
Na afloop van die Woordfees moes ek nou al ‘n paar keer antwoord op die vraag wat vir my persoonlike hoogtepunte tydens die fees was … Ongelukkig, vanweë my boekwinkel se betrokkenheid op soveel fronte, was dit nie moontlik om alles wat ek graag sou wou, by te woon nie. Daarom sal my lysie per definisie maar gebrekkig en eensydig wees.
Maar vir my persoonlik was Loftus Marais se voorlesing tydens Sondag-aand se “Skemerverse” onverdunde vreugde. Liewe hemel, watter talent is dié man nie! Hy het die gehoor omtrent in ekstase gehad met sy nuwe gedigte. Bykans elke vers is gevolg deur die mees uitbundige applous wat ek seker nog ooit by ‘n voorlesing gehoor het. En telkens om die regte rede, want sy nuwe verse is inderdaad onvergeetlik. Veral “Gedagtes oor ‘n ui” gaan een van die klassieke gedigte in Afrikaans word, vermoed ek. Om nie eens van “Boerpampoen” te praat nie!
Dan het ek ook enorme plesier gehad aan Ronel Nel-hulle se “Oopmond”-aanbieding. Dié konsep werk. Nog steeds is die ou Bekgeveg-magic daar met sy frenetiese tempo en verrassende wendinge, maar nou is daar die stertjie van ‘n uiters afgeronde (en professionele) klimaks om die program mee af te sluit: die getoonsette uitvoering van die impromptu-gedigte. Pure toonkrullekkerte, inderdaad. En geoordeel aan die gehoor se reaksie, ‘n wenresep.
Nog ‘n besonderse geleentheid was die bekendstelling van Nuwe Stemme 4. Wat ‘n voorreg was dit nie om so ‘n bietjie met dié nuwelinge te kon skouer skuur nie. ‘n Wonderlike aand met volle komplimente aan NB Uitgewers met hul organisasie rondom dié geleentheid, inderdaad. (En dankie vir die heerlike gesprek by die winkel Saterdagmiddag, Hennie. Dit was eweneens ‘n hoogtepunt.)
Maar nou ja, te veel vreugde is ook nie goed vir ‘n mens nie. Daarom, Melt & Kie: Veels geluk met ‘n genoeglike fees en geniet die rustiger tyd wat voorlê, want binnekort is dit weer Versindaba-tyd. Of wat praat ek nou?! En dalkies ook tyd vir ‘n blog of twee? Ek vra maar net …
***
Op die webblad is daar vanoggend net een nuwe plasing: Desmond Painter wat die onderhoud wat hy met Fanie Olivier gevoer het, in sy blogkamer geplaas het. Ook vestig ons jou aandag op die nuwe bundel, Vlerke vir my houteend, deur Kobus Lombard wat pas verskyn het. Inligting omtrent dié bundel is by Publikasies te vinde.
En dan word daar darem vandag ‘n ietwat koeler dag vir die Kaap voorspel en dit is beslis iets om na uit te sien, want gister was daar net ‘n Bybelblaadjie tussen die Kaap en die hel, glo my.
Nietemin, lekker lees aan alles en geniet dit wat in jou hand gegee word.
Mooi bly.
LE