In wese is die poësie van T.T. Cloete ’n verwoording van – en lofprysing op – die wyse waarop God hom in die grootse samehang van die geweldige verskeidenheid skeppingsdinge openbaar. Die dikwels paradoksale samehang van die kosmos toon verder die almag en liefdevolle sorg van die Skepper op so ’n wyse dat dit die digter met verwondering en deemoed, maar ook met lewensvreugde vul.
Dit is nie net die dinge van die alledaagse ervaring wat die vingermerke van God — of die “aanwesigheid van die afwesigheid”, soos die afdeling in die bundel Idiolek (1986) heet waaruit die gedig “Arktiese swael” geneem is — verklap nie. Ook dit wat deur byvoorbeeld die wetenskap blootgelê word, is God-openbarend. Op hierdie wyse verkry selfs biologiese feite in ’n gedig soos die onderstaande ’n religieuse beteknis (Visagie, 1988: 105).
Arktiese swael
Vleis en been. Vere. ’n Gewig
van 125 gram. Die span
van sy vlerke nege en sewentig
cm. ’n Lyflengste van
33. Swart ogies. Die instink
se teosofiese dink.
Bleekwit. Longe. Dan:
die son en sterre se lig
en hulle bestendige patrone
in die diep hemele, plus
in homself gene en hormone
met ’n chemiese onrus,
die geringe liggaampie se dryflus
oor kontinente, oseane, deur siklone,
deur die seisoene se draai geaktiveer,
deur arktika en antarktika georiënteer,
fyn gevoelig vir die aarde se magnetiese veld
kan hy dwarsdeur dag en nag feilloos navigeer.
Op sneeuvuur gerig
sien hy per jaar meer daglig
as enige ander wese, die uithaler
klein vlieër. Ryk saamgestel
is die doen van God in die mikrostraler.
Sy aërodinamiese spel in die nietige voël
speel hy reeds ’n ewigheid van pool tot pool.
Gilliard (1965: 174-175) verskaf die volgende inligting in verband met die arktiese swael: “It is famous for spending more time in daylight than any other living creature. It breeds during the arctic summer when continuous daylight prevails, and it visits the antarctic to winter, arriving there in time to enjoy the long days and then the continuous daylight of the antarctic midsummer. Among the records confirming its remarkable migrations is that of a nestling that was banded in Labrador and recovered in Natal, southeastern Africa, some 11 000 miles away, less than three months after it had learned to fly. In both the arctic and the antarctic, it feeds in the frigid waters between ice floes. It is circumpolar in distribution. Although most of its long-distance flying is over unmarked seas, it somehow manages to return and breed with regularity in large colonies on remote bits of land.”
Die biologiese feite aangaande die arktiese swael word op elliptiese wyse in die eerste sewe versreëls van strofe 1 aangebied. ’n Saaklike, eksak-wetenskaplike styl word nageboots – byna soos wanneer nugtere gegewens op ’n datakaart aangestip word. Hierdeur word die gewoonheid en amperse nietigheid van dié klein trekvoël beklemtoon.
Een woord val egter nie in die patroon van die ‘koue’, feitelike terminologie in hierdie gedeelte nie: “teosofie”. Volgens die HAT is die woord afgelei en saamgestel uit die Griekse woorde theos + sophia (= god + wysheid), en slaan dit op die “[m]istieke leer omtrent die wese van die bestaande wat gedeeltelik op Boeddhistiese opvattings berus”. Nie net kennis aangaande die wese van die geskapene word aangedui nie, rnaar ook kennis aangaande die wese van God self. “Die instink / se teosofiese dink” (versreëls 5-6) is dus ’n mededeling dat die swael se instink nie net kennis aangaande die skepping van God bevat nie, maar ook kennis aangaande God self.
Aan die einde van die eerste strofe kom daar egter ’n wending in die beskrywing van die arktiese swael. Die woordjie “Dan”, gevolg deur die dubbelpunt, dui die wending opvallend aan. Teenoor die enkelvoudige, elliptiese konstruksies van die voorafgaande gedeelte is die res van die gedig opgebou uit verwikkelde, veelvuldig saamgestelde sinskonstruksies van verskillende lengtes. Dit val saam met die “onrus” en “dryflus” van die migrerende swael waarvan daar in die res van die gedig sprake is, en is eintlik tekenend (ikonies) daarvan.
Eweneens tekenend of weerspieëlend van die genoemde “onrus” en die “aërodinamiese spel” (versreël 24) is die klankmatige strukturering van die gedig, en die benutting van enjambemente en die swewende sesuur. Gaan wat die klank betref die fyn herhaling van die g/ch– en v/f-klanke in onderskeidelik strofes 2 en 3 na, asook die rustelose eindrympatroon waar onder meer kruisryme en paarryrne mekaar onvoorspelbaar afwissel.
In teenstelling met wat in die eerste strofe aangaande die voël benadruk is, word die uniekheid van die arktiese swael in die res van die gedig beklemtoon, veral sy uitsonderlike vlieg- en navigeervermoëns. Woordeskat uit die biologiese en aardkundige vakwetenskappe word in die tweede en derde strofes ingespan orn hierdie unieke vermoëns te beskryf: “gene”, “hormone”, “siklone”, “arktika en antarktika”, ensovoorts. (Kyk ook Visagie, 1988: 106, hieroor.) Dit is die arktiese swael se instinktiewe, in sy gene en hormone vasgevange ‘kennis’ van die hemelliggame se bewegings, van seisoenale veranderings en van die magnetiese veld tussen die aarde se pole wat hom in staat stel om groot afstande af te lê en nogtans “fyn gevoelig […] dwarsdeur dag en nag feilloos [te] navigeer” (versreëls 17-18).
Sy vliegvermoë (hy is ’n “uithaler klein vlieër”) stel horn in staat om van pool tot pool te migreer om sodoende die byna ononderbroke ligdae van die arktiese en antarktiese somers te geniet. Daarom “sien hy per jaar meer daglig / as enige ander wese” (versreëls 20-21). Die paradoksale samestelling “sneeuvuur” (versreël 19) slaan op die verblindend heldere, deur die sneeu en ys weerkaatste lig van die poolstreke. In die laaste vier versreëls verskuif die fokus weg van die swael, en val dit op die wonderbaarlik komplekse “doen van God” soos dit deur die klein arktiese swael se gedrag geopenbaar word (Visagie, 1988: 106).
Die nuutskepping “mikrostraler” benoem nie net die kleinheid van die swael nie, maar is deur sy analogiese verband met die bekende makrostraler ’n aanduiding van hoe die fyn en ryke skeppingsvermoë van God die van die mens vooraf- en te bowe gaan.
Die fokusverskuiwing in die laaste vier reëls is egter voorberei deur die woord “teosofiese” in die eerste strofe – moontlik ook reeds deur die uitdrukking “in die diep hemele” in die tweede strofe. In die lig hiervan kry die uitdrukking “(o)p sneeuvuur gerig” (versreël 19) ’n diepere betekenis. Op grond van die tradisionele religieuse konnotasies van die lig-simboliek moet dit óók gelees word as ’n gerigtheid op God. (Die woord “sneeuvuur” vang dan ook iets vas van die dikwels paradoksale aard van die skepping en van God, asook van die wyse waarop God byvoorbeeld sy grootsheid in ’n “nietige voël” openbaar.) Die arktiese swael word dus – deur middel van die simboliek – voorgestel as ’n geseënde wese wat meer in die goddelike teenwoordigheid verkeer as enige ander skepsel. (Nie verniet dat dié swael se wetenskaplike naam Sterna paradisaea is nie.)
Luidens die twee slotreëls word die skepping van die arktiese swael gesien as ’n manifestasie van die speelsheid van die Skepper. Die migrasie van die swael van pool tot pool is van die skeppingsdae af (“reeds ’n ewigheid”) ’n konkrete uitdrukking van God se “aërodinamiese spel”. (Aërodinamika is volgens die HAT die “leer van die beweging van gasse in die lug”.)
’n Taalkunswerk wat dus eweseer deur vormgewing as deur woordbetekenisse kommunikeer, en verwondering oor en vreugde aan sowel die skepping as die skeppingsdaad uitstraal.
Geraadpleegde bronne
Cloete, T.T. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.
Gilliard, E.T. 1965. Living Birds of the World. London: Hamish Hamilton.
Odendal, F.F., Schoonees, P.C., Swanepoel, C.J., Du Toit, S.J. & Booysen, C.M. 1981. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Tweede uitgawe, tweede druk. Johannesburg & Kaapstad: Perskor.
Visagie, J.A.G. 1988. Fasette van T.T. Cloete se digkuns – ‘die bruin van die aarde en die blou van die hemel’. Klasgids 23(2), Mel:99-111.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat