Carina van der Walt. Een fees, drie digters (deel 1: Antjie Krog)

Dis nou drie weke gelede dat dit die Afrikaanse fees in Den Haag was. Drie digters is uitgenooi om hier te kom optree: Antjie Krog, Ronelda Kamfer en Gert Vlok Nel. Al drie hierdie digters roep by my paradokse op. Ek probeer om deur die oë van die Nederlandse én die Suid-Afrikaanse feesgangers na hulle te kyk. My eie ervarings met die betrokke digters bly egter nie in die proses onaangeraak nie.

 

Antjie Krog staan op die verhoog soos ’n vrou wat haar staan kan staan. Voete net effens breër as skouerbreedte geplant. Ek staal my. Ek ken haar handskrif uit 2002 toe sy my eksemplaar van Kleur kom nooit alleen nie onderteken het met “op John se verjaarsdag”. Dit het sy geskryf net onder die woorde waar die bundel opgedra is:

 

VIR JOHN

wat ’n man is

van sy woord  

 

Dit was Antjie Krog vir my – ’n digteres wat liewers by haar John wou wees as om in Dikhololo voor te lees by ’n simposium. Jare later luister ek weer na haar in Den Haag waar sy praat oor haar werk vir die Waarheids- en Versoeningskommissie. Ek was saam met die Nederlanders hoogs beïndruk. Suid-Afrika se politieke en rasseprobleem was in Krog se voordrag goed deurleef. Daar was niks verdag aan die moedeloosheid en wanhoop wat soms in haar stem en liggaamstaal deurgeslaan het nie. Haar joernalistieke verslae – Country of my Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to be Black (2009) – geniet in Nederland besonder baie status. Jy maak nie jou mond oop oor Krog se oeuvre as jy nie dié boeke gelees het nie. Dit is die konteks waarteen ’n groot deel van die Nederlandse publiek na Krog luister. Wat my pla is die vraag teen watter agtergrond die Afrikaanse publiek na Krog luister: nog steeds haar jeugwerk Ma of geëtiketteer met ‘daar het ons Antjie alweer wat liewers swart as wit wil wees’? As Afrikaanse lesers so min groei of so vinnig gryp na etikette, dan verdien hulle seker ’n bruuske “op John se verjaarsdag”.

 

Tydens 2013 se Den Haag-optrede rek my oë hoe langer Krog voorlees hoe groter. Sy begin haar program met reëls uit die ongepubliseerde gedig, Ete 1:

 

om te kook is ’n daad van hoflikheid

en

die naelstring tussen ons en die wêreld is die kastrol

 

Huh? Krog kook kós? Gelukkig herkenbaar vir my neem sy direk daarna polities betrokke jukstaposisie in tussen twee stelle fragmente uit dagboeke aan die begin en einde van die twintigste eeu. Dis uittreksels uit Wondweefsel in Kleur kom nooit alleen nie. Daarna word die program intiemer. Krog lees ’n gedig van ’n ouma wat na die sonar van haar twaalf weke oue kleinkind in wording kyk. Dis onverwags ’n aangrypende paradoks, want die harde konfrontasie is weg met woorde soos:

 

die vreemde varinkie daar is my bloed

 

In ode vir ’n ander lewe (nou uit Verweerskrif) is die opstandigheid in die ek-gerigtheid liniêr aan die algemene opstandigheid wat poësielesers van Krog ken.

 

ek wil ’n ander lewe hê

ek wil in ander strate loop

 

Die teenstelling in dieselfde gedig lê opgesluit in haar kind-gerigheid. Hierdie ma gun haar kind alles wat syself nie het nie, ook as dit ’n oorsee toe ganery voorspel.

 

… geliefde kind

ma wil hê dat jy moet weet

dat ek ontroer is deur jou weerlose dapperheid

dat ek duisel van hoe diep jy in die liefde belê

 

Die kind se weggaan gee aanleiding tot verwarde gedagtes en skreiende pyn in die gedig vertrekkende. Krog verwoord wat elke ander ma in dieselfde situasie dink en voel, maar sy sis soos net Krog kan sis:

 

… jissis! ek bloei, kind.

 

Dis ’n ander storie met Manifes van ’n ouma. Die publiek giggel oor Krog se omslag van gelatenheid na ’n kragtig ouditiewe geveg met oudword. Met opgeblasse bolwangetjies sus sy al die mans in die gehoor met ’n Freudiaanse angs vir p**se met tande.

 

‘Ouma’ het  so ’n poefklank, klink so mollerig

so half bollerig, dit mompel so poesloos, so tandeloos

 

Sy reduseer dit tot

 

Toe tref dit my: die oerbegin van my renons

in die woord ‘ouma’ kom van die

bekende kinderrym ‘Ouma en Oupa’

wat so op daai bliksemse stoep sit

met hulle loslippige knypspiere.

 

In Den Haag eindig die program Al wat kind is met die kinderrympie Antjie Somers. Krog het almal verlei en sonder enige baklei in haar sak gestop. Sy lag haar laaste Antjie Somers-laggie. Paradoksaal gevaarlik en betowerend. Dit klink soos pasop, want Krog het ontdek wat teoretici sê: die oordrag van feëverhale is volledig afhanklik van ou vrouens. Sy kook!

Fotofragment uit The Three Fates (2008) van die Japanse fotograaf Miwa Yunagi. Fotograaf: Carina van der Walt. Tentoonstelling Female Power 2013, MMKA, Nederland.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Carina van der Walt. Een fees, drie digters (deel 1: Antjie Krog)”

  1. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Carina, vir dié blog. Ek vind die Nederlanders se uitkyk op haar oeuvre interessant. Mens kan nogal verstaan hoekom hulle haar veral vanuit ‘n politiese konteks lees aangesien Nederland een van die lande was wat apartheid ten sterkte veroordeel het. Altyd lekker om nog ‘n vars perspektief te kry op ‘n digter/skrywer.

  2. carina van der walt :

    Vir my lê Nederlanders se bewustheid van en perspektief op apartheid gesetel in twee dinge: skuld en skok. SKULD: omdat dit die Amsterdammer, Hendrik Verwoerd, was wat die apartheidsideologie soos ‘n saadjie in die ryp Afrikaanse bodem kom plant het. SKOK omdat hulle joernalistieke verslae, dokumentêre en speelfilms met gruweldade van marteling en moord gesien het, wat ons nie of nouliks gesien het nie. Ons is dom gehou. Ek moes emmigreer om hier voor die TV in angssweet te kom worstel met die verskriklike onreg wat destyds onder ons neuse gebeur het.

  3. Maria :

    ‘n Lieflike “op-die-man-af (“straightforward”, droiture, à la Levinas)verslaggie. Dit vat die rykheid en omvang van Krog se diskoers goed vas, en veral ook die distansie (dis-tanz, vergelyk Derrida se Spurs, oor die dis-tansie wat jy van vroue moet behou, d.w.s. een van gelyktydig, of heen-en-weer, naderkom en wegbeweeg, ‘n soort wilde woer-woer omweg)wat sy handhaaf. Die foto van die voete so aards en “manhaftig” geplant is ook baie vermaaklik – want die hare blink en lyk baie glansryk en gesond. Die foto van die “Three fates” is ook baie juis. Sien uit na die volgende raakvat verslaggies.

  4. Maria :

    Net vir meer volledigheid rakende Levinas se nosie van “straightforwardness” – Derrida het natuurlik gewys hoe dit natuurlik allesbehalwe (net) “straightforward” is, dit is veel eerder iets soos “op-die-vrou-af”, wat dit ook al mag beteken. (Vir Nietzshce was daar ten minste drie soorte vroue … ). Krog is ‘n vrou wat vinnig ‘n paar soorte vroue se skoene kan volstaan, sy skroom nie om te sis, sus of suig* nie … *(in die volle sin van die woord, insluitend) simpel te staan of lyk nie. Haar sin vir humor is heerlik – ek het “Manifes van ’n ouma” al vir ‘n paar mense voorgelees, die reaksies wat ek kry is altyd heerlik! Carina, soos jy kan sien het jy my behoorlik aan die skryf gesit, en dit is mos wat Cixious gesê het die hele punt van vroue wat skryf is!

  •