Marlies Taljard: “sy die gemantelde”

Marius Crous se nuwe bundel Vol draadwerk (2012) is ʼn ware skatkis van uiteenlopende verwysings en figure. Die tweede afdeling van die bundel is fassinerend vanweë die antieke en mitologiese figure waaroor die gedigte handel. Onlangs sit ek sy gedig “Avalon” uit dié afdeling op my facebookbladsy, maar niemand hou van dié inskrywing nie. Waaruit ek die afleiding maak dat baie van my vriende nie die gedig verstaan nie:

 AVALON

Vol draadwerk – Marius CrousAVALON

op die kop die klok van Glastonbury

wat probeer om die mis te verdryf

met sy stroewe stem

 

net sy die gemantelde

kan met die oopwaaier van haar hande

 

die skippie soos ʼn skeur in grys lap

 

die mis laat oopvou

voor avalon

Die legende van die eiland Avalon waar die legendariese King Arthur begrawe is, is een van die mees bekende legendes van die Westerse wêreld. Avalon, of Ynes Affalon (die eiland van appels), is glo dié mees kreatiewe plek op aarde, ʼn plek waar verskeie subtiele energielyne ontmoet en waarheen baie mense gaan om hulle spirituele batterye te herlaai. Dit is die eiland waarheen Josef van Arimathea volgens oorleweringe die heilige Graal geneem het (dit is die nagmaalbeker wat tydens die Laaste Nagmaal gebruik is en wat die bloed van Jesus bevat het). Dit is ook die eiland waar die legendariese Lady of the Lake, die mees mistieke karakter in die Arthur-legendes, glo steeds in die dimensie van mis woon en soms haar verskyning maak.

Presies wie die Lady is, is nie altyd duidelik nie, aangesien verskillende legendes verskillende figure wat die eiland bewoon en regeer het, soms as Lady of the Lake uitbeeld. Soms is sy Morgan le Fay, halfsuster van Koning Arthur – ʼn towenares, heler, koningin en Keltiese godin. Soms is sy Morgana, ʼn donker aspek van die godin Morrigan. Sommige skrywers noem haar Nimue, vir ander is sy Viviane, Elaine, Niniane, Nyneve of Nimueh. Wat seker is, is dat sy ʼn waternimf van heel antieke herkoms is, dat haar oorspronge heel waarskynlik paganisties is – soos dié van Morgan le Fay. Baie skrywers beskou al die bogenoemde figure selfs as verskillende aspekte van die godin Morgan le Fay en almal is dit eens dat die verskillende “Ladies” almal uit dieselfde tradisie van paganisme stam wat ongeveer 2 000 jaar gelede ʼn bloeityd op die Britse eilande beleef het. Caitlin Matthews skryf in “Ladies of the Lake” oor 9 susters wat almal priesteresse, koninginne of towenares-helers van die moeder- of aardgodin is en op Avalon woon. Hulle is Morgana, Igraine, Guinevere, Argante, Nimue, Enid, Kundry, Dindraine en Ragnell.

Vir Tennyson is die Lady die verpersoonliking van die goeie fee wat Lancelot grootgemaak het en Excalibur aan Arthur gegee het. Dit is ook sy wat die sterwende Arthur na die slag van Camlann (542 nC) na Avalon geneem het en aan hom onsterflikheid verleen het. In moderne romans en vir moderne beoefenaars van paganisme is die Lady ʼn godin van medemenslikheid en ʼn sterk heler. Sy word ook verbind met vrugbaarheidsrites en die vrugbaarheid van die landbougrond. Sedert die koms van die Christendom woon sy in ʼn dimensie naby aan die aarde. Toegang tot dié dimensie kan verkry word deur ʼn portaal van mis.

Glastonbury Abbey

Die eiland Avalon, die tuiste van die Lady, is ʼn legendariese eiland in Wallis wat die eerste keer in Geoffrey of Monmouth se pseudo-historiese verslag Historia Regum Britanniae (1136) voorkom as die plek waar Arthur se swaard Excalibur (Caliburnus) gesmee is en waarheen hy na die slag van Camlann geneem is om van sy wonde te herstel. Tans word algemeen aanvaar dat Avalon en Glastonbury min of meer dieselfde plek is. Glastonbury is geleë in ʼn moeraslandskap met baie staande water. In 542 nC sou die Thor (berg) by Glastonbury (wat waarskynlik Avalon is) nog in groot dele van die jaar met water omring gewees het. Op die plek wat vandag as Glastonbury bekend staan, was ‘n Keltiese religieuse sentrum wat waarskynlik in die tyd van die historiese Arthur die enigste plek wyd en syd was waar mediese behandeling moontlik was. In ongeveer 670 nC stig Beorhtwald op die plek waar dié sentrum met sy houtgeboue gestaan het, ʼn Benediktynse klooster wat (tot vandag) as Glastonbury Abbey bekend staan. Glastonbury Abbey word algemeen beskou as die oudste Christelike kerk op die Britse Eilande. Daar is egter ook bespiegelinge dat die Christelike wortels van Glastonbury Abbey baie verder terug lê in die geskiedenis – selfs so ver terug as Josef van Arimathea, wat waarskynlik ʼn vriend van Jesus was – en dat die ou Kelte wat daar gestasioneer was, reeds ʼn Christus-kultus in ʼn baie vroeë vorm beoefen het.

ʼn Mens kan jou voorstel dat, vir beoefenaars van die antieke spirituele praktyke, hierdie klooster ʼn doring in die vlees moes gewees het – soos dit sekerlik ook bedoel is – veral omdat die abdy glo op die presiese plek gebou is waar die ingang na Avalon geleë is, die tuiste van Gwyn ap Nudd, heerser van die Onderwêreld. Die omgewing van Glastonbury is inderdaad ʼn misterieuse, magiese plek wat met tallose legendes verbind word. Die Thor van Glastonbury wat uitstaan op die plat landskap, is een van die mees fassinerende plekke. Die “berg” het sewe duidelike terrasse, wat die vermoede laat ontstaan dat dit dalk mensgemaak is. Van bo-op die berg beskou, vorm die terrasse ʼn soort labirint, wat in antieke rituele ʼn besondere rol sou gespeel het. Na ʼn besoek aan die Thor het die digter William Blake die volgende beroemde reëls geskryf:

And did those feet in ancient time walk upon England’s mountains green? And was the holy Lamb of God on England’s pleasant pastures seen? And did the countenance divine shine forth upon our clouded hills? And was Jerusalem builded here among these dark Satanic Mills?

Hiermee wil ek volstaan – ek is daarvan oortuig dat die inligting wat ek hierbo kortliks meegedeel het, sal bydra tot beter begrip van ʼn gedig wat – getrou aan die aard van poësie – nie volledig in woorde weergegee kan word nie, maar ook emotief beleef moet word om tot sy reg te kom.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •