou. Vir jongmense is die moeilikste dinge nie die geweld, die bendes en die hulpeloosheid nie – die moeilikste is die woorde. Die woorde om te sê wat fout is, die woorde om te beskryf wat seer is, die woorde om vrae te vra. Die moeilikste van alles is die tekort aan woorde… Poësie was vir te lank buite die bereik van gewone mense – piemp bring dit terug huistoe; piemp sê stilbly is nie ‘n antwoord nie.”
Woorde toegespin in sykokonne, word vlinders met die fladdering van tonge …
Thérese, dit wat jy doen is heilig … omdat jy bereid is om jou hande in die asblikke van die lewe te steek en kinders te kroon met woorde. Van iemand wat jou so verlang maar ook skaam is omdat ek iewers in die warboel van lewe jou sommer net gelos het.
Ek en jy was saam op Tukkies. Celia van Magnolias
Die boekie beteken vreeslik baie vir my spesiale behoefte leerders vanuit die armer woonbuurte in en rondom die noordelike voorstede. Hulle identifiseer met die taalgebruik en sentimente en sodoende kan ek hulle op ‘n relevante en interessante manier blootstel aan poësie.
As taalpraktisyn vind ek die inligting oor die leefwêreld van jong mense wat lig sien in die uitdrukking van hul swaarkry in woorde, baie aangrypend. Dit is bewonderenswaardig dat hulle dit kan doen en wil doen.