
Die bekende Nederlandse digter en bloemleser, Jozef Deleu, het pas saam met sy seun, Lodewijk, ‘n voortreflike boek oor perde die lig laat sien. Wij, paarden bestaan uit 69 gedigte oor perde wat deur Jozef Deleu byeengebring is en foto’s wat deur Lodewijk geneem is. Dit is egter nie die eerste keer dat pa en seun saamwerk aan ‘n publikasie van hierdie aard nie; trouens, hul vorige boek Het huis herinnert zich mij het direk aanleiding gegee tot hierdie loflied aan perde van hulle: “Toen ik de foto’s aan het maken was van dat boek, belandde ik in The Old Horses Lodge, een asiel voor oude en verwaarloosde paarden in Laarne. De verhalen over deze dieren troffen me zeer”, het Lodewijk Deleu aan die beriggewer van Nieuwsblad gesê. “Tijdens het fotograferen werd ik vooral geprikkeld door de waardigheid en gevoeligheid van deze dieren. Zij bezitten eigenschappen die we ook mensen toedichten. En dat is meteen een van de hoofdredenen waarom ik de laatste jaren veel paarden fotografeer. Een andere belangrijke reden om met paarden te werken, is hun indrukwekkende vorm, kracht en schoonheid.”

Oor die onbegonne taak om maar net ‘n handjievol gedigte vir dié boek te mag selekteer, het pappa Jozef die volgende te sê gehad: “In dit boek werden 69 gedichten opgenomen. Dat is niet eens de helft van de gedichten die ik voor dit boek had geselecteerd. Kiezen was hier ook een beetje verliezen. Ik heb mooie gedichten kunnen selecteren uit onze hedendaagse Nederlandstalige poëzie. Ook van heel jonge dichters.”
Nou ja, toe. Soveel dae, soveel dinge. In Afrikaans bestaan daar natuurlik ook heelwat verse oor dié besonderse dier; één daarvan wat ek altyd sal geniet, is Marlise Joubert se gedig “Perde“. Vir jou leesgenot plaas ek dit onder aan vanoggend se Nuuswekker.
***
Gister het daar twee nuwe bydraes op die webblad verskyn: Andries Bezuidenhout vertel van hul onlangse soeke na water in Marquard en Bernard Odendaal resenseer die keur uit Wilhelm Knobel se gedigte, As die woorde begin droom.
‘n Lekker dag word vir almal toegewens.
Mooi by.
LE
perde
perde is konings van heuwels
en hawer van duine en torings van vuur
perde is konings met mantels van blou
oker amandel skimmel soos grou
swarter as oonde witter as talk
maanhaar verstroom in vleie van wind
perde is konings met keile en hoewe
wat ratel oor berge riviere en rif
savannas en kranse en skeure met drif
o konings van klip met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet
robyn is die kykers van perde
robyn soos die sterre teen skemer
waar die stofwolk draai waar die sand
in kringe soos poeier verdwyn
bruin is die oë van perde
bruin soos die maas op modder
waar die son waterpansag
in die somer kom lê
perde is konings wat proes en galop
oor pleine en plato’s van mense
perde dra vragte van kinders en ridders
of oues van dae soos ‘n hut op die rug
perde runnik alleen en verruk in ritmiese bome
perde is visse in waterwoestyne
swiepend van links en na regs
en terug in die lug asof gode
hul koppe in nette wil vang
met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet
perde is prinse wat die melkweg kantel
die oggend se as die stadige pas
perde is prinse en draf aan die hand
met spelende spiere wat dans deur die land
en klop ametis ametis
perde is vroue wat geheime in paaie ontdek
vroue met flanke wat glim in die sweet van die dag
kampeer tussen mane en sneeu tussen wasem en gras
wat kom lê in ‘n stal soos ‘n ster in ons pas
perde is konings en prinse en visse en vroue
perde is meer as salpeter van asem
© Marlise Joubert (Uit: passies en passasies, 2007: Protea Boekhuis)