Die argitektuur van kerke en banke, steeds ʼn onderwerp wat my boei. In my vorige blog het ek skrams verwys na kerkargitektuur en nasionalisme – die stryd tussen die Sappe en Natte van Smithfield oor wat met die sandsteen kerkgebou moes gebeur. ʼn Hele ruk gelede het ek meer uitvoerig oor banke geskryf – lees gerus hier, oor die gevalle van Piketberg en Kimberley.
Verlede week het ek weer ʼn paar geboue raakgeloop wat die punt mooi illustreer, maar hierdie keer in Marquard in die Vrystaat. Jy kom hier uit as jy van die N1 by Winburg afdraai in Senekal se rigting. Die pad Marquard toe is egter net ʼn pad in naam. Ek sou dit eerder as slaggate met teer rondom beskryf. Iemand het darem die teenwoordigheid van gees gehad om dit aan die niksvermoedende motoris uit te wys.

In verlede week se Volksblad was daar juis ʼn storie van mense wat ʼn organisasie met die naam “Gatvol” gestig het – in Kroonstad, verder noord. Hulle neem nou plaaslike regerings hof toe om die saak van slaggate in die Vrystaat aan te spreek.
Teen skemer en die aanbevole 80km/h ry ons Marquard dus binne. Ons het gehoor van ʼn hotel daar wat in volle Victoriaanse glorie restoureer is en ʼn kamer daar bespreek. ʼn Sandsteen kerkgebou in die middel van die dorp val onmiddellik op.

Die hotel vind ons ook heel maklik, maar beland voor dooiemansdeur. Ons word darem gehelp nadat ons ʼn selfoonnommer op die deur skakel. Dik matte in die gange. ʼn Outydse lounge, eetvertrek. Die kamers in pragtig, met katels en Victoriaanse kaste. Pootjiesbad in die badkamer en ʼn outydse wastafel wat smaakvol gemoderniseer is.

Aandete is standaard plattelandse steak house – biefstuk en chips en slaai, darem ʼn parmantige suurlemoenmeringue.
Die volgende oggend kan ons nie die pootjiesbad gebruik nie. Die dorp is sonder water. Die township vir drie dae al, sê Julia, die hotelbestuurder. Die hotel het ʼn tenk vir noodgevalle, maar dis ook nou leeg. Sy praat oor Andries Tatane van Ficksburg daar naby. Hy is oënskynlik tydens protesaksies oor soortgelyke kwessies deur die polisie vermoor. Die probleem is dat Marquard se burgemeester in Senekal woon.
Mense staan met emmers voor die hotel by ʼn munisipale kraan en wag. Elke nou en dan spoeg die kraan ʼn paar druppels uit sy kies. Beroering in die tou. Dan is alles weer stil.

Ek vat die kamera en gaan stap deur die dorp. Die vorige dag, op werkersdag, het Frans Baleni van die National Union of Mineworkers (NUM) met mense kom praat. Ek ken Frans goed, omdat ek gereeld navorsing vir die NUM doen. In die strate lê pamflette van COSATU wat mense vra om maar weer vir die ANC te stem:
“Yes, the ANC has committed mistakes and some individuals have betrayed its historic mission, but we have a far greater chance of correcting ANC mistakes than we have of correcting the DA’s anti-workers and pro-big business policies,” lees die pamflet. Dis deur Zwelinzima Vavi geteken. Ek wonder of Frans vrae oor die watersituasie moes beantwoord.
Straataf vind ek die Standardbank. Tipiese dorpsbankgebou in nostalgiese neoklassieke styl. Dit moet vertroue inboesem. Teen ʼn lamppaal voor die bank hang plakkate van die ANC, die DA en een van COSATU. Frans word as spreker aangedui, maar die ANC en die SA Kommunistiese Party kon klaarblyklik teen druktyd nie aantoon wie namens hulle kom praat nie. Langs hulle name is daar oop spasies.

Oorkant die straat is die FNB – die voormalige Barclays. Die gebou is dieselfde styl as Standardbank s’n. Twee jong olienhoutbome wat die ingang bewaak.

En dan, verder straataf, die ABSA-gebou – voorheen natuurlik Volkskas, nou in besit van die einste Barclays. Geen nostalgie vir die verlede nie. Geen koloniale fondamente nie. Net ʼn funksionele, modernistiese gebou. Modernisme verouder egter slegter as koloniale fassades. Iemand het dit besef en met teëls probeer om die afskuwelike konstruksie verder te moderniseer.

Ek stap terug hotel toe, gebruik daglig om weer foto’s van die kerk te neem.

Dinge op die dorp kan nie te sleg gaan as daar drie banke is nie. Die ou hotel is in Victoriaanse glorie herstel, maar is blykbaar in die mark. Met slaggate en spoeg-spoeg water, is dit nie maklik om vierster diens te lewer om by die gradering te pas nie.
Ons ry terug Gauteng toe. Buite die dorp staan ʼn lang tou mense – elkeen met ʼn emmer. Hulle wag vir water. Irma praat oor The Siege of Krishnapur.

Dankie Leon, ek sal ‘n punt daarvan maak om ‘n draai in Wepener te gaan maak, al verloor ek ‘n wieldop of twee in die proses. Die gastehuis se naam het ek al op ‘n kaart gesien en daaroor gewonder. Ek kom deesdae gereeld in Maputsoe, aan die Lesotho-kant van Ficksburg, vir navorsing oor klerefabrieke. (‘n Hele paar Suid-Afrikaanse maatskappye het oorkant die grens fabrieke aan die gang gekry.) Ek het ‘n ruk gelede die dagboek van ‘n ene De Waal gelees (deur Karel Schoeman vir publikasie reggetrek) wat interessante insigte oor die streek se geskiedenis bevat, ook Louw Wepener se aktiwiteite in die Caledonvallei. In Lesotho word daar nou nog gepraat oor die teruggee van grond wat hulle toe verloor het, asof dit steeds ‘n moontlikheid is. De Waal beskryf in die boek hoe hulle die Basotho se dorpies afgebrand het om hulle uit die omgewing te verdryf. Dalk verbeel ek my, maar hy klink nogal ongemaklik daaroor.
Andries as jy die tyd/lus het kan jy gerus my geboortedorp Wepener besoek, maar ek moet byvoeg dat ek laas in 2001 daar was met my pa se begrafnis. Mooi ou kerk en stadsaal, weet nie of die stadsaal nog onderhou word nie. Die Lord Fraser Guesthouse was in 2001 heel skaflik, ‘n mooi ou gebou wat destyds Lord Fraser of Lonsdale se somerverblyf was, ek kan jou van die oubaas vertel as jy wil. Ek neem aan die gastehuis bestaan nog want dit het nog ‘n webwerf. ‘n Ent buite die dorp, langs die Caledonrivier waar eens op ‘n tyd die laaste funksionele watermeule in SA was (nou gesloop) is ‘n begraafplaas waar Britse soldate begrawe is wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het. In die koppies rondom die dorp is nog oorblyfsels van loopgrawe wat uit hierdie oorlog dateer, my pa en ek het dikwels daar gaan stap en nog ou patroondoppies opgetel, asook enkele bomskerwe.