Sikade
Vir sewentien somers
soog die rooi-oog timbalier
aan boomwortels, alleen
met sy toonlere diep ondervoet
wis niemand iets van die musiek
broeiend onder skalia.
Op een perfekgestemde oggend
sal hy van eensaamheid bars
uit grond en liggaamsgrens
om te sing
om te tjiiir om te stryk
met besnaarde nerwe met alle geweld
skree! sy ingeboude lied met sy lyf
so leeg soos ʼn monnikesel
of ʼn swerm.
© Natasha Harmse, 2025
