Die geteisterde mond waaruit ‘n honderd miljoen huil
Musikale legendes gedy tussen die pilare en kandelare van die St. Petersburg Filharmonia se Groot Saal: die klassieke wit lyne eggo met herinneringe aan Wagner, Rachmaninov, Oistrakh, Richter en ‘n leerskaar ander. Vanaand, op die Oujaar van 2005, is daar egter net een naam op die program: Dmitrii Shostakovich. Want 2006 is die eeufees van St. Petersburg se beroemdste musikale seun van die 20ste eeu.
Shostakovich se musiek is nie die eerste wat by my opkom vir Oujaarsjolyt, maar die reeks kort “ballet”-stukke is ‘n openbaring – en ‘n ideale ouverture tot die partytjienag. Na die pouse – en die ondraaglike soet Russiese sjampanje wat Petersburgers geniet – word die verhoog oorgeneem deur ‘n Pushkin-komedie lighartig gechoreografeer op Shostakovich se musiek. Die tiener-ster van die Mariinskiy-balletskool – ‘n toonbeeld van die onbevlekte skoonheid van jeug – steel die kollig met sy grasieuse spronge.
Maar agter die ydeltuitery van die musiek en daardie jeugdige onskuld – soos agter al die onweerstaanbare skoonheid van hierdie stad – lê ‘n donkerder geskiedenis. In die pouse lig die waardige oubaas langs my die sluier: Shostakovich het hierdie ligsinnige film-musiek geskryf, vertel hy, nadat sy operastem in 1936 gesmoor is omdat Stalin – by monde van Pravda – gedink het sy Lady Macbeth of Mtsensk is “primitief en vulgêr”, “chaos eerder as musiek”.
Vanaand se partytjiemusiek is dus ‘n roggeling van verwurgde kreatiwiteit, die treurlied van een van die 20ste eeu se grootste musici. Hierdie tweeslagtigheid – tussen skoonheid en lyding, diep menslikheid en volslae ontmensliking – is ‘n St. Petersburg-leitmotif. Dit is ‘n digotomie waaruit van die vorige eeu se roerendste kuns gebore is.
Neem maar daardie ander konsert tussen hierdie mure: 9 Augustus 1942, toe Shostakovich ‘n stem gegee het aan St. Petersburg se lydende massas. Dit was die middel van die donkerste episode in die geskiedenis van die stad, die Nazi-beleg van bykans 900 dae, waarin ‘n derde van haar inwoners – miskien ‘n miljoen siele – omgekom het.
Shostakovich het sy Sewende – of “Leningrad” – Simfonie, begin skryf kort voor die beleg en opgedra aan die stad. Met die Nazi’s aan die poorte van Leningrad het ‘n saamgeflanste orkes van afgetrede musici en soldate – tydelik teruggeroep van die front – die musiek vanuit hierdie bom-gekwetste saal laat weerklink deur die stad se verminkte strate.
Die tere note van die fluit in die Adagio was uiteindelik kragtiger as die Duitse kartetse – in Januarie 1944 is die Beleg opgehef – en dit het uitdrukking gegee aan ‘n menslikheid wat duursamer was as Stalin se ideologie, wat een van die bloediger uitskotte op die ashoop van die 20ste eeu sou word.
Menslikheid self was egter reeds in sy wordingsuur onder beleg in Pieter die Grote se stad aan die Neva-rivier. Dit is ‘n uitheemse metropool, tot bestaan gewil deur tirannieke tsaars, ‘n onwaarskynlike praalstad gebou op die beendere en lyding van ontelbare Naamloses.
Die tiranne se nalatenskap is St. Petersburg die Skone – die Barok-paleise, die skouspelagtige kerke, die imposante pleine, die weelde van haar kanaaluitsigte. Die Naamloses het subtieler neerslag gevind in die werke van digters, komponiste en skilders.
Die helde van hierdie ontmenslikende stad was dié – soos Shostakovich en Fyodor Dostoyevsky – wat hulle menslikheid behou het, individue wat te midde van die ongenaakbare narratief van die geskiedenis in ‘n stad met te veel geskiedenis, in die kleine bly tas het na die ontasbare, tydlose essensie van menswees.
Onder hierdie helde is daar miskien geen groter nie as ‘n digter vir wie Shostakovich diepe agting gehad het en wat, soos hy, tydens die Beleg in die burgerbrandweer gedien het – daardie kolos van die Russiese digkuns in die vorige eeu, Anna Akhmatova, wat vanjaar 40 jaar gelede gesterf het. Die agting was wedersyds: in ‘n digbundel wat sy aan hom geskenk het, het sy geskryf: “Aan Dmitrii Shostakovich, in wie se era ek leef”.
Akhmatova se lewe is soos ‘n brose paneel waarop opgeteken is die ontstuimige geskiedenis van tsaristiese Rusland se doodstuipe en die Sowjet-monster wat daaruit gebore is. Die tragedie van Rusland in die 20ste eeu was van ‘n omvang wat – letterlik – die verstand te bowe gaan. “Mense” vind gestalte alleen in die anonimiteit van statistieke; “individue” is vervang deur miljoene.
Uit hierdie anonieme massa is Akhmatova se digkuns ‘n wekroep, ‘n herinnering aan die individuele pyn – haar eie en dié van ander – waarop St. Petersburg se fondamente rus. Sy is in 1889 in Odessa aan die Swart See gebore, maar het die grootste deel van haar lewe deurgebring in hierdie stad waarmee sy vir ewig vereenselwig sal word.
Haar jeug was die sterwensuur van Imperiale Rusland, maar in die glinsterende hoofstad sou ‘n mens dit nie raai nie. “The whole mournful city was drifting/Towards a destination nobody guessed“, sou sy later dig. En Deel I van haar epiese gedig, Poem Without a Hero, heet “Die jaar 1913“. Dit is ‘n evokasie van ‘n idilliese oomblik voor die Sondeval van 1917, maar die elegiese toon is onmisbaar: dit is geskryf in die donker dae van 1940, nadat haar eerste man tereggestel is, haar seun na Siberië verban is, ‘n tweede liefde gebroke teruggekeer het van die goelag, haar digkuns onderdruk is deur ‘n regime wat haar beskryf het as “iets tussen ‘n non en ‘n hoer”.
Vandag word die relieke van haar lyding – en uiteindelike triomf – bewaar in ‘n museum in die eertydse Sheremetev-paleis aan die Fontanka-kanaal waar sy vir meer as 30 jaar so te sê ‘n gevangene was. Die elegante wit-en-geel woning uit die 18e eeu is na die Oktober-revolusie opgedeel in woonstelle en kantore en een is aan Akhmatova toegeken.
Op ‘n lessenaar in die studeerkamer staan ‘n klein asbakkie as tasbare band met haar roerendste gedig, Requiem. Dit handel oor haar ontreddering na die inhegtenisname van haar minnaar, Nikolai Poenin, en haar seun deur die voorloper van die KGB, die NKVD.
In die dodelike atmosfeer van Stalin se Terreur van 1936-37 kon Akhmatova dit nie waag om haar gedig neer te skryf nie. Dus het ‘n vriendin periodiek kom kuier en terwyl hulle praat oor koeitjies en kalfies ter wille van die meeluisterapparaat, het die digter haar roudig koeplet vir koeplet neergeskryf vir haar vriendin om te memoriseer, en daarna die repies papier in die asbakkie verbrand.
Hierdie woonstel was die toneel van haar wanhoop op die oggend van die arrestasie:
“They took you away at daybreak. Half wak-
ing as though at a wake, I followed.
In the dark chamber children were crying,
In the image-case, candlelight guttered“.
Dit was ‘n tyd van lewende dood:
“In those years only the dead smiled,
Glad to be at rest:
And Leningrad city swayed like
A needless appendix to its prisons“.
En elke strofe spreek van ontmensliking, van ‘n ambivalente wil om te lewe. Haar seun self, die een vir wie sy voor die Kresty-tronk tou gestaan het met kospakkies, word ‘n verskrikking, want in hierdie verwronge heelal was liefde ‘n wapen:
I’ve pleaded
-O my son, my terror!-grovelled
At the hangman’s feet.
All is confused eternally-
So much I can’t say who’s
Man, who’s beast any more.
Maar dit was Akhmatova wat in ‘n radio-uitsending gedurende die Beleg die onblusbaarheid van die vroue van Leningrad geproklameer het – “Our descendants will honour every mother who lived at the time of the war…a city which has bred women like these cannot be conquered” – en reeds in die verklarende voorwoord by Requiem sein ‘n gesteelde glimlag die uiteindelike oorwinning van onthou:
“In the fearful years of the Yezhov Terror, I spent seventeen months in prison queues in Leningrad. One day somebody ‘identified’ me. Beside me, in the queue, there was a woman with blue lips. She had, of course, never heard of me; but she suddenly came out of that trance so common to us all and whispered in my ear (everybody spoke in whispers there):’Can you describe this?’ And I said: ‘Yes, I can’. And then something like the shadow of a smile crossed what had once been her face“.
Sy sou hulle stem wees, die Naamloses in die tronktoue van Leningrad; haar strofes sou hulle mensheid basuin.
Maar haar eie lyding was onverdun. Die NKVD sou haar nòg lewe gun, nòg dood: elke dag moes sy voor die venster van haar woonstel verskyn sodat die agent tussen die Sheremetevs se lindebome in die binnehof kon sien sy lewe nog.
Kommer oor haar seun in Siberië het haar gedwing om te kruip – “I shall go creep to our wailing wall/Crawl to the Kremlin towers” – voor die tiran. In die literêre uitstalling, tussen relieke van haar sirkel van verdoemdes – Poenin wat jare in die kampe deurgebring het, Osip Mandelstam wat in 1938 in ‘n kamp naby Vladivostok sou beswyk – is ‘n konsep-brief waarin sy Stalin smeek om genade vir haar kind.
Die stomme papier van die brief is ‘n slagveld vir twee kragte waaraan Akhmatova nie kon ontkom nie: die alledaags-menslike van haar eie lewe – liefde, private verlies, die kommer van ‘n ma, die individuele – en die groteske ontmensliking rondom haar, ter wille van ‘n hersenskim van die “kollektiewe”.
Op ‘n ysige Januarie-aand bevind ek my aan die oewer van die Neva by ‘n beskeie gedenkteken vir daardie epiese konflik. Oorkant die bevrore rivier met sy pakys is die Finland-stasie – waar Lenin se standbeeld steeds helder verlig staan – en die Kresty-tronk. En op daardie plek, soos wagte voor die poorte van lyding, staan twee brons sfinks in hulde aan die slagoffers van St.Petersburg/Leningrad se geskiedenis, aan die Naamloses.
Die beelde is klein, maar roerend. Die sfinks se borste maak hulle onmiskenbaar vroulik – hoe dikwels is dit vrouens wat ly onder die geskiedenis wat mans maak. Aan een kant van die gesig is die vlees weggestroop om die skedel en kaak te ontbloot, ‘n herdenking van die dood wat Sowjet-onderdrukking vir soveel miljoene gebring het, maar ook aan die volkome gestroopheid waarin selfs die lewendes moes bestaan.
Die sfinks staan daar, stil en uitdrukkingloos, magteloos soos die toustaners van die 1930s.
Dit is nie ‘n monument vir Akhmatova nie, maar dit herroep ‘n foto van Akhmatova waarop sy soos ‘n sfinks lê, en dit is ‘n brons-manifestasie van die slot-koeplette van Requiem:
And may the melting snow drop like tears
From my motionless bronze eyelids,
And the prison pigeons coo above me,
And the ships sail slowly down the Neva.
*Alle vertalings deur D.M Thomas in “Anna Akhmatova – Selected Poems“, Penguin, 1988.
André Pretorius
St. Petersburg
Januarie 2006
Epilogue
I
There I learned how faces fall apart,
How fear looks out from under the eyelids
How deep are the hieroglyphics
Cut by suffering on people’s cheeks.
There I learned how silver can inherit
The black, the ash-blond, overnight,
The smiles that faded from the poor in spirit,
Terror’s dry coughing sound.
And I pray not only for myself,
But also for all those who stood there
In bitter cold, or in the July heat,
Under that red blind prison-wall.
II
Again the hands of the clock are nearing
The unforgettable hour. I see, hear, touch
All of you: the cripple they had to support
Painfully to the end of the line; the moribund;
And the girl who would shake her beautiful head and
say:’I come here as if it were home’
I should like to call you all by name
But they have lost the lists….
I have woven for them a great shroud
Out of the poor words I overheard them speak.
I remember them always and everywhere,
And if they shut my tormented mouth,
Through which a hundred million of my people cry,
Let them remember me also….
And if ever in this country they should want
To build me a monument
I consent to that honour,
But only on condition that they
Erect it not on the sea-shore where I was born:
My last links there were broken long ago,
Nor by the stump in the Royal Garden‘s
Where an inconsolable young shade is seeking me,
But here, where I stood for three hundred hours
And where they never, never opened the doors for me
Lest in blessed death I should forget
the grinding scream of the Black Marias,
The hideous clanging gate, the old
Woman wailing like a wounded beast.
And may the melting snow drop like tears
From my motionless bronze eyelids,
And the prison pigeons coo above me,
And the ships sail slowly down the Neva.
![]() As Suid-Afrikaner wat in Engeland woon, het André Pretorius die geleentheid om plekke te besoek wat vir die meeste van ons net drome bly. Maar met sy uitstekende skryfwerk bring hy in hierdie boek talle van die eksotiese plekke naby sy lesers. Hy laat ons deel in die soektog na ‘n kelim in die mark van Marrakesj, in die nostalgie van Nobelpryswenner Orhan Pamuk se Istanboel, in die verhewe skoonheid van die St. Pieterskerk in Rome en in ‘n bootrit op die magtige Irrawaddy-rivier in Birma gedurende die reënseisoen wanneer dit voel asof die waters van hemel en aarde versmelt. Daar is ook vermaaklike oomblikke, soos wanneer hy aan ‘n wynproe-cum-marathon in die Medoc-vallei deelneem (met voorspelbare gevolge) en wanneer hy met net ‘n klein lappie as bedekking dit na ‘n openbare bad in Boedapest waag. ISBN:9781869193553 |
© André Pretorius
Marlise, dankie vir die verwysing. Ek het Feinstein se Hughes-boek, maar het dit nog nie gelees nie.
Desmond, ‘n lieflike boek om te lees is ‘Anna of all the Russias: the life of Anna Akhmatova’ deur Elaine Feinstein. [Feinstein het ook oor Pushkin en Ted Hughes geskryf.] Maar miskien sal jy dalk eers bietjie geld moet spaar of die Blogfokus wen voordat jy hierdie biografie kan aanskaf…
Het hierdie artikel baie geniet, dankie. Deels oor ek ‘n groot Sjostakowitsj-aanhanger is… Het self nog nie die geleenteid gehad om Rusland te besoek nie, maar ek is seker dit is net ‘n kwessie van tyd!
Andre ek het hierdie essay van jou baie geniet. Dit was leersaam om saam met jou te kon ‘reis’ deur die landskap & pyn van Akhmatova. Ek sien uit na nog hiervan.