Desmond Painter. ‘n Tweede refleksie – Johan Degenaar

Ek probeer vanoggend orde skep op my hardeskyf toe ek op hierdie resensie, wat ek ‘n paar maande gelede vir Die Burger geskryf het, afkom. Dit handel oor Tweede Refleksie: ‘n Keur uit die Denke van Johan Degenaar, saamgestel en ingelei deur WL van der Merwe en P Duvenhage (SUN PReSS, 2008).  

Degenaar is so ‘n belangrike denker – ook in die konteks van die Afrikaanse digkuns – dat ek sekerlik verskoon sal word as ek ‘n weergawe van die resensie hier ook plaas. Ek hoop dit moedig een of twee mense aan om hierdie belangrike publikasie te koop! Ek is seker dit is beskikbaar by Protea.

*

Met hierdie bundel uitgesoekte essays en artikels deur Johan Degenaar het die samestellers, W.L. van der Merwe en Pieter Duvenhage, nie net aan Degenaar nie, maar aan die Afrikaanse kultuurlewe as sodanig, ‘n besondere guns bewys.

Geen van hierdie bekende en invloedryke Suid-Afrikaanse filosoof se boeke is na my wete meer in druk nie, en sy menige korter stukke lê oor verskillende publikasies versprei, meestal slegs bekombaar vir diegene met toegang tot ‘n universiteitsbiblioteek.  

Dit is niks minder as ‘n tragedie nie, veral in ‘n taal waar vervlietende versamelings rubrieke en ander meningstukke instaan vir meer duursame filosofiese boeke en ernstige essaybundels. ‘n Mens kan die aantal Afrikaanse boeke oor die laaste dekade wat filosofies betekenisvol is, of aanspraak kan maak op die benaming van literêre essays, op een hand tel.

So ‘n stand van sake moet ‘n impak hê op die peil van openbare diskoers. Wanneer denkers van Degenaar se formaat toegelaat word om uit druk te gaan, eintlik bloot om finansiële redes, kry ‘n kultuur alte maklik katarakte, en kort voor lank wil al wat Eenoog is koning word in die land van die blindes.   

Degenaar se denke is wydlopend en deurtastend. Maar hy beliggaam ook ‘n denkstyl. Sy kritiese vraagstelling is onverskrokke maar nooit skril of dogmaties nie. Hy is demokraties in politieke oortuiging, maar ook in die manier waarop hy intellektueel met tekste en gespreksgenote omgaan, soos goed gedemonstreer in die onderhoud met Degenaar (deur Duvenhage gevoer) wat ook by die bundel ingesluit is.

Die samestellers het ‘n goeie keuse van tekste versamel en sinvol ingedeel onder die onderwerpe filosofie, religie, kuns en politiek. Hoogtepunte is essays oor sprokies, die mite van nasieskap, en die betekenis van pyn. Maar daar is baie ander wat op verskillende maniere boeiend en fassinerend is. Heelwat van die werk, selfs die politieke essays oor nasionalisme en pluralisme, is vandag steeds net so relevant as toe hulle geskryf is.  

Ek het een punt van kritiek. Dit is jammer dat die samestellers geen van Degenaar se filmanalises hier ingesluit het nie. In hierdie opsig is hulle lys van Degenaar se publikasies klaarblyklik ook nie volledig nie. Ek herinner my ten minste twee analises wat in die vroeë 1990s in Die Burger gepubliseer is, oor ‘The silence of the lambs’ en ‘The crying game’ onderskeidelik, maar nie in die publikasielys voorkom nie. Hulle insluiting hier sou ‘n belangrike dimensie van Degenaar se intellektuele nalatenskap toegelig het.

Maar ten spyte hiervan is dit ‘n uitstekende bundel opstelle, en die samestellers en uitgewer verdien lof vir wat hulle vermag het. 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •