Oktobermaand. Dit bly tog die mooiste, mooiste, maand. Hier, en ook verseker, in die lentewordende Suiderland. Om ooparm onder die massiewe herfsplatane te staan en kyk hoe die koorsgeel blare val, is nonpareil. Dis soos om in ʼn sneeustolp te staan. Betowerend. Momenteel afgesluit van die wêreld. Vasgevang in ʼn oker-oomblik onder glas. Dis nie bleek of koud met ysige sneeuvlokkies wat uit die bleektes val nie – dit brand van kleur.
Om die seisoen met ʼn kransie bladgoudblare te verwelkom, twee verse:
AUCKLANDPARK: DRIE HERFSVERSE
( Eerste vers van die trio)
Die platane
In Twickenhamlaan kraak die eerste tekens
van die verandering van seisoene ondervoets
en die skadu’s neig reeds na die kouer suide.
Ons beleef ʼn vroeë herfs, maar in hierdie tye
gee die platane geen metafore prys nie:
Die hoë stamme vertak vier-, vyfvoudig;
die bas is bontgrys gevlek en glad;
die puntige blare gloei in geel en groen.
Die platane staan skynbaar staties op straat.
Die platane verteenwoordig net hul eie soort.
Uit: Martjie Bosman. Toevallige tekens. Protea Boekhuis. 2010
infrancio y muerte
die herfs laat die laning verslete
wolke trek die kanaal styf tot bleek akwaduk
(moenie weggaan nie, nou dat ek jou nodig het)
in die onderpad soek ek na die veldhoed op jou kop.
(komaan, gedy!)
jy lyk gemaklik wanneer jy
seisoene omdraai in ʼn lusernland
(laat my toe om jou te teken!)
jou voete proe die milde sooie
wanneer jy sorgvuldig mielies plant
volgens die maan se stand
(ek wil probeer!)
die reënseisoen meld homself aan
met paddas terloops in sluise
warrelwinde ruk veldmuise uit voetpaaie
jy skrik asof ʼn kind wanneer die weerlig
dadelpalms soos kerse klief
(moenie keer nie!)
in die jaar van die vloed
het slange hul velle prematuur verlaat
Uit: Melt Myburg. oewerbestaan. Protea Boekhuis. 2010

In die bosse en woude om ons dorpie koor daar plate sampioene oopmond in die klam ryk grond; chanterelles, girolle, cépe, mousseron, morille, pied de mouton, en dan is daar die vreesaanjaende maar heerlike trompette de la mort. ( daar bestaan twee soorte, hulle lyk amper dieselfde: die een is dodelik, die ander een, ʼn lekkerny.)
Hier draai ʼn legende in die rondte wanneer die eerste sampioene van die seisoen in stomende risotto’s en bredies op wagtende borde verskyn: dat mens jou verwende wederhelf die ewigheid kan instuur met ʼn guitige glipsie sampioensous. Jy kan perdalks net verby die owerhede kom met ʼn: ‘ek het nie geweet dat die dingetjie giftig was nie!’ Gewoonlik het elke eetbare variteit ʼn duiwelsdodelike doppelgänger.
Voordat die wit winter kom en ouma se handgebreide sokkies oopgerol word, stap die mense hier die wêreld vol. Ek haal selwers Wielietjies se bloedrooi halsband uit en onderneem ʼn staptog of twee – so onder deur die herfsconfettiereën. My saamdraboekie is byderhand vir ʼn skets of wat, maar ook vir ʼn wilwordende stapgedig.
Die stapgedig loop reeds met ons saam vanaf die antieke Griekse letterkunde.(Theokritus. 3de eeu vC.) Mens kan dalk Dante(1265-1321) se Inferno ook beskou as ʼn baie lang stapgedig. Ook so met die gedig Alegro van John Milton.(1608-1674),en Edmund Spencer se Prothalamium. In die 19de eeu het ons goeie voorbeelde van William Wordsworth (1770-1892) An Evening Walk en Walt Whitman(1919-1892) se Song of the Open Road.
Song of the Open Road ( Ek plaas slegs die eerste van 15 indelings.)
1
Afoot and light-hearted I take to the open road,
Healthy, free, the world before me,
The long brown path before me leading wherever I choose.
Henceforth I ask not good-fortune, I myself am good-fortune,
Henceforth I whimper no more, postpone no more, need nothing,
Done with indoor complaints, libraries, querulous criticisms,
Strong and content I travel the open road.
The earth, that is sufficient,
I do not want the constellations any nearer,
I know they are very well where they are,
I know they suffice for those who belong to them.
(Still here I carry my old delicious burdens,
I carry them, men and women, I carry them with me wherever I go,
I swear it is impossible for me to get rid of them,
I am fill’d with them, and I will fill them in return.)
Daar is voortreflike twintigste-eeuse voorbeelde van die Stapgedig:
Guillaume Tollenare- Zone
Robert Frost- The Wood-pile
Wallace Stevens- An Ordinary Evening in new Haven
Frederico Garcia Lorca- Poet in New York
Elizabeth Bishop- The End of March
Sylvia Plath- Beck-Plage
Johan Ashberry-Au Grand Gallop
The Wood-Pile. Robert Frost.
Out walking in the frozen swamp one gray day,
I paused and said, “I will turn back from here.
No, I will go on farther — and we shall see.”
The hard snow held me, save where now and then
One foot went through. The view was all in lines
Straight up and down of tall slim trees
Too much alike to mark or name a place by
So as to say for certain I was here
Or somewhere else: I was just far from home.
A small bird flew before me. He was careful
To put a tree between us when he lighted,
And say no word to tell me who he was
Who was so foolish as to think what he thought.
He thought that I was after him for a feather —
The white one in his tail; like one who takes
Everything said as personal to himself.
One flight out sideways would have undeceived him.
And then there was a pile of wood for which
I forgot him and let his little fear
Carry him off the way I might have gone,
Without so much as wishing him good-night.
He went behind it to make his last stand.
It was a cord of maple, cut and split
And piled — and measured, four by four by eight.
And not another like it could I see.
No runner tracks in this year’s snow looped near it.
And it was older sure than this year’s cutting,
Or even last year’s or the year’s before.
The wood was gray and the bark warping off it
And the pile somewhat sunken. Clematis
Had wound strings round and round it like a bundle.
What held it though on one side was a tree
Still growing, and on one a stake and prop,
These latter about to fall. I thought that only
Someone who lived in turning to fresh tasks
Could so forget his handiwork on which
He spent himself, the labor of his ax,
And leave it there far from a useful fireplace
To warm the frozen swamp as best it could
With the slow smokeless burning of decay.
As jy in die stad woon aan pastorale woude ontbreek kan jy altyd vir veertien blokke gaan stap, aan die einde van elke blok skryf jy net een lyn neer en kom so vorendag met ʼn gawe Stap-sonnet!

Die koper klokke van die Notre Dame.
Sedert 1856 lui die vier klokke van die Notre Dame katedraal in Parys elke 15 minute. Sonder ophou. Hulle het die einde van die Eerste Wêreld Oorlog aangekondig, ook die bevryding van Parys in 1944. Die vier klokke is deel van die tekstuur van Parys en het elkeen ʼn naam: Angelique-Françoise, Antoinette-Charlotte, Hyacinthe-Jeanne en Denise-David. Hierdie geliefde inwoners uit die Gotiese katedraal word volgende jaar opgesmelt en word dan vervang met nege nuwes. Wat glo gaan beier soos die oorspronklike 17de eeuse klokke.
Die aankondiging het ʼn gedoente in Parys veroorsaak, baie voel dat die 19de eeuse klokke ook deel vorm van Parys se letterkundige geskiedenis. Victor Hugo(1802-1885) se Notre Dame de Paris ( The Hunchback of Notre Dame ) word uitgelig as ʼn onvernietigbare gedeelte uit die Franse erfenis. Gelukkig gaan die Bourdon Emmanuel-klok wat in die suidelike toring hang, gespaar word. Ons sal moet sien wat word van die toorn wat sopas oor die Stad van Lig begin optrek. Intussen, het ek iewers nog ʼn klok hoor lui….uit Walt Whitman se digboek.
Little Bells Last Night
War-suggesting trumpets, I heard you;
And you I heard beating, you chorus of small and
large drums;
You round-lipp’d cannons!-you I heard, thunder-
cracking, saluting the frigate from France;
I heard you, solemn-sweet pipes of the organ, as last
Sunday morn I pass’d the church;
Winds of Autumn!-as I walk’d the woods at dusk, I
heard your long-strech’d sighs, up above, so
mournful;
I heard the perfect Italian tenor, singing at the opera;
I heard the soprano, in the midst of the quartet
singing;
Lady! you, too, I heard, as with white arms in your
parlor, you play’d for me delicious music on the
harp;
Heart of my love!-you, too, I heard, murmuring
low, through one of the wrists around my head-
Heard the pulse of you, when all was still, ringing
little bells last night under my ear.
The Art of Recklessness. Poetry as Assertive Force and Contradiction deur Dean Young ( Graywool Press. 1910) het met die Amazon-poskoets hier by La Creuzette aagekom. Sommer so ʼn kruiwa-vrag ander boeke ook – met die oog op die kiltes wat kom!
Young se boek kap ʼn paar vreemde draaie en hy pleit vir ʼn vurige aanloop by die skep van die digkuns, want as die vonk verdwyn dan is daar groot moeilikheid: ‘ Once that critique has been assimilated or worn out, it becomes defanged, domesticated, no longer combative, rather quaint. Quaintness may be the worst that can happen to art, its fire replaced by a lava lamp.’ Nog ʼn aanhaling/aanplaksel waarvan ek van hou: ‘Poetry is not a discipline. It is a hunger, a revolt, a drive, a mash note, a fright, a tantrum, a grief, a hoax, a debacle, an application, an affect’.
Ten slotte: ‘ The blood may be fake but the bleeding must be real.’

Daar is in Parys ʼn boeiende fotografiese tentoonstelling deur Gisèle Freund. Die titel van die tentoonstelling is: L’Oeil Frontière. Dit kan gesien word tot 29 Januarie 2012 by die Fondation Bergé/Yves Saint Laurent. Freund het in 1933 uit Duitsland na Frankryk gevlug waar sy in 2000 op 91-jarige ouderdom oorlede is. Haar fotografiese portrette van skrywers en kunstenaars is welbekend.

Die herfs is ook die begin van die jagtyd in Frankryk. Ek het vanoggend wakker geword van skote in die vertes. Hase, wildevarke, bokkies en vogels van enige veer word uit al vier hoeke bekruip. Ek moet nog tot besinning kom oor dié nasionale sport Hordes geklee in eienaardige pakkies en hoedjies vaar wreed die bosse en woude binne. Geknakte ysterlope, nonchalant, oor die arm. Honde wat tjommel en tjank. (Ek vermoed dat ek dalk nog ʼn kas-vegetariër is. )

Die jagter se dogter
Jaghoring krul ‘n hoë noot,
miswit skoorsteenrook.
Koperklanke rasper die klipmuur op,
hoog, tot by die dak se hoogste nok.
‘n Nes vol kuikens piep.
Pette, baadjies en gepoetste leer.
Hoefysters skop teen die kegels,
stalkombers grys in die oggendmis.
Honde met kolle wat huil en kerm:
rooipers tong, beenwit spykertand,
slym en kwyl en wilde oog.
Vos en haas raak angstig weg,
klam spoortjies op vertrapte mos.
Hart wat soos ‘n hamer slaan,
geel oog opgeslaan na die berge.
Skoot spoeg dood uit die ysterloop:
lood en roes in vel en been.
Skottel en mes op die roukliptafel,
been en bloed en stront.
In ‘n woud van klewerige karkasse
staar ‘n oog nog lewend uit.
Met ‘n mond van kinderlippe
probeer sy lewe deur
die dier se verskeurde bek blaas.
Sneeu bedek ‘n duisend spore,
stil die werf in skemer kil.
Haar laaste sien is rook en roet.
Onder digte bosse doring sluit sy moeg haar oë,
prewel kinderrympies in die warm jakkalsnes.
Vlokkies sneeuhael bedek haar spore,
bring verlossing en die groot vergeet.
Uit: Louis Jansen van Vuuren. Tempermes.Queillerie. 2010
Voordat al die spruite begin vries, probeer aanhouer vissermanne nog ʼn laaste keer om ʼn ietsie vir die pan uit te trek. Dit is suiwer vreugde om op die bruggie oor die Petit Creuse te staan en jou gedagtes in die watervlak te week. Ek sien die 29 brûe in Parys wat sprakeloos oor La Seine span. En die ongelooflike lewende brûe van Cherrapunji in Indië. (Van die brûe is meer as 30 meter lank en sommiges die kenners meen, is meer as 500 jaar oud.)
Van ʼn brug af sien mens dikwels water.

Melopee
Hitte en koue, wind, water en sneeu.
Die aarde se agente van verweerde
versplintering: vuur, wind en verbrokkeling.
Afraand, alles, alles, altyd afrdraand
met die vloeikaart van ʼn hand
wat ook maanlignagte en vlaktes onthou,
die blinkgetrapte spinnerak van voetpaadjies
teen kliprante, selfs die droë koggel
van ʼn windpomp in ʼn verste kamp,soms.
Hitte en koue, wind, water en sneeu.
Soggens, met eerste lig, die mis
by ʼn studie van rivier en boom, uitasem,
die enkele roeier wat verby
kreukel, vir ʼn oomblik
die watervlak steur: afdraand,
alles, alles, om gedwee spane
neer te lê en buite sig te verdwyn
met die water
as enigste verloop-
Uit: Louis Esterhuizen. wat die water onthou. Protea Boekhuis. 2010





Ek dog my hart gaan staan toe ek “my” skildery sien! Louis, jy is ‘n begenadigde kunstenaar. Jou potlode teken, jou verfkwas skryf…
Dis omtrent ‘n ontploffing van kleur en woorde! Mal oor ” The blood maybe fake but the bleeding must be real”
Pragtige atmosfeer geskep Louis. Fotos, skilderye en gedigte ewe mooi. Skep, skep, skep en mag die vuur tog nooit vervang word deur n lava lampie nie. Dankie Dean Young vir die waarskuwing.
The Artist comes full circle!
Louis ek is verstom-dis ongelooflik mooi,die woorde,die skilderye, die foto’s! Jy het regtig iets amazing geskep!
Ek bedank jou vir ‘n sielige lopie van boom tot oewer, van jagter tot water. ‘n Wonderlike plesier vir die oog,die foto’s en skilderye.
Geniet.
Ons lente is nogal grys, maar wanneer jy deur die Boland en dele van die Weskus ry, is die veldblomme die anderkant van ‘n koorsdroom.
So mooi Louis! Dankie, ek voel asof ek ook onder die boom staan!