Jaco Barnard-Naudé. Refleksies oor Epstein en Friedman se rolprent “Howl” (2010)

Allen Ginsberg

Allen Ginsberg

“The problem when it comes to literature is this: there are many writers who have preconceived ideas about what literature is supposed to be, but their ideas seem to preclude everything that makes them most interesting in casual conversation … their faggishness, their solitude, their neuroses, their goofiness, their campiness or even their masculinity at times […] They think that they are going to write something that sounds like something else that they’ve read before, instead of sounds like them or comes from their own life.”[1]

Die debat tussen Marais en Hambidge in Die Burger en Beeld se By[2] rondom Allen Ginsberg se gedig, “Howl”, vind plaas terwyl die 2010 gelyknamige eksperimentele rolprent onlangs in Amerika gedraai het en tans in Britse en Europese teaters te sien is. (Met ‘n bietjie geluk sal die film hopelik die weg na Suid-Afrika vind.) Die draaiboek en regie is deur Ron Epstein en Jeffrey Friedman, veral bekend om die dokumentêr oor Vigs waarvoor hulle ‘n Oscar ontvang het, “Common Threads: Stories From the Quilt” (1989). James Franco (bekend om sy gay-rolle in, onder andere, die briljante “Milk” (2008)) vertolk die rol van Ginsberg. Die film is oorspronklik deur Epstein en Friedman gekonseptualiseer as ‘n dokumentêr en is eers later aangepas ooreenkomstig die sogenaamde “dokudrama”-stylfiguur. Die draaiboek sentreer rondom hoofsaaklik twee gegewe: die sogenaamde Gallery Six voorlesing in 1955 in San Francisco (waar Ginsberg ‘n gedeelte van “Howl” vir die eerste maal in die openbaar voorgelees het) en die daaropvolgende obseniteit-verhoor in 1957 waartydens Lawrence Ferlinghetti (die uitgewer van “Howl” in Amerika) voor die strafhof gedaag is vir die publikasie en verkoop van ‘n boek wat obsene materiaal bevat. Om voor die hand liggende redes staan hierdie verhoor dan ook bekend as die “Howl”-sensuurverhoor. Die film is gebaseer op die werklike transkripsies van sowel die verhoor as onderhoude met Ginsberg.

Die Amerikaanse kritikus, Stanley Fish, redeneer dat “Howl” as ‘n film uniek is omdat dit nie bloot ‘n film is wat oor literêre kritiek gaan nie – dit is eerder die beoefening van literêre kritiek as sodanig, ‘n uitgebreide “explication de texte”.[3] Die milieu waarin hierdie beoefening hoofsaaklik plaasvind is, interessant genoeg, die hofsaal: “The trial turns into a seminar on literary criticism led by the befuddled prosecutor (David Strathairn) who, as he puts it, represents the ‘average man’ trying gamely to figure out what these incantatory words and phrases might possibly signify, if anything.”[4] Hoewel die rolprent onverwags en dikwels tussen verskillende tydperke spring, word die anker wat kontinuïteit aanbetref juis verskaf deur die obseniteit-verhoor, waartydens die Staat moes bewys dat die werk wat die beskuldigde gepubliseer het, slegs trefkrag het by gehore met wellustige belange, voorts die geneigdheid het om wellustige gedagtes aan te wakker en andersins geen sosiale of literêre waarde het nie.[5] Hierdie bewyslas noop natuurlik ‘n besinning oor wat “Howl” beteken en, uit die aard van die saak, is die onderliggende ideologie ‘n literalistiese een – “Howl” kan net een objektiewe betekenis hê. Ons sien in hierdie rolprent wat gebeur wanneer die interpretasie van ‘n gedig voor die reg te staan kom. Literêre kritici getuig vir beide Staat en beskuldigde. Die Staat se getuienis maak die gedig af as niks meer as die aaneenstringing van onsamehangende en onsmaaklike teks nie, terwyl getuies vir die verdediging die status van die gedig verwoord as tekenend van ‘n hele generasie. Telkens word besin oor die vraag of die slang-verwysings na geslagsdele en seks in die gedig noodsaaklik of bloot relevant is gegewe die tematiek. Die Staat argumenteer dat hierdie verwysings noodsaaklik moet wees ten einde letterkundige waarde te verkry, die verdediging meen die verwysings behoort bloot relevant tot die tematiek te wees.

Uiteindelik kan die regter tot geen ander slotsom kom as dat die Staat nie bo redelike twyfel bewys het dat “Howl” uitsluitlik obseen is en geen literêre waarde het nie. ‘n Ander manier om hierdie gevolgtrekking te formuleer sou wees om te sê dat die regter gedwing word om te erken dat “Howl” geen enkele, objektiewe en standhoudende betekenis het nie. Soos een van die kritici wat voor die hof getuig het dit gestel het: “you can’t translate poetry into prose – that’s why its poetry”.[6] Hier is ‘n ekstrak uit regter Horn se uitspraak: “I do not believe that Howl is without redeeming social importance. The first part of ‘Howl’ presents a picture of a nightmare world; the second part is an indictment of those elements in modern society destructive of the best qualities of human nature; such elements are predominantly identified as materialism, confirmity and mechanization leading toward war. The third part presents a picture of an individual who is a specific interpretation of what the author conceives as a general condition […] No hard and fast rule can be fixed for the determination of what is obscene, because such determination depends on the locale, the time, the mind of the community and the prevailing mores. Even the word itself has had a chameleon-like interpretation through the past, and as Mr Justice Cardozo said: ‘A word is not a crystal, transparent and unchanged. It is the skin of living thought and may vary greatly in color and content according to the circumstances and the time in which it is used.'”[7]

In die film word die verloop van die “Howl”-verhoor telkens onderbreek deur grepe uit onderhoude met Ginsberg, animasie wat gedeeltes van die gedig uitbeeld, terwyl Ginsberg daardie gedeeltes voorlees (die animasie aangaande die “Moloch”-gedeelte van “Howl” is besonder treffend[8]); daar is voorstellings (in swart en wit) van biografiese gegewe waaraan die digter herinner word tydens die onderhoude en, natuurlik, representasies van die Gallery Six voorlesing. Ek vind Franco se vertolking eenvoudig aangrypend. Hy kry dit reg om te wys dat ‘n groot dosis narsissisme ongetwyfeld deel was van die Ginsberg-persoonlikheid, maar dat hierdie narsissisme teen die agtergrond van ‘n uiters repressiewe, bestraffende Amerika van die 1950’s ingeskat moet word. Ons hoor Ginsberg oor “Howl”, hoe hy gedink het dat die gedig nooit gepubliseer sou word nie en daarom alles daarin geskryf het wat hy geweet het sy vader sou verafsku – die gedig, dan, as verset teen die simboliese orde van die vader. Daar is die traumatiese institusionalisering van sy moeder wat uiting vind in die reël “holy my mother in the insane asylum” en ‘n verduideliking van die woordkeuse “scream of joy” by die beskrywing van anale penetrasie in die gedig. Uiteindelik is dit die rolprent (dalk meer as die gedig) wat mens terugneem na die psigoanalise van Julia Kristeva en haar idee dat die setel van die digkuns geleë is in ‘n presimboliese khôra (wat met die moederfiguur verbind word.)[9]

Edward De Grazia, professor in regsgeleerdheid aan die Cardozo School of Law in New York, meen dat die gedig “Howl” nie eenvoudig kuns kuns ontwille was nie: “[‘Howl’ was] deep social criticism, a literary work that hurled charge after charge at the values of American society, just then trying to shake off the malaise of McCarthyism.[10] “Howl” is ‘n rolprent wat ontbloot wat gebeur wanneer mens die digkuns voor ‘n hof probeer daag – dit werk nie, juis omdat die positiewe reg deur en deur die simboliese orde van die nom du père verteenwoordig. Die prestasie van die rolprent is die prestasie van alle goeie rolprente: dit laat reg geskied aan die bepaalde onderwerp. In “Howl” (2010) is dit Ginsberg se digkuns – of jy daarvan hou of nie. Soos die kritikus Fabio Periera dit stel: “Rather than letting the ‘best minds of (this) generation (be) destroyed by madness,’ ‘Howl’ asks audiences to celebrate the joy of being different, of being creative, and of being open-minded.”[11]

 

Prof Jaco Barnard-Naudé is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad.

 


[1][1] Allen Ginsberg, by monde van James Franco, R Epstein en J Friedman “Howl” (2010) Werc, Werk, Works Studios: Minneapolis, VSA.

[2][2] D Marais 14 Mei, J Hambidge 21 Mei, D Marais 28 Mei in Y Beyers (red) Beeld / Die Burger By (2011).

[3][3] S Fish “Literary criticism comes to the movies” beskikbaar by http://opinionator.blogs.nytimes.com/2010/10/04/literary-criticism-comes-to-the-movies/ (28 Mei 2011 besoek.)

[4][4] Ibid.

[5][5] Ibid.

[6][6] W Wallace “The Joy Of Text: Allen Ginsberg’s ‘Howl’ Comes To The Big Screen” beskikbaar by http://thequietus.com/articles/04652-howl-review-allen-ginsberg (29 Mei 2011 geraadpleeg).

[7][7] Regter CW Horn “From the Decision” in B Morgan, NJ Peters (reds) (2006) Howl on trial 197-198 City Lights Books: San Francisco.

[8][8] Terloops, die gedig se filosofiese toespelings is S Freud Civilization and its Discontents (1928) en F Nietzsche On the Genealogy of Morals (1887) en, in mindere mate, The gay science (1882).

[9][9] Sien hieroor, onder meer J Kristeva Powers of horror – an essay on abjection (1982) Columbia University Press: New York en J Butler “The body politics of Julia Kristeva” (1989) 3 (3) Hypatia 104. Oor die oorsprong van hierdie woord in Plato en vir ‘n filosofiese oordenking daarvan, sien J Derrida On the Name (1995) Stanford University Press: Stanford.

[10][10] E De Grazia “Allen Ginsberg, Norman Mailer, Barney Rosset: Their Struggles Against Censorship Recalled” beskikbaar by http://www.grazian-archive.com/quiddity/Ginsberg/Ginsberg_.html (28 Mei 2011 geraadpleeg).

[11][11] F Periera “Review: ‘Howl’ (2010)” beskikbaar by http://www.huffingtonpost.com/fabio-periera/review-howl-2010_b_439781.html (28 Mei 2011 geraadpleeg).

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •