Philip de Vos. Op pad na my eerste versie toe

 

 

 

Met die rondkrap in bokse kom ek op allerhande dinge af:

’n Brief van Leon Rousseau gedateer 15 November 1978. En daar staan dit:

 

Geagte mnr. De Vos

 Dankie vir u besoek aan ons kantoor Maandagmiddag.

Ek het u versies dadelik nagegaan en hier en daar aantekeninge gemaak.

 

En nou 31 jaar later moet ek nou my eie speurwerk maak en probeer uitwerk waarom ek uiteindelik versies begin skryf het en in 1978 aan Leon Rousseau voorgelê het.

Maar met hierdie speurtog, kom ek by die goeie en die slegte dae in my lewe uit. My skooljare het geen literêre talent getoon nie. Om die waarheid te sê in een van die bokse lê ’n opstelboek van toe ek in Std 9 was en my skryfsels was eintlik heeltemal vaal en verbeeldingloos.

Na my hoërskooljare beland ek op universiteit. Vandag weet ek self nie waarom nie. Want wat ek daar geleer het, het ek lankal vergeet behalwe dat Tromp (deesdae Karel) Schoeman gereeld langs my by lesings gesit en meer verveeld was as ek.

En toe kom die dae van skoolhou en op kinders skree. Maar gelukkig ontdek ek in die vroeg 1960’s ander belangstellings: fotografie en die feit dat ek ’n sangstem het.

Saans het ek foto’s in my ma se kombuis afgedruk, met roesmerke wat in haar opwasbak verskyn het en haar absoluut dronkgeslaan het. En ek kon dit nooit oor my hart kry om vir haar te sê dat dit die foto-chemikalieë was wat besig was om die kombuis te ruïneer nie. En na ’n dag van skoolhou, was daar sangles by Grace Butler en uiteindelik my eerste rol op die verhoog: die seerower Samuel in Gilbert and Sullivan se Pirates of Penzance.

En in 1967 uiteindelik die grootste besluit in die lewe: om van my ouers in Bloemfontein weg te trek en in Kaapstad te kom skoolhou. Ek wou oorspronklik in Johannesburg gaan woon, maar volgens my pa was dié bose stad suid-Afrika se Sodom en Gomorra. (Gelukkig het hy nie van Kaapstad geweet nie.)

In Kaapstad het ek steeds vir 6 jaar skoolgehou en saans opera-karakterrolle gesing totdat ek in 1972 Offenbach se Verhale van Hoffmann vier rolle vertolk het. Een aand was daar skielik die besef dat ek goed is – en dis nie blote grootpraat nie – ek besef toe dat ek nie net kon sing nie, maar kon toneelspeel, terwyl party van die ander sangers maar net rondstaan en mooi sing en mooi probeer lyk. Daar en dan besluit ek dat dit die einde van my skoolhou-jare was en dat ek van nou af net gaan sing.

Vir vyf jaar tot einde 1977 speel ek hakkelende mannetjies met boggels en besef dat die wonderlikste tyd van my lewe aangebreek het. Skielik was daar ’n vryheid en die besef word van my eie kreatiwiteit

En in die jare van vryheid besluit ek om te skryf. My kinderjare in Cricketstraat word na drie maande se skryf ’n boek met die titel Karel van Krieketstraat. En na die groot opwinding van skryf, lê ek my manuskrip aan Tafelberg-uitgewers voor met ’n brief wat ek op 8 April 1975 van mej. E. Badenhorst ontvang (ja, daardie brief is nog iets wat in een van daardie bokse versteek gelê het en wat ek onlangs weer ontdek het):

Geagte mnr. De Vos

Ek moet ongelukkig laat weet dat u manuskrip Karel van Krieketstraat nie vir publikasie aanbeveel is nie.

Die skryfstyl verraai soms die perspektief van ’n volwassene wat óór kinders skryf. ’n Ander probleem hier is dat dit nie duidelik is vir watter ouderdomsgroep die verhaal bedoel is nie.

 

Die feit dat die manuskrip afgekeur is, het nie saak gemaak nie. Die opwinding van skryf, was vir my die belangrikste, en skaars ’n maand na voltooiing van Karel, waai ’n koerant teen my bromponie vas terwyl ek op pad is na ’n repetisie by die Nico Malan-operahuis en is dit die skielike inspirasie vir my volgende boek:

Geskiedenis op Hoërskool Sentraal was ’n vervelige affêre. Ons moes paragrawe uit ons kop leer en in die klas kom opsê en die Voortrekkers is veral aan my voorgehou as ’n droë klomp biltonge. en deur my volgende boek met die mistroostige titel Oor Moedverloor se Vlaktes het ek vir my eie plesier die geskiedenis opgevrolik deur oor die Agtertrekkers te skryf.

En na die groot plesier van skryf, was daar weer dieselfde reaksie van die uitgewers HAUM en Tafelberg. Vir watter teikengroep probeer ek eintlik skryf?

My twee ongepubliseerde manuskripte het dus êrens in bokse beland vir anderdag se ontdek.

Die jare 1973 tot 1977 word jare van solo-uitvoerings in lieder en oratriums en operarolle in Kaapstad en Bloemfontein en operatoere dwarsdeur die land tot by die kleinste van klein dorpies.

En skielik vir ’n volle 3 maande was daar niks. My broer in Bloemfontein sê toe ek moet tydelik by hom in sy steenkoolbesigheid kom werk. Dit was winter en in sy besigheid se kantoor het die telefoon vir geen oomblik opgehou lui nie met kliënte wat intussen onophoudelik toustaan om hout en steenkool te kom koop.

My kreatiwiteit was vergete. Saans het ek uitgeput by my ma se woonstel uitgekom. En skielik op 38 jarige ouderdom het ek weer soos ‘n kind in die huis geword. My ma het my saans, soos destyds meer as 30 jaar tevore in Cricketstraat, in my komberse toegevou en aanhou gesê: “Jy kan nie met vryskutwerk voorgaan nie. Daar is geen toekoms vir jou nie. Daar is geen geld om van te lewe nie. Jy sal moet terug onderwys toe.”

Elke aand dieselfde. En toe was daar die droom: Ek was by my broer se steenkoolwerf en met ’n spuitkannetjie het ek swart steenkool in ’n reënboog probeer verander. Maar ek kon nie.

Die volgende oggend was ek weer terug in my broer se kantoor met die telefoon wat lui en kliënte wat toustaan om bedien te word

Ek het na my ma geluister, op die onderwys-gaset ingeteken, en aansoek gedoen om ’n pos in Kaapstad. My wonderlike 5 jaar van kreatiwiteit was verby.

En toe vir oulaas: Johan Bernard by SUKOVS-toneel vra my om foto’s in die Sterrewag-teater bo-op Naval Hill in Bloemfontein te kom uitstal. In Kaapstad het ek met ‘n laaste kreatiewe stuiptrekking ’n hele foto-uitstalling binne die kwessie van twee weke uitgedink. Die 20 foto’s toon ’n reisiger deur ’n nimmer-eindigende woud. Die reisiger wil weet waarheen hy reis. Drie wyse vroue wys die pad vooruit, maar op die ou end kom hy maar weer uit waar hy begin het.

 

 

http://www.facebook.com/photo.php?pid=1210430&l=5751ee05c9&id=636813173

 

 

 Daarna ’n laaste operatoer vir KRUIK na die Noord-Kaap toe met Albie Louw, Virginia Oosthuizen, Oystein Liltveld en Stephen Tudor onder andere.

Ek het gedag dat hierdie toer, soos die fotouitstalling die einde van my kreatiwiteit was. Skielik op hierdie lang toer na die noord-Kaap begin ek halusineer. Gedagtes aan die dood het skielik my hele denke begin oorheers. In een van die klein dorpies sien ek ’n man straat-af loop met ’n kind se wit doodkissie op sy skouers.

In een van die Karoo-dorpies sien ek ’n babawiegie in die koelte onder ’n boom by die hotel-vierkant staan en ’n stem sê vir my: Jy moet die kind gaan doodmaak. Ek was vol vreemde gedagtes. Saans as Oystein Old Man River sing met die onheilspellende woorde: I’m tired of living, and scared of dying het ek daarna met Stephen Tudor in sy hotelkamer gepraat en, alhoewel Engels,het hy gesê die Afrikaanse woord selfmoord sê presies wat dit beteken:die vernietiging van my kreatiewe self.

Die rit met die kombi terug Kaapstad toe was ’n nagmerrie. By die hotel in Matjiesfontein het die

mense in die skilderye lewendig geword en hulle oë na my toe gedraai. Buite Matjiesfontein lê ’n begraafplaas. En al wat ek kan onthou is die busbestuurder se woorde: “We are now close to the dead centre.”

Terug in Kaapstad het ek in desperaatheid vir my ou vriend Deon Knobel gebel en deur sy toedoen het ek ’n paar dae in die hospitaal beland en nie ’n enkele van my operatoervriende het my besoek of kom hoor hoe dit gaan nie.

En in die hospitaal het ek aan my ma se woorde gedink; besef dat sy reg was en dat die onderwys miskien nie so sleg sou wees nie.

En die onderwys was ook nie so sleg soos ek gedink het nie. Aanvaarding het ’n soort berusting gebring en skielik was daar weer kontak met jonger mense.

Teen die einde van 1978 na byna ’n jaar van onderwys, krap ek weer in kartondose rond en ontdek ek my twee ongepubleerde manuskripte: Ek lees weer my Agtertrekker-storie; lag vir my eie grappies en besluit om dit aan Leon Rousseau by Human & Rousseau-uitgewers voor te lê. Êrens in ’n kartondoos lê die brief wat hy vir my geskryf het. Die inhoud kan ek wel onthou. Weereens was daar die twyfel oor ’n teikengroep, maar omdat daar drie kort rympies in die storie was, vra hy my of ek al ooit daaraan gedink het om kinderversies te skryf.

Het hy my nie gevra nie, het ek dit tot vandag seker nooit geweet nie. Maar ek het gaan sit en my heel eerste versie geskryf:

 

Wat is die verskil

tussen katte en muise?

Muise het sterte

en katte het luise.

Ja, muise het sterte

en so ook ’n kat,

maar geen muis

het ’n luis

of ’n kat op sý blad.

’n Muis

het ’n luis

en ’n stert

nes ’n perd,

en perde

het luise

maar ly nóóít

aan muise,

en katte

het luise

en lang

gladde sterte

en soms kyk

hul dromerig

dóér in die verte

na muise

en luise,

en perde

soos huise.

En dís

hoe jy weet

wat is katte en muise.

 

En toe kon ek nie ophou nie.

Op Maandag 13 November na 17 dae van skryf, het ek ongeveer 30 versies by Leon afgegee en twee dae later het ek sy brief ontvang:

Ek moet sê dat ek hoë verwagtinge van die rympies gekoester het en teleurgesteld was toe ek so min volle regmerke kon gee. Ek dink wel dit is die moeite om voort te gaan.

Probeer gekunstelheid en epigonie vermy, en ook elemente wat ’n aantal gedigte onaanvaarbaar maak, byvoorbeeld: “Wat is die verskil” (Lawwe verse het hulle eie logika, en dit ontbreek hier.)

Onsmaaklikhede: al die luise en weeluise en byvoorbeeld “Oupa en Ouma sit op die Stoep”.

Om een of ander rede het ek sy antwoord destyds as negatiewe terugvoering gesien, en al 30 versies het saam met die ander twee manuskripte in ’n boks beland om eers weer in 1983 ontdek te word.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Philip de Vos. Op pad na my eerste versie toe”

  1. Pieter :

    Die berg lê toe met mis
    ja die berg lê toe met mis
    netnou gaan die engeltjies
    die wêreld papnat pis
    Flip, ek sit hier en tydmors deur jou goeters te lees terwyl ek behoort te werk — maar dis so lekker soos engeltjiepie!
    Soos jy weet is daar hier by ons mis, maar g’n engel het ‘n idee van wat kom as hy/sy probeer in die koue pis.
    Ons wag vir die res …

  •