Lewies Botha. Dankie Danie M.

 

Ek het in ‘n vorige blog geskryf oor my gedig  Die Akkerboom en my gewroeg oor die skryf daarvan; wat gee my die reg, wat het ek te sê , dit kan nooit eerlik wees nie. Wel om eerlik te wees, eerlikheid lyk my is die deurslaggewende kriteria, sou ek maar nie die moed gehad het om die volgende gedig te skryf as dit nie vir Danie se Essay was nie. Ek hoop die gedig vertel iets van waar ek, ja wit en man en voorheen bevoordeeld en boer en afrikaans en beneuk en apolities en in-die-army-gewees en draadsitterig en veertig en voorstedelik ‘n nawelstaarderige wannabe digter my bevind;

 

Nav. my gedig, Die Akkerboom

(Gedagtig aan Danie Marais en daardie Essay)

 

Soos ‘n angstige kleuter met ‘n vetkryt prentjie

mooi tussen die lyne ingekleur

het ek my akkerboom gedig se weergawes dikwels

vir jou gegee om te lees. Dis mos meesterlik.

Hiermee erken ek jou,

gee ek jou ook ‘n gediggie, ‘n plekkie my lief

tussen al die plaas en meerkat

koeie en kalwers verse van my.

 

Dit is nuwe grond wat ek sny;

My vrou was forced removed

weens die lelike government beleid

dit maak my mos current

en kan ek mos eerlik skryf

ek moet net probeer,

sonder om die woorde; wit of bruin te gebruik

of apartheid of district six,

en hoe vertaal mens multi-racial relationship

sonder dat opportunisme vinger wys

maar uitlos is min, dit is so digterlik on ontgin,

die lofbasuin se stink kan ek al sien blink.

 

Hoekom wil ek dig oor jou bruingeit nou?

God !, my vrou, wanneer was jy bruin vir my?

Toe ek my ma vertel jy is; “van Indiese afkoms”

om haar, of jou,  die verleentheid te spaar

of voor te berei op die Groot ontmoeting.

(wat het ek tog gedink? tog was jy ook besorg)

Wel, sy was okei toe sy uitvind jy is Katoliek

dis darem nie te heidens nie.

Ek het skeefweg eenkeer op straat gehoor; “koelie meid”

maar ek kon myself verbeel het.

 

Jy het toe gehou van my akkerboom gedig, gesê;

“Dit was net so, ek kan dit proe”

 

Nes jy ken ek; die vrolike buurt

nes Distrik Ses soos op TV al gesien;

Jazz trompette, Kaapse klopse,

kinders wat speel in strate

‘n hele bedrywigheid, ek weet mos;

soos die fotos in Drum van Sophia Town.

(Ek moet bely ek moet nog Triomf  lees)

Ek kan my mos ook verbeel wat dit was om te trek

soos ons destyds Durban toe is met die treklorrie

volgestapel, ek was so hartseer toe ek sien my Pa

het die tropiese vissies op die gras uitgegooi.

 

Ek het jou nog nie vertel nie, ek het toevallig,

okei, ek krap soms rond tussen jou goed,

jou verhaal van Northend gekry;

 

“You always say; why don’t you write the stories of  Northend?”

 

Ek is die aangeklaagde stilte in die hof;

skrap “vrolike buurt “ uit gedig. 

Ek sal weer moet probeer

die keer met woorde soos;

venyn en pyn, bitter en seer

drank en moleste,

wrang en bang, arm en darem.

Ek is jammer my vrou, skuldig

soos jy sê; wit ongevoelig.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •