Wicus Luwes. Sonder om myself te herhaal

Almal keer terug na hul kinderdae – party soek dit op as volwassene en ander dink bloot daaroor. Ek vertel my Tante Renée so ruk gelede dat ek na ‘n Spanjoel-hond gesoek het om vir my kinders te kry, want ek het self grootgeword met ‘n Spanjoel-hond. Haar woorde aan my het my laat dink: “Ons het ook grootgeword met ‘n Spanjoel-hond.” My Pa en Renée het as broer en suster dus grootgeword met ‘n Spanjoel en interessant genoeg het my Pa ‘n Spanjoel gekies om my kindertyd-hond te wees.

Ek staan verstom om te dink op hoeveel vlakke herhaling ‘n rol speel in ons lewens. Kunstenaars soos Andy Warhol se Marilyn Monroe en Tamatie-blikkie werke word dadelik opgeroep. Simmetriese kuns, en rye bome. Chris Chameleon se verwerking van Ingrid Jonker se “Ek herhaal jou” eggo in my gedagtes: “die mense ‘n ry kerse”. Is herhaling om bloot elke dag op dieselfde spoor te loop van punt A na punt B of is dit dalk om elke dag van punt A na punt B te loop sonder om noodwendig dieselfde spoor te volg?

Soos met enigiets, is daar seker ‘goeie’ en ‘slegte’ herhaling. Die eerste woorde uit ‘n baba se mond is ma-ma, pa-pa, da-da of du-du. Ons leer kinders woorde deur dit te herhaal en staan verstom as hul die dinge herhaal wat ons eintlik as slegte gewoontes sien. Ons eet dieselfde pap vir ontbyt en koop by dieselfde supermark dieselfde soort rys. Ons voel uniek as ons een maal ‘n maand iets buite die patroon koop en vertel non-chalant ons vriende dan: “Ek hou daarvan om nuwe dinge te probeer.” ‘n Fabriek-werker dink herhaling is vervelig, maar dit is die ruggraat van ‘quality control’: Elke tamatie skoon gewas en sonder kneusplek; elke karretjie met dieselfde kleur.

Daar’s veiligheid in herhaling. ‘n Patroon om ‘n hemp van te maak. ‘n Stensil om te verf. Jou eie bed om in te slaap na ‘n lang reis. ‘n Tafel of klerekas het groewe om die stukke in mekaar te laat pas. Gedigte of liedjies het ook groewe in die vorm van refreine en herhalende frases. Partymaal herhaal digters wat hul sien, of ruik of ervaar en voeg dit in rye. Die resensente / onderwysers / lektore noem dit dan temas en probeer die hooftema en sub-tema identifiseer.

Baie van ons plekname is bloot herhalings van dorpe waar die dorp-stigters grootgeword het. Ek wonder nogal of hul met heimwee teruggedink het aan hul grootword-dorp of dalk net iets bekend in die vreemde wou skep? Ek is seker daar is al ‘n strandhuis iewers op ‘n Autraliese kusdorp met die naam: Bitterbessie-dagbreek of Piet-se-plek, met ‘n Laurika Rauch-CD in die CD-rak en ‘n Suid-Afrikaanse wynbottel bo-op die kombuiskas.

Borsel dus gerus jou tande en lees jou aanlyn-koerant. Maak dan koffie in die beker met ‘n hart op. Onthou ook om 06:30 in die stort te klim om die oggend-verkeer te ontwyk. En lees die sjampoe-bottel instruksies om te sien of jy dalk iets gemis het: “Apply to wet hair. Rinse. Repeat.”

Ek het die liefde-haat verhouding wat ons het met herhaling probeer vasvang in my gedig, ‘n beknopte lewe:

’n Beknopte lewe

ons haat die lug
maar ons asem dit in
ons verf nommers op bome
en gee ons kinders familiename

ons verstik aan kathare
en speel op klaviere in antiekwinkels
ons glimlag vir die Winkelier
wanneer Hy ons sien

ons lewe in skofte
en leer honde om hul pote vir ons te gee
ons treur soos skeefgetrekte hout
en kyk deur vensters na ons eie lewe

ons draai soms weg
as die spieëls te stip na ons kyk
en krap met die afstandbeheer
die trane uit ons oë

 

Wicus Luwes

Wicus Luwes het grootgeword in die Vrystaat en Noord-Kaap waar sy pa ʼn Wiskunde-onderwyser en sy ma ʼn laerskool-onderwyseres was. Hy matrikuleer in 1996 aan die Hoërskool Vaalrivier in Barkly-Wes (naby Kimberley) waar dit vir hom ʼn voorreg was om in ʼn klein dorp die  vryheid en veiligheid te ervaar wat daarmee gepaardgaan.

Hy kwalifiseer as ʼn ingenieurs-tegnikus in Rekenaarstelsels by die Sentrale Universiteit van Tegnologie. Hy werk tans as ʼn tegnikus by Richardsbaai se hawe. Wicus is getroud met Tanya en het twee kleuter-seuns, Leon en Emil, wat sy lewe vol maak.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Wicus Luwes. Sonder om myself te herhaal”

  1. Carina van der Walt :

    Wicus, Baie dankie vir ‘n helder opbou van jou gedagtes oor herhaling. Herhaling soos jy dit ervaar het op persoonlike vlak in jou familie; in kunstenaars soos Warhol se werk; in die aanleer van taal; jou persoonlike blik op die verband tussen herhaling en tema soos wat dit onderrig word; in plekname… om jou blog af te sluit met jou eie gedig. Dit moes digterlike oortuiging van jou kant af gekos het en TEREG, as ek lees dat Joan Hambidge dieselfde gedig aanhaal in haar resensie.

  •