Die Koreaanse winters is koud teenoor ons Suidelike Somer
Die wind waai knersend soos skerp tande en beseer jou
hande en lippe en droog jou siel uit soos ‘n uitgemergelde lap.
Son is traag om uit te kom en wys die vuil uit in die lug.
Die Suid Afrikaanse somer is wildwarm en met musiek gepeper.
Ek mis dit nogal hier in my kokend verhitte Koreaanse kantoor.
Inspirasie kom makliker op De Rust waar soggens ‘n koor stemme
Uit die bome jou wakker sing, die stilte hier laat my voel ek
het aangekom aan die einde van die wereld om agter te kom,
elkeen is alleen, uiteindelik soos Koos Du Plessis gesing het.
Dis nie lekker om huis toe te verlang nie, maar dan te onthou
Wat sal mens doen vir werk? Geld het so sentraal geword tot oorlewing.
Hier is die ingewings wankelrig en slaan verveling plek plek uit om
met ‘n konformerende koor te sing in ‘n aan die slaap rakende lied.
Ja. Nee. As mens nog Afrikaans wil wees in die wereld, dan moet jy
leer, konformeer, en sterk staan teen die verweer.

