Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
6 August 201324 June 2014

Marlies Taljard. Katedrale – Debussy & Messiaen

La cathédrale engloutie (die gesonke katedraal) (1910) is ʼn prelude vir solo-klavier deur die Franse impressionistiese komponis Claude Debussy. Hierdie sensitiewe stuk skryf die komponis na aanleiding van die legende oor die versonke stad Ys, wat ek in my vorige blog bespreek het. In sy gedig Gesonke Katedraal, die openingsgedig van die bundel Vol Draadwerk, verwys Marius Crous in die voorlaaste reël na hierdie prelude wanneer hy sê dat hy “die seegroen toonkleur van debussy / nog kan hoor”. Ook in die volgende gedig, Duiker by Ys-eiland, kus van Bretagne, sê die digter: “hier is geen klavier of fluit”. ʼn Mens sou dus kon aanneem dat beide dié gedigte Debussy se La cathédrale engloutie as interteks het. In die volgende bespreking sal ek in meer besonderhede hierop ingaan – vandag slegs ʼn kort bespreking van Debussy se werk, asook van Messiaen se Apparition de l’Église éternelle (verskyning van die ewige kerk), wat die interteks van die volgende gedig, Messiaen, is.

Claude Debussy

La cathédrale engloutie is die tiende prelude in Debussy se eerste volume klavierpreludes en is ʼn goeie voorbeeld van sy impressionistiese komposisiestyl deurdat dit ʼn konkrete voorwerp op musikale wyse uitbeeld. Die prelude is gebaseer op die legende van die stad Ys wat volgens oorlewering onder die see weggesink het. Soms kan die katedraal van Ys nog gesien word waar dit op ʼn helder oggend aan die kus van Bretagne uit die helder water van die see verrys. Dan kan die geluide gehoor word van priesters wat himnes sing, die klokke wat beier en die imposante orrel wat speel. Om hierdie toneel uit te beeld, maak Debussy van bepaalde harmoniese patrone gebruik wat tipies is vir die musiek van die impressionisme. Hy begin die werk byvoorbeeld (in pianissimo) met ʼn reeks parallelle vyfdes. Die eerste akkoord bevat ʼn oop vyfde interval waardeur die geluid van klokke geïmiteer word. Nog ʼn kenmerkende Debussy-eienskap wat in hierdie werk voorkom, is sy gebruikmaking van die pentatoniese toonleer – ʼn antieke Oosterse toonaard wat op ʼn 5-toonskaal gebaseer is. Dit herinner ook aan die organa in Middeleeuse psalmodie. Die opgaande vyfdes simboliseer die katedraal wat stadig uit die see verrys.

Na die inleidende mate moduleer die musiek na B-majeur – ʼn aanduiding dat die katedraal uit die see verrys het. Nou volg daar ʼn reeks narratiewe instruksies, byvoorbeeld Peu à peu sortant de la brume (Verskyn bietjie vir bietjie uit die mis). Die toonsterkte neem algaande toe, totdat die magtige orrel in maat 28 in fortissimo gehoor word. Vanaf maat 62 neem die toonsterkte weer af, wanneer die katedraal wegsink onder die see. Die onderwater-effek word gewoonlik verkry deur gebruik van ʼn halfpedaal. In die laaste mate kan nog net die wegsterwende vyfdes van die klok in pianissimo gehoor word.

In die opbou van die prelude maak Debussy hoofsaaklik van twee motiewe gebruik en nie van tematiese materiaal nie. Die motiewe word op meesterlike wyse soos ʼn tapisserie op alle moontlike plekke in die stuk ingewerk wat, tesame met sy innoverende gebruikmaking van harmonieë wat vir sy tyd grootliks onbekend was, verantwoordelik is vir ʼn besondere klankkleur.

Die derde gedig in Vol Draadwerk begin met die reëls: “messiaen lig die katedraal / wat debussy laat sink het / soos ʼn hand vol skulpgruis / uit die see”. Hierdie gedig verwys na Olivier Messiaen se bekende orrelwerk Apparition de l’Église éternelle (1932) wat volgens homself in gesprek tree met Debussy se La cathédrale engloutie. Apparition is ʼn meditatiewe werk wat spesifiek vir die orrel van La Sainte Trinité in Parys geskryf is waar Messiaen vir 50 jaar die orrelis was. Daar word dikwels beweer dat hierdie werk slegs op orrels wat in die Franse styl gebou is, uitgevoer kan word. Hierdie werk word gekenmerk deur ʼn stadige, gedrae sonore styl waarin die oop vyfde intervalle as imitasie van klokke wat lui, deurgaans aanwesig is. Hoewel dit in die koraalstyl geskryf is, vertoon dit, wat wisseling in toonsterkte aanbetref, ʼn tipiese boogstruktuur: dit begin in pianissimo, werk geleidelik op na ʼn tienstemmige C-majeurakkoord in vyfvoudige fortissimo en neem dan weer af na pianissimo. In Messiaen se eie opname van die werk klink die openingsakkoorde, deur kundige gebruikmaking van die swelwerk, asof iets ontsagwekkends op die horison verskyn. Hierdie besondere komposisie kan slegs op die orrel tot sy reg kom. Messiaen het ʼn gedig oor sy Apparition geskryf, waarvan die Duitse weergawe soos volg lui:

Gemacht aus den lebendigen Steinen,

Gemacht aus den Steinen des Himmels,

Erscheint sie am Himmel:

Es ist die Braut des Lamms!

Es ist die Kirche des Himmels

Gemacht aus den Steinen des Himmels,

Welche die Seelen der Auserwählten sind.

Sie sind in Gott und Gott in ihnen

Für die Ewigkeit des Himmels!

(Gemaak van die lewende stene,

Gemaak van die stene van die Hemel,

Verskyn sy in die lug:

Dit is die Bruid van die Lam!

Dit is die Kerk van die Hemel

Gemaak van die Hemelse stene,

Wat die siele van die uitverkorenes is.

Hulle is in God en God in hulle

Vir die duur van die ewigheid van die Hemel.)

Olivier Messiaen

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

2e gedagtes oor “Marlies Taljard. Katedrale – Debussy & Messiaen”

  1. Marlies Taljard says:
    19 September 2013 at 08:27

    Baie fassinerend, Annora! Jy kan gerus vir ons meer vertel.

    Reply
  2. Annora says:
    19 September 2013 at 01:03

    My musiekonderwyseres op skool – Jettie Webb – sy het vir my ontleding gegee in die middae vir musiek as sewende vak, het vir my gewys mens kan katedraaltorings teken tussen die note van hierdie gesonke katedraal bladmusiek. Ek sal bietjie more my Preludes boek soek en kyk. Lanklaas daarna gekyk.
    Baie interessante bespreking.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • bevan boggenpoel. winter
  • Willem de Swyger. Ou Steenmaker
  • Krige Visser. olie op die vier
  • Miel Vanstreels. Terug
  • Elisma van Zyl. Tydloos

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d