
Op Adam O’Riordan se The Guardian-blogruimte lees ek ‘n interessante stuk oor poësie as prikkellektuur in die bed. Klaarblyklik het die Catholic Truth Society onlangs ‘n boek gepubliseer waarin paartjies aangemoedig word om eers saam te bid alvorens hulle in Bybelse terme mekaar “beken”. Die rede vir dié gebed des momentum is, volgens die skrywer “to place within us love that truly gives, tenderness that truly unites, self-offering that tells the truth and does not deceive, forgiveness that truly receives, loving physical union that welcomes”.
Nou ja, toe. Uiteraard is die poësie nét so geskik vir hierdie moment van vertedering en gedeelde selfloosheid, want poësie betrek immers nie net die emosionele landskap tussen twee geliefdes nie, maar ook nog die verbeelding. Nietemin, na ‘n uiteensetting van erotiese poësie in die klassieke digkuns, stuit O’Riordan uiteindelik teen die volgende kwessie: “Our concern with the erotic and recurring desire to condemn or re-evaluate the boundaries of what constitutes good taste or acceptable content leads us to a wider issue: is poetry something we come to be civilised by or is it a place where we go to unleash our desires and to hear them echoed? It strikes me this conflict is always being played out in poetry where the desire to contain, to formalise, to make safe with words comes up against an impulse towards the mind’s wilder imaginings.”
Mmm, laat ‘n mens dink, nè? En verbaas dit ons werklik? Poësie is immers tog ook die kunsvorm wat die gelyktydige naasbestaan van teenstrydighede vier, is dit nie? In die Afrikaanse digkuns bestaan daar hoeka ‘n baie lang, en stewige, tradisie van erotiese verse; dink byvoorbeeld aan die bloemlesing Die dye trek die dye aan (1998: Tafelberg/Human & Rousseau) wat deur Johann de Lange en Antjie Krog saamgestel is. Maar na die beste van my wete is die die kwessie van erotiese poësie nog nie indringend nagevors en geboekstaaf nie; miskien as gevolg van bogenoemde kwelvraag?
Hoe dit ook al sy, as lusmaker vanoggend plaas ek een van die allermooiste erotiese verse in Afrikaans hieronder: H.J. Pieterse se gedig “Artisjok”. (Goed, toegegee: eie aan Dr. Death handel hierdie vers uiteraard oor véél meer as die erotiese; maar hel, wat ‘n skitterende vers!)
***
Vorige plasings op die webblad wat jou aandag verdien, is Bernard Odendaal se skitterende stuk oor die digter en wat hom of haar dryf tot die maak van ‘n gedig. Ook Uti Bodenstein se stuk oor Barend J. Toerien, is ‘n uiters roerende en gepaste huldeblyk aan ‘n geliefde vriend. En dan natuurlik, Yves T’Sjoen se nuwe blog oor Jozef Deleu as samesteller van die Groot Verzenboek. Hierdie bloemlesing van die Nederlandse digkuns het talle raakpunte met André P. Brink se gelyknamige bloemlesing oor die Afrikaanse digkuns en die kontroversie wat daar rondom ontstaan het.
***
Geniet dit alles en oortreef alle verwagting hierdie naweek.
Mooi bly.
LE
Artisjok
Laatnag vleg ’n skielike ritseling
My stadig los
Uit swaar arms van my geliefde,
Donker suster van my dood.
Dou sak heeltemal te vroeg vanjaar
Op my grasperk en plante neer.
Takke en blare ril nog waarskuwend
As ek deur die wind na my groentetuin beur.
My flitslig skok die grootste plant
Wat haar lang, silwergrys blare vou,
Ritselend toe, dig
Om die geheime, pers, glinsterende vrug.
Raak my aan, asseblief,
Raak my nie nou al aan nie.
Uit hierdie bitter grond gebore
Tussen windhande wat my wil klief.
Ek vou die stingels versigtig weg,
Pluk ‘n paar blare en proe,
Huiwerig om my tong,
Donkergroen, suursoet parfuum van die nag.
Net een maal het ek jou so sien lê
Ná ‘n laatnagmaal van artisjok.
Jou hande was lig oor jou borste gevou,
Jou bene terughoudend gekruis.
Laag vir laag het ek jou afgeskil
Met ‘n versigtige, moedelose tong,
Tot by die diep, geheime, bitter vrug
Wat weer terugtrek tussen jou dye.
Deur strelende hande van jou geliefde,
Jou lokkende suster van die slaap
Kon ek hoor: raak my aan, asseblief,
Raak my nooit meer aan nie;
te lig om ’n groen hart finaal te klief.
© H.J. Pieterse (uit: Die burg van hertog Bloubaard, Tafelberg, 2000)