afskeid
dat die tuin so stil kan wees –
oggendson vleg met ligserpe
tussen bome deur.
op die punt van die rietbos
sit ‘n lemoenduif, sonder fluit.
piesangboom se blare roes
en hang koponderstebo.
dat die tuin so stil kan wees –
stil soos die ringmuur,
langarm verlate, want hulle
is weg, terug na cambridge toe
maar die tuin onthou
die trippel-lag van ‘n kleinkind
en haar ma wat roep.
twee wit katte dwaal tussen
die bos varings rond, spring op
teen die muur, soek
na die stemme, onlangs nog hier
maar die taxi het reeds vertrek
lughawe se kant toe
dat die tuin so stil kan wees
met elke snik gesmoor in
die holte van my hand
© marlise joubert, 2026

Ken daardie gevoel, maar sou dit nooit so roerend kon verwoord nie. Welgedaan Marlise en sterkte.
Wat ‘n lieflike gedig! Die eerste strofe is ‘n heerlike haikoe.