Deon Knobel (Bel Monte Kaapstad)

Dit was met groot belangtelling dat ek in Rapport van 13 September 2009 die verhaal van Sandra Laing weer kon lees en foto’s van die gesin en haarself as volwassene kon sien.
Enkele maande gelede het ek, ter voorbereiding van ʼn bydrae tot die mini-seminaar van Litnet, “Afrikaanse Skrywers van die Struggle”, ʼn goeie kennis van my, Mnr Mannie Brown van Tamboerskloof gevra om op die internet te gaan soek na die voorval. Hy het toe met Sandra se geskiedenis vorendag gekom. My broer, die digter Wilhelm Knobel, het enkele politieke satiriese gedigte geskryf, wat nooit tydens sy lewe gepubliseer is nie, maar wel na sy dood in Nagelate gedigte (Perskor 1976) . Prof. Louise Viljoen, in ʼn waardeartikel oor sy werk (2005), verwys inderdaad na dié feit:
“Sy sosiaal-kritiese verse sluit ook aan by die politiese betrokkenheid wat kenmerkend is van Sestigers se werk (dit is wel opmerklik dat die meer uitgesproke verse in sy Nagelate gedigte eerder as in Bloedsteen en Mure van mos verskyn). Met die speelse element in sy werk staan hy – soos ander Sestiger-digters – in ’n lyn in die Afrikaanse letterkunde wat loop vanaf Visser, Leipoldt, Krige, Blum, Toerien en Breytenbach eerder as via die tradisie van Dertigers soos N.P. van Wyk Louw en Opperman. As beeld van ’n digter wat hom in ’n oorgangstydperk in die Afrikaanse letterkunde bevind en verstegnies sowel as tematies worstel met die spanning tussen die tradisionele en die vernuwende is Knobel se oeuvre ’n besonder boeiende een wat met vrug heruitgegee sou kon word in ‘n versamelband.”
Volgens Knobel se tydgenoot en goeie vriend, Jeanne Goosen, was die groep digters van die Digtersgroep van Pretoria, gestig op 21 Februarie 1966, onder leiding eers van Coenie Rudolph, later De Waal Venter en uiteindelik Ted Bonaventure Hinwood, erg bevrees vir die Veiligheidspolisie. ‘n Ander stigterslid van die Digtersgroep en groot vriend van Wilhelm, Joan Lötter, het geglo die bewering was dalk effens oordrewe, en moontlik gelyk aan ‘n voorstedelike legende. Die Nasionale Party Regering het inderdaad nie ooghare vir hulle gehad nie, omdat hulle die Apartheidsbeleid gekritiseer het. Koot Vorster, destyds Moderator van die NG Kerk en broer van die destydse Eerste Minister van Suid Afrika, Ben Vorster, het die Sestigers as “Vuilspuite” uitgekryt. (Die Burger 11 Junie 2008)
Wilhelm Knobel was tydens sy lewe baie bewus van die regte van alle mense, ongeag kleur en etniese afkoms, godsdiens, politieke verwantskap en geslagsoriëntasie. Hy het dit soms selfs gewaag om aan die etenstafel met sy vader, destyds LV vir die Nasionale Party, en ondersteuner van Verwoerd en sy Apartheidsbeleid hieroor in gesprek te tree. Dit het meestal tot vuurwarm en kwaai argumente gelei, met versteuring van die andersins gemoedelike gesinsatmosfeer.
Drie van Knobel se vier Politieke satires het ’n fiktiewe karakter, Mnr X, as persoonlikheid gehad. “Mnr X” verteenwoordig inderdaad almal wat deel was, en die beleid van Apartheid, óf stilswyend, óf deur woorde en dade, ondersteun en onderskryf het.
So was daar “Toe mnr X by die Poort kom” (1969) en op voorkeur-behandeling aandring; “Elegie vir drie pasdraers – Mnr X het ʼn nuwe speletjie versin “– (1970), wat handel oor die drie swart mense wat saam met ʼn groep, omdat versuim is om ’n pas te dra, gearresteer was en saam met heelwat ander in die vangwa gestop is. Drie is dood weens versmoring en verdrukking en die minister het wel iets gesê soos “Dit laat my koud.” Die gedig oor Sandra Laing “Mnr X se donker dag” (20/03/69), is die mees skreiende van die drie gedigte.
In bogenoemde Rapport-artikel word die tragiese verhaal van Sandra Laing vertel. Sy is weens haar velkleur en voorkoms eers uit die wit skool gesit, en het daarna vir twee jaar by die huis gebly. Op 15-jarige leeftyd het sy op ʼn swart man verlief geraak en die huis saam met hom verlaat. Sy is hierna deur haar ouers verwerp en het by swart mense aanvaarding en ʼn tuiste gesoek en in ʼn mate gevind. Tans is sy in Nederland vir die première van die Amerikaans/Suid-Afrikaanse dokumentêre film, Skin wat handel oor haar lewe. Met haar bejaarde moeder, reeds nie meer ten volle bewus van haar omgewing nie, het sy wel in ʼn mate versoening gedeel, maar haar biologiese pa is oorlede voordat hulle weer kontak gemaak het. Haar twee broers, wat skynbaar albei nog lewe, wil volgens die artikel nie met haar kontak maak nie.
Die geval van Sandra Laing is op Vrydag 18 September 2009 op Beaufort Wes gebruik in ʼn lesing deur my, Deon Knobel, waar ek op uitnodiging van Emeritus Professor Henning Snyman, gepraat het oor Dood, verlies en die rouproses. Haar verlies was beklemtoon as anders, en waarskynlik erger as die dood.
Indien sy haarself, soos in die gedig voorgestel, wel vergif het, sou haar lyding geëindig het. Die verlies van haar hele familie, haar identiteit, geborgenheid, gesinsverband, en gemeenskapsverbintenis, is inderdaad erger as die dood, wat finaal is, terwyl hierdie verlies tot met haar dood sal voortduur. In die onderhoud in Rapport word beklemtoon dat aanvaarding nog ver lê. Dit is sekerlik een van die mees tragiese voorbeelde van ‘n “Gekompliseerde rouproses” en vergifnis en aanvaarding sal waarskynlik nooit ten volle kan geskied nie.
MNR. X SE DONKER DAG
Ontmoet Mnr. X
ʼn man uit een stuk
ʼn man na Gods hart
ʼn Ware Afrikaner
mnr. X is ʼn gekwelde man vandag
dis nie dat
een van sy seuns met ʼn oorgeplante nier sit nie
wat nie aldag so mooi meer fungeer nie
(ʼn ander skenker kan immers altyd gevind word)
of dat sy broer vir ʼn hartoorplanting oorweeg word nie
(Barnard ken sy slag
en buitendien, Janneman het sy lewe tog gehad)
die probleem wat hom vandag getref het is Veel Groter:
een van sy kleinkinders is aangesê
op aandring van gebelgde ouers
om summier te trap uit die skool:
haar gelaatstrekke is onmiskenbaar Negroïed
vir watter sonde het God hom so geslaan
en hy met sy heimlike voorneme
nog nie eers met sy vrou gedeel nie
om homself as kandidaat te laat benoem in diens van sy volk
… sý volk?
rus op sy ras vir ewig die vloek van die Bloed:
dat ʼn voorsaat sonder inbors in ʼn donker verlede
die wet van die Volk en God se Gebod oortree het?
(ʼn man is ʼn man
en ʼn meid is ’n meid
and never the twain shall mate)
ʼn ander uitweg is daar nie
voor die Sondagkoerante
simpatiek of verkramp
van dié geurige happie die snuf kry
moet hy bedank
uit die Kerkraad
uit die Skoolraad
en die Volksraad … nie dit ook nog nie, goddank!
en die Plaaslike Komitee vir die Behoud van ʼn Suiwer Volk
kepe kerf mnr. X se voorkop
rook borrel in heftige dampe by dik wange verby
hy Dink
destyds … voor die Swartes hom uitgeboer het
het Pietman mos in Tanzanië geboer
wie sal dit betwis as hulle sê
sy’s ʼn aangenome kind
van onbekende ouers
en geen produk van die Familiebloed nie?
maar dan bring die vrou met nog ʼn koppie koffie die tyding
Saartjie had haar self vergif
dis hard
− so ʼn goeie kind
byna soos een van ons –
maar God se weë is wonderlik …
die kepe ontspan
die rook lig
mnr. X sit sy stoel weer met vertroue vol
Wilhelm Knobel (20/3/69; hersien 5/6/73)
ELEGIE VIR 3 PASDRAERS
Mnr. X het ʼn nuwe speletjie versin
− nie-amptelik natuurlik
sulke dinge gebeur altyd nie-amptelik
dis juis die sports −
en u sal verheug wees om te weet
dit vereis geen inspanning nie
verlig of andersins
soos trouens uit die naam steeds blyk:
Sardientjies-pak-in-‘n-Blik
die resep is eenvoudig
en die bestanddele maklik te bekom
dus geen rede waarom almal nie kan meedoen nie:
tien of wat sardientjies méér
as die voorgeskrewe getal
(l.w. die pasdraersoort
dis al spesifikasie),
ʼn blik met geen ventilasie nie
(lug laat sardientjies bederf
soos almal weet
− in ʼn onlangse proef is wel
ʼn mate van ventilasie voorsien
maar die resultate was
soos te wagte
teleurstellend)
en nou vir die volmaakproses
wat eintlik ʼn inpropproses is
as ʼn mens dit fyn ontleed
dit behoort geen probleme op te lewer nie:
almal weet tog
sardientjies het nie arms of bene nie
ʼn mens sou amper kon sê hulle is spesiaal
gemaak
om maklik in ʼn blik te pas
en wat so gerieflik is
anders as wat by mense die geval sou wees
kan hulle sonder waardigheid
(dié begrip is vreemd aan ʼn vis)
kop by stert gelê word
om so min moontlik spasie te mors
aan die eerste dosyn is glad geen kuns nie
en vir die kenner is dit duidelik
dat sardientjies vanuit ʼn teleologiese oogpunt
tog maar hoort in ʼn blik
hierna word die eintlike bedrewenheid eers
duidelik
… maar presies hoe dit gedoen word
verswyg ons
om u pret nie te bederf nie
ons mag net noem
− want self sou u nooit
dié diplomatiese kunsie bedink nie
daarvoor is jare se ervaring nodig –
dat u beslis nie moet nalaat om
as die spel verby is
gepas u leedwese oor te dra aan die
naasbestaandes nie
(anders as wat algemeen geglo word
het sardientjies wél familie)
eers dan kan u die bevrediging smaak
van ʼn spel wat behoorlik
volgens al die reëls gespeel is (1970)
Dit is reeds duidelik in die voorafgaande twee gedigte dat Wilhelm Knobel groot weersin gehad het in die huigelagtige optrede van die sogenaamde bevoorregtes, wat selfs op godsdiens wou terugval vir hulle eie wandade en eise. Mnr X, met sy aankoms by die Poort, is inderdaad streng tereg gewys dat “almal se kleur hier dieselfde is/ – om die waarheid te sê kom dit neer op ʼn betreurenswaardige gebrek aan kleur – dat niemand hier voorkeur geniet nie/selfs nie Calviniste nie.
TOE MNR. X BY DIE POORT KOM
toe mnr. X by die poort kom was daar ʼn effense gedrang
maar selfs sy posisie en status het niks gebaat
om vir hom ʼn plekkie voor in die ry te konkel nie
toe hy uiteindelik aan die beurt kom het hy aangedring op ʼn verklaring
Petrus was apologeties en hulpvaardig soos altyd
maar het hom verseker daar kan niks aan gedoen word nie:
omdat almal se kleur hier dieselfde is
– om die waarheid te sê kom dit neer op ʼn betreurenswaardige gebrek aan kleur –
is dit nutteloos om op die kosyn die kennisgewing aan te bring
Net vir Blankes
dus neem dit ʼn tydjie om vir elke nuweling die rekords na te slaan
om seker te maak of hy nie dalk ʼn pas moes dra nie
en om vir diegene soos hy, mnr. X, te verduidelik
dat niemand hier voorkeur geniet nie
selfs nie Calviniste nie
(1969)
Knobel het van die dood van Ingrid Jonker met groot ontsteltenis verneem. Gedurende sy jare van verblyf in Kaapstad en besoeke aan die Jan Rabie/Marjorie Wallace en Uys Krige vriendekring, het hy Ingrid goed leer ken. Met haar brose gemoedstoestand en haar hunkering na aanvaarding deur haar vader, die politikus, Abraham Jonker, het hy sterk geïdentifiseer. Hy het inderdaad haar digbundel en foto gekies om in die publisiteitsfoto ter bekendstelling van sy debuutbundel, Bloedsteen, (H&R 1966) gebruik te word.
Knobel deel haar weersin in politieke ongeregtighede en in sy gedig “Limehill”, (Mure van mos, H&R 1970) opgedra aan Ingrid Jonker, word haar dood in die see by Drieankerbaai roerend beskryf. Met sterk politieke ondertone word dan Intertekstueel verwys na “Die bloedlose dood van één kind/ staan geskryf in bloed teen die Vaderlandslug.
Limehill
ter nagedagtenis aan Ingrid Jonker
Vreedsaam
in iedere kerk in die Republiek
in Pretoria in Postmasburg in Kaapstad
gedenk gelowiges die dood van Christus.
Maar uit vuilgroen waters van Drieankerbaai
kla die stem van ‘n vrou
… of is dit ‘n sirene in die mis?
Die bloedlose dood van één kind
staan geskryf in bloed teen die Vaderlandslug.
In die son by Limehill
teken ‘n kind ‘n laer in die sand
en rustig vee hy dit
met ‘n enkele beweging van sy palm dood.
[Oorspronklik in Standpunte no 83, Jaargang XXII no 5, Junie 1969, met addisionele aanvangsvers:
Vir ‘n gemeenskap van daardie grootte
is so ‘n sterfte syfer slegs normaal
en toe dit nie langer klop nie …
− u het dit al geraai −
vergeleke met ander state in Afrika …