Andries Bezuidenhout. Suid-Korea en die uitwissing van die self

Suid-Korea is ʼn land waar die vier seisoene onbeskaamd hulself is – in besonder in die land se lieflike hoofstad Seoel. In die winter sneeu dit, die lente slaan in blomme uit, die somer is warm en herfsbome is diep skakerings van bruin en oranje. Elke seisoen duur presies drie maande. Ek het Korea besoek om veldwerk in LG se yskasfabrieke in Changwon in die suide te doen. Ek het met vele van die land se vakbondleiers en vakbondlede onderhoude gevoer – meestal deur ʼn tolk – om te probeer verstaan hoe hulle die land se tweeledige oorgang onderhandel en verstaan. Met ʼn tweeledige oorgang bedoel ek ʼn proses van politieke demokratisering wat met ekonomiese liberalisering en globalisering saamval – baie soos in Suid-Afrika, of Weimar Duitsland. Soms is sulke oorgange suksesvol, maar soms laat die skok van ekonomiese kompetisie nuwe letsels wat ou wonde oopkrap.

Suid-Korea se arbeidersbeweging toon nogal ooreenkomste met ons eie. Militante werksvloerstrukture was deel van ʼn groter stryd om menswaardigheid en demokrasie, veral in die tyd van die diktator Park Chun-hee. Die een storie wat my nog altyd aangryp, is die geval van ʼn jong man genaamd Chun Tae-il (in die foto hier bo). Ek het sy suster, Chun Soon-ok, in Cardiff ontmoet as deel van ʼn internasionale netwerk van navorsers wat na werkers in (ja, van alle plekke) yskasfabrieke gekyk het. Chun Tae-il was deel van ʼn militante klerewerkersvakbond in die 1960s. Op 13 November 1970 het hy homself in die openbaar aan die brand gesteek – uit protes teen die uitbuiting en onderdrukking van klerewerkers. Hy is laat die aand in ʼn hospitaal aan sy brandwonde dood. Hierdie simboliese daad het die land geruk en word beskou as een van die keerpunte in die stryd om demokrasie in Suid-Korea. Sook-ok het later ʼn biografie van haar broer gepubliseer – die titel is A Single Spark.

Die rede waarom ek Chun Tae-il hier opper is die impak wat hy op Ko Un, Korea se mees prominente digter, gehad het. Ko Un was ook deel van die stryd om demokrasie in Korea en is self ʼn hele paar keer tronk toe gestuur. In 1970 het hy ook probeer om selfmoord te pleeg, maar nie om politieke redes nie. Hy het die volgende oor Chun Tae-il se openbare selfmoord gesê:

“Tae-il tore me out of my tomb, my grave, and brought me back to life in this world. His self-offering was essentially a declaration that these poor sick kids were also human beings. I compared that to my own private, personal death wish. I had attempted suicide only for myself. But here was somebody who died, had offered himself, for the sake of all the others.”

Lees gerus ʼn onderhoud met Ko Un hier en meer oor Chun Tae-il hier.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Suid-Korea en die uitwissing van die self”

  1. Desmond :

    Interessant, Andries. Gepraat van Seoel: ek het ‘n student wat nou haar navorsing doen oor Suid-Afrikaners daar — dit is mos die nuwe Londen vir die ‘gap year’. Ek ken self ‘n hele paar jong mense wat daar woon en werk, en mal is daaroor.

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Andries: ‘n Duisend namastes en sampaïs vir hierdie inligting en benadering. En sommer ‘n hele klomp gasjô’s daarby. (Alhoewel mens versigtig trap met te veel Japan in Korea. En anders-om. Jy gaan mos vir ons Ko Un vertaal en aanvat as ek dit reg het?

  3. Desmond :

    Andries, terloops, wat die uitwissing van die self betref: die Charismatiese Christenkerke en die Amerikaanse sielkunde kry natuurlik ook vinnig vastrapplek in S-Korea, dus in daardie sin is hulle ook besig om die (Westerse) self te VIND…

  4. Breyten, my Koreaans is maar mank! En as dit by politiek in ander plekke kom, trap ek versigtig. Maar, om by Desmond se punt van die evangeliese Amerikaners uit te kom, lyk dit vir my asof die VSA net so ‘n groot kulture verwysingspunt daar is as wat Japan in die verlede was. Tog het ek respek vir die wyse waarop die Koreane met ‘n eie identiteit deur dit alles navigeer. Enige plek waar mense tipies ‘n vrugtebord saam met bier in ‘n kroeg bestel het my bewondering. McDonalds het probeer, maar die Koreane verkies steeds Kim-chi. Ek ook! Hier’s ‘n voorlesing deur Ko Un:

  5. Desmond :

    Ai, jy maak my nou lus om NIE vanoggend in Stellenbosch te wees nie… Waar’s daai paspoort?!

  6. Desmond, ‘n stuk van die Guardian se blog af: http://www.guardian.co.uk/books/booksblog/2012/nov/08/ko-un-first-person-sorrowful. So terloops (alhoewel ek nou skrikkerig is om sulke dinge hier te noem – mense blyk gevoelig te wees oor die onderwerpe waaroor ons gesels), daar’s ‘n uitstekende Koreaanse restaurant in Pretoria.

  7. Desmond :

    En ek kom hoeka kitaarslaan in Pret-oria volgende maand…

  •