Laaste
Dit is nog die laaste ding
wat ek kan doen:
om my hande
om my pa se nek te slaan
Erato se laaste woorde:
moenie my los nie, Pa
ek raak los
ek verdwyn
die duisternis daal oor my oë
ek gly af
af
tot in die Dood
hou my
hou my vas
Vrye vertaling van die Griekse digteres Anyte se gedig ”Erato” 300 vC. Mykonos, Julie 2000. (Riana Scheepers. Met die taal van karmosyn. Human & Rousseau. 2001)
In Plato se epistemologie en sielkundige teorie gebruik hy die woord Anamneses vir die begrip dat die mens kennis van vorige inkarnasies in hom herberg – dat intellektuele en geestelike ontvouing afhanklik is van die herontdekking van die kennis wat in ons verborge is.
[G. ana + mimnesko herinner].
Hierdie terugroeping of herroeping van herinneringe weerkaats ’n eskader woorde boontoe wat soos bakens die weg na binne aandui. Betrag en bepeins die volgende:
herdenking
geheue
besinning
nagedagtenis
reminissensie
verbinding
soewenier
onthou
terugflits
aandenking
memento
’n Onlangse tentoonstelling van my werk by die Breytenbach Sentrum in Wellington dra die titel Anamnese. Dis ’n terugblik na plek en mens – waarvandaan ek kom. Hoekom? Met soveel oorgawe en betrokkenheid?
Vermoedelik omdat die finale fase van ’n lewe aanbreek met die optrek van die konsertgordyn. Die verhoog warm gespeel van die vier voorafgaande bedrywe. Les acte finale. Laaste bedryf. Hopelik langdurig en vol kreatiewe knope totdat die in die voorste gestoeltes op hulle horlosies begin kyk en klam gape begin onderdruk. Daar word ’n paar hoofrolle uitgedeel met ’n magdom figurante wat koorsig in die kollig kwispel.
Openingtoespraak. Marilyn Martin.16 Februarie 2013. Breytenbach Sentrum, Wellington.
Hier en daar verras ʼn kleurmoment (die selfportret, ʼn voëltjie, ʼn kompas, ʼn pienk waterpistooltjie) of die weelderige tekstuur van damask, maar oor die algemeen is Louis se palet in hierdie werke/verwerkings beperk. Sodoende behou hy die essensie van die oorspronklike swart-en-wit foto’s en die gevoel van vergange se dae, van verganklikheid. Dinge skuil en is verskuil in en agter die verf- en tekenmerke, in die grys en donker en stilte – spoke of drome van die verlede – bekend en onbekend – opgeroep, ervaar en moontlik ter ruste gelê. Katarsis ook.
Of openbaring. Die opvallendste kontras is tussen die groengrys van sy voorouers en die welige rooi en goud van die gordyn in Charles Garnier se operahuis in Parys wat die formaat in die helfte sny. Die gordyn kan sak op die verlede en die herinneringe of dit kan oopgaan om ander dinge te onthul, miskien selfs die andersoortige kennis waarvan Plato geredeneer en geskryf het.
Vir hierdie blog word gedigte wat raak aan herroeping en herinnering betrag – waar die bewus-word-oomblikke van ʼn naderende finale, die breekbaarheid van been en bloed, gevoel word.
die maan en die haan
in die vroemôre wanneer jy opstaan
om weer skuiling te soek in die beneweling van die liggaam
wanneer dit nóg nagversaak nóg dagraad is
maar ’n afwagting
en die wind haar onttrek het aan bome
en jy weet van visse wat in die skemer waterruimtes hang
soos die balling wat hom verbeel hy hoor vryheidsliedere
wanneer die maan weggeraak het
wanneer die eerste haan die einde van die wêreld
aan die orde van die dag probeer bring
in ’n taal waarvan die keel afgesny is
in die vroemôre wanneer jy opstaan
tussen sterwe en vergeet
bly jou skaduwee in die bed lê:
die nog lewende huid donker soos
wyn se afskynsel in die donker glas
diep soos afskeid neem van bloed
en vir ’n oomblik wéét jy dat jy die grens oortree het
draai om om oor die afwerping te ween
al die versinkende gedaantes een vir een
daarmee heen
al sedert die vertelverval van tye
later vandag sal jy die vel probeer verkoop
as droombevlekte laken
jou deur hierskrywe weer laat lei en verlei
tot verblyding in ’n tyding van getye
wat uit die hand moet loop
en onthou: die omskrywing van die onkenbare
wat jy nie lê kan maak nie
hierdie wurms in papier
Breyten Breytenbach. katalekte. Human & Rousseau. 2012
Economics
My father at the sink
like his father before him
softening two flints
of soap, then squeezing
the yellow into the pink.
Jacob Polley. The Brink. Picador. 2003
History
Here’s what lasts:
the buckles and pins,
the arrowheads
but not the shafts
piss-pots, urns and epitaphs,
false teeth; graffiti.
Jacob Polley. Little Gods. Picador. 2006
Skelet
1
Al hoe dowwer minder word
tot niks van glans aan my behoort
ek afgevel tot nugter net
’n wit uitdagend laaste woord.
11
Net waan
dat ons skelette van betekenis
met spraak en letter soet uitvlees,
die laaste argument is been?
Sheila Cussons. die asem wat ekstase is. Tafelberg, 2000
Tyd
elke jaar is die beenstruktuur
’n aks meer sekuur afgeteken
in die vorm van jou hande,
jou gelaat, elke lyn van jou figuur
al dunner gaan die tyd ons puur,
die raakvlak in, tot ragfyn vel
tussen die leegte en verlede,
tussen begeerte en vertel
Heilna Du Plooy. In die landskap ingelyf. Protea, 2003
’n Subtitel vir my tentoonstelling is: Die huis van Daniël. My lewe is deur Daniëls beset. Grootvader, Oupa, Pa en oudste broer. Hulle was altyd effens befoeterd. Ek kon my dié kwaaigeit nogal aantrek. Van toé af al aantreklik. Daar was min wat my so intens kon kantel – behalwe die Augustuswind en die plaashuis. Huis van Daniël. Die donker plek het my klam en huilerig gestem – die kleure, klanke, kaal kamers, kooksels kos en die kerkhof aan die agterkant van die huis.
Plaas
Bloekombos om die sinkdakhuis
oksied geverf teen roe en hael
stoep uit klip en steen
smeerkalkwit wat streep in reën
’n klam bekransing
Wasblom bloei in gekerfde motorband
drumpel wys en oopgetrap
donker gang en los gordyn
sonder lag, ook sonder sug
die matige besinksel
Kaneel en suiker, soet die nag
bloed en spek en dorpervleis
net en gaas behoed die spys
lamplig kring om mot en git
’n soet beroking
Teks en vers groet droef die hallelujalied
met oggenduur die reuk van roet en moer
doodswit die kerkhofmuur
engelvlerk wat waak oor broer en kind
die vaagste herinnering
Augustuswind wat ruk en skud
rooi stof slaan teen ruite op
windpomp kreun sy droë draai
boorwater biggel uit die ronde dam
’n soort verlossing
Verder weg, verby die grensdraad-roes
Vlieg swerms trekvoëls in die wolke weg.
LJvV. Tempermes. Queillerie.2010
Bitterfontein
Geslagte lank is die opstal
as breë tuiste onder die berg
tussen bos en buitegebou
ingewit. Vandag egter:
glasskerwe in die gang
beddegoed op die vloer
met elke hond
by sy plassie bloed
die hekke kettingvry
die gordyne toegetrek.
’n Uur gelede nog op die mat
hande-viervoet gemuilband terwyl stemme
skater van kas na laai, van vertrek
na vertrek: só alleen binne die reikwydte
van ’n gebed, hier in hul gewaande vestings
van alarm en sirene,
in die flou aftasting van ’n buitelig –
Die skote: spatsels soos lieweheersbesies
teen die muur, die kreet van bloedpatrone
oor ’n vloer, spore van hulle
elders heen
die huis deur stilte
platgeslaan
Bitterfontein die plaas se naam
Louis Esterhuizen. Liefland. Protea, 2004
Die herdenking en die soeweniers van liefde maak woorde wakker – wanneer verlange en onthou weer woorde word. Alle soorte liefde ruk die gordyn op. ( of ’n skirt of twee! ) Uit die Grieks kom vier woorde vir liefde:
eros
storge
philia
agape
Eros verteenwoordig die romantiese kant van dié gevoelentheid – bruisend en spuwend met trillings en trane.
Storge omhels familieliefde is al sy hoekige fasette –vol omgee, ootmoed en ’n oorveeg van tyd tot tyd.
Philia bepaal vriendskap as liefde – die David en Jonathan afdeling- armdrukke en omhelsings soms met ’n knypie in die donker.
Agape is die selflose liefde wat gloei van woorde soos barmhartig, liefdadig en weldadig. Sonder skyn of flikkers.
Die herversamel van, en besinning oor liefdesaandenkings vou vreesloos velde voor ons oop…
“ How much must be forgotten, out of love,
How much must be forgiven, even love.”
-W.H. Auden, “Canzone”
Nogmaals Lot se vrou
’n Eerste herinnering
in ’n begraafplaas met ligene
en begrafnisblomme gestulp in gebreekte glas.
Die gedig dalk tóé al uitgewys as ‘’n in memoriam?
’n Tweede onthou
met die bou van huisies, paadjies getoor uit knope
en ou poppe op ons wintersmat.
Alreeds ’n vooruitwysing na ’n wegvlug van hierdie band?
’n Derde terugflits,
meer dwingend, op die droë loop van ’n rivier,
vasgevang in iets onnoembaars
met die geur van gryswordende populierbome
en winterstof wat soos ’n teregwysing oor alles sproei:
te jonk vir woorde, reeds oud genoeg vir verstaan.
Treur oor jou jeug, maan Alice Miller.
Hoe op aarde doen ’n mens dit?
Net ’n gedig, ’n reis,
die voortdurende beweging,
die iteratief-duratief,
vóór die groot stilstand
kan my nou troos
in hierdie voldonge toestand
van volledige, troostelose onbehae.
Joan Hambidge. Lot se vrou. Human & Rousseau, 2012
Gisteraand
gisteraand in jou arms
by die perdeskoen maan
pluk ons ’n klawer
met vier blare aan
vandag bly ek staan
op die werf by die blik
my hart agterdogtig
soos ’n hoender wat pik
aan een korrel ’n klip
wat skeur deur die hange
die liefde’s niks anders
as die verlange
Ingrid Jonker. Rook en Oker. Perskor, 1963
uiteindelike nag
vir anna
ek lê ’n gloeiende gehuide geraamte
in jou arms en wag
ek lê sonder geslag
teen jou teruggetrokke skaamte
ek voel hoe jy jou medelye
in my inleef uit jou buik
uit jou heupe wat skeef stuik
en jou afgemoederde dye
na al die letsels wat ek jou gevloek
het is my dun vingers in berou
op jou hoë voorhoof en die lede van jou
skoon blou oë smekend opsoek
ek betas jou mond in die duister
en ek voel hoe jy vergifnis en begrip
met hart en sagte geslote lip
in die dun skelp van my oor warm fluister
T.T. Cloete. Allotroop. Tafelberg, 1985
As liefde ons verkeerd bewys
As liefde ons verkeerd bewys
en die nag in ons holtes kom lê,
en die dood ons laaste hegsels
losknip uit die lewe se patroon
sodat ons saam is, ongeheg,
asof om te sê ons liefde ken
nóg duur nóg vordering, sal ons
weet die dood is tydloos soos plesier,
en ons is net somerweerlig,
’n aprillende gier, net lewe
Vir sy dood, voorbrand vir sy vuur.
Johann de Lange. Snel grys fantoom. Human & Rousseau, 1986
Om groot te word tussen donker Daniëls was nie altyd maklik nie. Hulle was donker op onverwagse maniere – mees opvallend was die hare. Bytswart. Met donker oë wat tussen teer en taai kon knipper. As jy nie swart hare had nie, was dit (donker) bruin. My Pa was reeds verby agtien jaar toe die laatlam boetie van hom gebore is. Spierwit. Die hare nou. Die kind was glo die appel van vele oë. Selfs die donkertes van die Daniëls kon vermurwe wanneer die kind oopmond lag. Sy naam was Louis. Hy het op nege jaar van sy perd geval en is dood. Ek is ook laatlamlik gebore – tussen ander donker sibbe. Vader Daniël het glo die boskaas net een kyk gegee -en my laat doop….
Ubi sunt
Waar is hulle, dié wat voor
ons lewend was
julle wat belydenis maak
in stof en verbrokkelde been?
Trek my in
soos warm as
blaas my uit
in gietende reën
Waar is julle, dié wat voor
ons lewend was
julle wat belydenis maak
in stof en verbrokkelde been?
LJvV. 2013








Weereens lekker om te lees en ek beaam ook wat Heilna sê.
Ek wens daar was nog! Dankie weereens dat jy die binnekant vans menswees so ged bestudeer. Skielik het ek myself ook gesien groot word.
Ek beaam en stem saam met Heilna.
Dit is ‘n baie interessante blog, te meer omdat ek myself ook bevind in ‘n fase van bestekopname en besinning oor die verlede. Dit is vir my ‘n kompliment dat my gedig hiervan deel is.
Louis, my eie Maandag lees anders na die deurlees hiervan. Dankie vir die afdraaipad vandag