Orpheus speel
Hy lig sy lier
ligweg in sy hand,
streel die snare
met sy gedagtes.
Druppels water
deurskynend soos geskilde druiwekorrels,
die rustige koor
van miljoene dennenaalde
kom uit sy vingerpunte;
die dapper maar sku klankie
van ‘n voël diep in die nag.
‘n jong vrou se lippe
wat oopgaan in afwagting,
die verrre gerommel
van gespierde wolke
wat skrum om eerste te wees,
vloei uit sy vingerhale.
Sy melodie ontdek
lewe in rotse,
lig in diep skadu’s.
Sy musiek roep jou
vir so lank as wat jy kan luister.
Ver taal
Die navorser
het versigtig aan die feite geproe:
hoe het taal ontstaan?
Die ver, eerste taal.
Hy het die holte
van Broca oor en oor betas
met sy vingerpunte,
probeer voel
of hy die vroegste woord
se vorm kon bepaal.
Hy het fyn geruik
al om die buitenste kring
van moontlike klanke
wat sou kon wipsprong
uit die tong
van ‘n eerste prater.
Die navorser
het ondersoekend gekyk
na die uitbeelding van woorde
op antieke kleitablette,
gekerf in klippe en dierebene,
vraend die lyne en kurwes
van die tekens met sy oë gevolg.
Hy het geluister
in sy gemoed
na die jagters se roepe:
A! Oei! Sou!
En ‘n baba
wat gryp na ‘n vol bors
bokant sy kop
maak sy mond oop: ma!
Aan my kleindogter
Kriekie
jy’t ‘n stout klein neusie,
kriek slim nonsens
met my,
dit toor my.
Wat is daar
in jou vuilerige handjie?
Laat ek sien –
deel van my lewe, die gerafelde kant.
Kriek klein kriekie,
die wêreld vorm homself
om jou kleurryke gedagtetjies;
kriek klein kriekie,
voor ek weet
spring jy
skoon uit nou.
*
Meer oor De Waal Venter kan hier gelees word.