Die weefstoel
ʼn Weefstoel is geen stoel nie
maar ʼn raam,
ʼn apparaat met werpgare
wat hang aan gewigte van balke,
die spoel met die inslaggare skiet
deur die tydelike skut in die werp
soos ʼn rivier deur ʼn mond, kiem
vrugbare patrone in die flitsende
splitsings van ʼn delta. Gare gly
uit die hand en die spoel vloei
ontrollende oor die houtvloer,
fluister ʼn dun blou spoor
en buite torring die wind
aan die weefsel van die wêreld.
© Natasha Harmse, 2025
