Jelleke Wierenga. Klaaglied vir ’n padda

Die lewe is bepaald nie ’n lied nie, al het jy voor in die paddakoor gesing. Nou die dag toe ek my foto-albums onder uit die boekrak haal, spring dié gedagte my so letterlik in die oog dat ek my skoon in ’n hoofpyn inskrik.

“Spring” is nie eintlik die aangewese werkwoord nie. Daar agter in die nou ontblote hoekie van die stowwerige boekrak sit ’n padda doodstil, oftewel die mummie van ’n padda, oftewel ’n uitgedroogde paddalyk, met die een handjie so in die lug. Dis of hy met sy laaste kragte ’n hulpbehoewende armpie uitgesteek het.

Natuurlik is ek gewond tot in die agterkamertjies van my gewete. Dis my skuld dat die padda so aaklig aan sy einde gekom het: vasgekeer, verhonger, verdors, verdor, die hele verskriklike lot. Ek moes sy hulpkwake gehoor het. Ek moes meer gereeld daar agter my foto-albums skoongemaak het. Ek moes my paddavriend gemis het.

Ons was vrinne, as dit nou dieselfde padda is wat laas somer so gereeld by die deur ingehop het. Soms het hy homself ingenooi by die Franse deure op die agterstoep. Hulle staan altyd oop. Ek sal nog so gemesmeriseerd na die rekenaarskerm staar, dan vang ek uit die hoek van my oog ’n hoppende iets op die plankvloer. Dis Plonsie, soos ek hom gedoop het, wat kom kuier. Hy’t nie veel erg aan my nabye teenwoordigheid gehad nie – as ek van aangesig tot aangesig ’n bietjie wou gesels, het hy ontsteld weggehop. Dalk ’n groot aanhanger van Kahlil Gibran se “let there be spaces in your togetherness”.

Meer dikwels het Plonsie deur die oop badkamerdeur binnegekom. As die deur toe was, het hy geklop: plop, plop, plop. (Ek het hom nooit gesoen nie, helaas.) In die badkamer het hy reguit na Kattebol se waterbak gehop en met ’n taamlike gesukkel ingespring. Kattebol se waterbak was nie jou gewone troeteldier-waterbak nie, want g’n kat van sypaadjie-stand drink uit so iets nie. Jy spring óf in die bad en lek die druppels van die lekkende kraan op óf jy lek in modderige waterpoele buite óf jy spring op die voëlbak en gee verskeie voëls hartaanvalle. ’n Kompromis tussen my en Kattebol was ’n groot blou emaljebeker met ’n tuit wat altyd vol water onder die wasbak in die badkamer gestaan het.

Staan ek die oggend op en die water in die beker is slymerig, weet ek Plonsie het gebad. Lê die rottangmandjie met die gebruikte snesies op sy sy, weet ek Plonsie het misgespring. Skrik ek vervaard in die nag wakker van vreemde geluide in die badkamer, sukkel Plonsie sy padda-alie af om uit die gladde beker te kom.

Ek het hom gereeld na die dammetjie net so ’n paar hoppies van die agterdeure geneem. Myns insiens was en is dit steeds ’n heel aangename dammetjie. Dit het vastrapplek vir inspring en uitklim (ek beween die vele paddas wat in damme en fonteintjies spring en nooit weer kan uitkom nie), klam, groen varings en wuiwende palms, oulike Australiese viooltjies, murmelende water en ’n kabouter uit die blaaie van Wil Huygen en Rien Poortvliet se kabouterboek. Maar wat weet ek, aardgebonde tweebeen wat net deur longe asemhaal, wat kwalifiseer as aangenaam vir ’n padda van die klas van Plonsie.

Noudat ek terugdink, onthou ek dat ek maande gelede ’n paddagekwaak in die omgewing van die kombuis gehoor het. Ek het oral rondgesoek. Agter die yskas en agter die kastrolle en menigte kombuisgoed op die oop rakke van die kombuistoonbank. Ek het die swaar ou geel-en-groen GEC-emaljestoof weggesleep, die boks met die herwinningsgoed uitgepak. Maar g’n spoor van ’n padda wat kwaak of nie kwaak nie.

My gewete gesel my: Hóékom het jy nie agter die foto-albums op die boekrak in die sitkamer gaan soek nie! Plonsie het hom hees gekwaak vir jou, tot sy laaste padda-asemtjie toe.

Maar Plonsie, rêrig, hoekom moes jy jou dáár inwurm, van alle plekke? As jy geleerdheid daar tussen die boeke gesoek het, waarom nie my bedkassie nie, waar stapels boeke in die oop lug toring? Ek sou tot die blaaie vir jou omgeblaai en gedigte voorgelees het.

Plonsie, gewese slymerige vriendjie, jy is nog aldag in my gedagtes, want jy sit hier op my lessenaar by die kat, die verkleurmannetjie, die drie geitjies, die teddies met die verbande, die reisende donkie, die glimlaggende skaap, die stout seuntjie wat albei hande verloor het, die vrolike feëtjies (hulle kan ook engele wees), die meisie met die rooi mus en die hangende teddies van die kerk se Kersbasaar. Jy is in goeie geselskap.

En noudat ek mooi kyk, dalk sê jou handjie nie “Help my!” nie, maar “Tot siens en vaarwel ek moet gaan.”

Só, saam met Plonsie die padda, wuif ek tot siens met hierdie blog.

Plonsie in sy grafkelder agter in die boekrak

Plonsie in sy grafkelder agter in die boekrak

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Jelleke Wierenga. Klaaglied vir ’n padda”

  1. Marlise :

    Ja, hierdie paddatjie is skoon plonsblou van die skrik! Hoe jammer om jou as blogger te verloor, Jelleke, maar ons sal die groetwuif aanvaar & hoop dat jy eendag weer springlewendig in ‘n nuwe gedaante gaan terugkeer. Baie dankie vir jou heerlike stimulerende skrywes – dit was inderdaad verrykend om jou (baie poëtiese) wêreld met jou te deel! Sterkte en sukses met al die nuwe projekte.

  2. Daniel Hugo :

    Jelleke, ek sal jou blogs mis. Het jy geweet dat Huygen & Poortvliet se kabouterboeke (“Die lewe en werke van Kabouters” en “Die oproep van die Kabouters”) nou ook in Afrikaans vertaal is. Die uitgewer is Protea Boekhuis.

  •