Die woordeboek definieër stilte as die afwesigheid van klank, maar ek wonder al lank daaroor of stilte nie eerder sy eie identiteit het, en dat klank die afwesigheid van stilte behoort te wees nie.
Ons persepsies van mense verander deur stilte of die gebrek daaraan. ‘n Mens kom met tye wyser voor deur stil te bly eerder as om iets simpels kwyt te raak. Die stil-rolprente van die vorige eeu moes ‘n boodskap oordra sonder klank – ‘n storie vertel met oordrewe liggaamstaal en veelseggende gesigsuitdrukkings. Die akteurs se stemme het by die gebrek aan klank ‘n eie lewe in die kyker se verbeelding gekry.
Die definisie van stilte dien ook as ‘n leë doek waarop die beelde van ons wêreld lewe kry. Dit word ‘n pad na ons herinnering waarin stories kan wegloop in Izak du Plessis se Nuwe Stemme 5-gedig, Alzheimer; of ‘n versugting tussen-deur die klanke van die bure in Ihette Jacobs se The-Sound-of-Silence uit dieselfde bundel.
Die gebrek aan stilte of stilwees, soos op Etienne Leroux se Silbersteins-plaas, word ‘n karakter wat iets probeer oordra. Dit krop op en knoop spiere saam in ‘n kraaines van afwagting. Dit word die stilte wat jy ervaar tussen ‘n geraas van winkelsentrums en motors en kinders wat skree vir aandag. Dit word die dimensie waar jou fokus verskuif en tyd tydelik stil staan – die Joel Stransky- of Jonny Wilkinson-oomblik waar die bal na hulle kant uitgegee word en dit net hulle, die doelpale en die bal is.
Dit word ‘n man met ‘n mikrofoon wie se lippe beweeg, maar geen klank uitkry oor die luidsprekers nie. Klank-ingenieurs wat sien hoe meters op-en-af beweeg, maar niks kan hoor nie. Stilte word die besies wat sing op ‘n sweterige sonskyndag en die hand op die skouer by die afsterwe van ‘n vriend.
As stilte in ‘n formule beskryf sou word, sou ‘n mens tyd en die afwagting daarby moes inreken. Stilte word die ekstra dimensie waar tyd op ‘n ander horlosie loop en ruimte nodig het om gehoor te word. As jou bewussyn agterkom dat alles rondom jou stil geword het, loop die horlosies vir ‘n ruk teen dieselfde pas en alles maak vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde weer sin. Die stilte is dan nie slegs die tyd wat verloop tussen die tik-tik van ‘n horlosie nie, maar die rat wat die wyser se pas bepaal.
Die moderne stil-rolprent is om ‘n koffie te bestel en die verbygaande mense se doen en late dop te hou. Die toeriste in hul Out of Africa-hemde en broeke wat ‘n paar duim te hoog opgetrek is. Die rokende waitress wat arms gevou om die hoek staan en teug aan haar gifstokkie. Die heks met haar hoë hakke en swart snyerspakkie wat verby tik-tik oor die geel geverfde sypaadjie. ‘n Groepie kinders wat na ‘n kinderpartytjie toe loop in ‘n robot-pak, en ‘n leeu-kostuum wat eintlik lyk na ‘n stuk oorskiet tapyt. ‘n Meisie wat die reëls van die rolprent verbreek en jou stilswye kortknip met ‘n glimlag op haar sproetgesig en swaaiende vlegsels.
“Waarom is jy so stil?”, vra die persoon aan die ander kant van die tafel.
“Dit lyk of jy myle hiervandaan is.”
Gemaklik is dit beslis nie, want die stilte kry nie ‘n definitiewe dialoog nie en moet in die meeste gevalle sy eie lyne skryf. Die stilte moet probeer sin maak van onderspeelde liggaamstaal en niks-seggende gesigsuitdrukkings. Dit word die persoon wat die kerswas en rooiwyn-vlekke op ‘n tafeldoek moet uitwas na ‘n partytjie:
kerswas op ’n tafeldoek
hy het met my gepraat asof hy my ken
maar hy het nie
ek het hom geantwoord asof ek hom ken
maar ek het nie
almal het nader aan mekaar gestaan om beter te hoor
maar niemand het nie
hy het die glas na sy mond gelig om sy dors te les
maar dit kon nie
sy het om verskoning gevra omdat sy verkeerd gehoor het
maar sy het nie
’n kelner het nog ’n kers aangesteek om die tafel te verlig
maar dit het nie
’n groepie vriende het opgestaan om te gaan dans
ander het woordloos gekyk
na die spiraal kersrook en dansers
’n glas het omgeval
mense het vars lug gaan soek
dit was nou die tyd vir oogkontak
maar niemand wou vir mekaar kyk nie
mansbaadjies om vroueskouers
en ’n motorlig wat oor die tafels dans
hy het na haar gekyk asof hy haar wou leer ken
maar hy kon nie
sy het na hom gedraai asof sy iets wou sê
maar sy het nie
die stilte was die heel eerste gas
ook die laaste wat vertrek het
en toe elke gas die nag instap
wou niemand erken dat hulle die stilte hoor nie
maar hulle het geweet hulle het


Wicus, jou blog het my tot stilstand gebring, terwyl ek in die stilligheid sit en stillees en stilletjies hunker na n stilgordel en droom oor “stilts” waarmee ek wil trap bo-oor stilte.. so wanneer stilte oor my pad kom sal ek graag wil luister.