Carina van der Walt. Om ‘n vlag te plant

 

Wat sê die ruimtevaarder wanneer hy ’n vlag op die maan plant? Wat sê die klimmer wanneer hy ’n vlag op die bergtop plant? Wat sê die bouer wanneer hy ’n vlag op ’n gebou plant? Vlae is simbole. Al hierdie handelinge is simboliese gedrag wat vra vir interpretasie of betekenisgewing. Mens dink egter nouliks daaroor na, omdat dit so gewoon is.

Skep mens ’n taalsousie hieroor, word die behoefte om dit te verstaan of te interpreteer, oënskynlik nog minder. Wie dink nou na oor wat NASA op die ruimtevaartuig beteken? Die naam van ’n vakansiehuis trek net die klimmer se aandag as dit oorspronlik is. En niemand dink na oor wat jou naam op jou kantoordeur beteken nie. Tog is al bogenoemde handelinge met simbole of deur middel van naamgewing dade van toe-eiening. Dit sê: dit is mý plek. Of eienaarskap vervlietend is soos by die man op die maan of op langer termyn soos in die kantoor of by mens se vakansiehuis, maak nie regtig saak nie.

In die Afrikaanse letterkunde het D.J. Opperman ook sy stukkie grond afgebaken en benoem.

 

Edms. Bpk.

 

Ek het ’n stukkie grond gekoop

met melkhout op, dit afgekamp

en teen die hek ’n naam geverf

sodat verbygangers besef:

Dis Dirk se erf.

 

Opperman ondermyn self sy daad van toe-eiening en grensafbakening in hierdie gedig. Eers eis Janfiskaal en later Bakkapel in die daaropvolgende twee strofes die grond vir hulleself terug.

In die Suid-Afrikaanse kunswêreld plant die landskapskunstenaar Strijdom van der Merwe voortdurend sy vlae in die landskap. Dat dit bekoor, staan soos ’n paal bo water. Maar wat beteken dit? Wat beteken Van der Merwe se baie rooi vlae in ’n reguit lyn geplant? Interpretasie verskil van mens tot mens, maar om eerstens goed te kyk is ’n belangrike voorwaarde vir gedigte skryf.

Iewers in my onderbewussyn maak Van der Merwe se ry wapperende vlae iets wakker. Die mite lui dat ’n boer in die ou dae sy perd gevat het en ’n sogenaamde stuk niemandsland ingery het. Na één dagrit te perd weswaarts in die Kamdeboo, Groot Karoo of Kalahari het hy ’n hopie klippe opgestapel. Die volgende dag het jy sy perd gevat en suidwaarts gery om teen sononder weer ’n hopie klippe te stapel. Op dié manier het hy sy plaas afgebaken, dit ’n naam gegee en later op sy naam gaan registreer, sê die mite.

Ek golf terug en vooruit in die tyd: terug na Opperman se gedig, vooruit na Van der Merwe se werk; terug tot diep in my onderbewuste; vooruit na wat ek wil skryf. Die bestanddele vir ’n gedig is nou bymekaar.

 

vlae

      (vir Strijdom: interpretasie van ’n kunsmanifes)

 

soos die eerste man op die maan

plant hy sy vlae hier ondermaans

en bons lomp van blydskap

tussen bossies, sand of graan

 

rooi rye vlae in dié uitgestrekte land

verdeel lug en grond sonder gramskap

oor die vlaktes by Wellington

verby Calvinia tot aan Sakrivier se kant

 

wapperend klap-klap die grenslyn

tussen êrens heen gaan

en nêrens by aankom

en alles… alles is sy eiendom

 

sidderend smelt dié lugspieëling saam

oor Krobossies, sand of graan

eindeloos hierdie skarlaken bloedlyn

’n streep getrek deur ’n land se pyn

 

In die wonderlike wêreld van intertekstualiteit gooi bogenoemde gedig anker uit in die see van Opperman se oeuvre. Edms. Bpk. eindig met die slang se woorde:

 “Alles … alles my eiendom.”

In *vlae word die grond op ’n abstrakte manier Van der Merwe se eiendom. Hy baken dit af en probeer dit vir homself toe-eien, of so hengel ek betekenis.

“en alles … alles sy eiendom”

Wie intertekstualiteit ken, weet hoe ’n nuwe gedig kan reageer op ’n ou gedig. Dit bly die leser se taak om vir homself te besluit of so ’n nuwe gedig die ouer gedig ondermyn of bevestig of iets anders daarmee doen. Deur talig te reageer op visuele kuns (ongeag of dit ’n foto van landskapskuns of ’n skildery van Mona Lisa is) betrek ek ekphrasis, ’n soort intertekstualiteit. In die post-modernistiese wêreld waarin beeldkultuur dreig om die oorhand te kry, maak digters wat ekphraties werk oor die algemeen kykers se oë oop om wéér en anders te kyk. Interpretasie van die nuwe gedig lê met ander woorde volledig by die leser en sy leeservaring. Elke digter is uitgelewer aan sy lesers.

Wie ook al na ’n foto van Van der Merwe se kuns met vlae kyk, weet dit was vervlietend – net so vervlietend soos die vlag van die man op die maan, alhoewel… Al wat ons daarvan oorhou, is beelde en miskien woorde oor beelde.

 

*vlae (Uit: Woorden over Beelden (Des.2012); Uitgewery Smit van 1876; Venlo, Nederland)

 

Carina van der Walt is in Welkom gebore. Sy studeer aan die Noordwes Universiteit en voltooi in 2004 haar M.BA in ’n vergelykende studie oor Afrikaanse en Nederlandse poësie. Sedert 2007 woon sy in Nederland. Sy werk as permanente joernalis vir die kunstydskrif Beelden, as verslaggewer vir LitNet, resenseer en vertaal gedigte en dig. Twee dosyn Afrikaanse en Nederlandse gedigte is gepubliseer in Beelden, Brabant Literair, Literator en die bloemlesing Theater van de Verloren Tijd, saamgestel deur Floris Brown. Vertaalprojekte sluit in ’n aantal gedigte van TT Cloete vir die Poëziekrant in Gent en Ramsey Nasr vir Versindaba. Van der Walt skryf soms vir die tydskrifte ZAM en DE KAT en die webwerf kempis.nl. Sy het enkele Nederlandse digbundels vir TilburgZ.nl. geresenseer.

Carina van der Walt

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •