Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
16 September 201310 February 2020

Bam Ki Boen. Die herfspampoen

 Foto: Helize van Vuuren 

 

Vandag is dit die verjaarsdag van een van ons mees gewaardeerde digters. Ter viering van dié besonderse geleentheid het hy onderstaande skryfsel vir plasing gestuur. En vir die duur van vandag pas die naam “Bam Ki Boen” hom soos ‘n handskoen. (Sy woordspel.)

Daarom – Boen apetite, Meester Boen!

*

Die herfspampoen

‘n Man was van plan om vir hom ‘n pampoen te koop vir sy verjaardag die sestiende September die tyd was op hom en hy wou nie nalatig wees teenoor sy vriende nie net nou dink hulle hy is dood sonder om te laat weet dat dit te laat is selfs vir laatwerk die kalf is klaar deur die kerk en hy’t nog in die koster se fyntuin gemis ook. Wat jy waar gaan kry? het sy vrou vir hom gevra. Die kalf? Nee, jou bobbejaan, die pampoen! Jy weet tog die pampoenseisoen is verby dis nou die tyd van vlieë en sampioene en swaeltjies op die vlerk vir vertrek. En pampoene is nie inheems aan hierdie streek nie. Maar is dit dan te veel gevra om iewers ‘n geel pampoen in die hande te kry vir my verjaardag die sestiende September hier is mos ‘n mark in die dorp en geel is tog die kleur van volhoubare onafhanklikheid in die geweste my vriende verwag dat ek die pampoen sal vreet en my bek hou asof dit reeds vol grond is in die aarde by wyse van spreke? Te laat te laat het sy vrou gesê. Die son het nou wel gehurk in eie skaduwee asof sy die hitte uit haar lyf moes baar maar aan die einde van die dag was daar nog pampoen nog versoening nog skoene vir ons dogter wat kaalvoet deur die lewe moet gaan op soek na die goue kalf en waar is die vriende wat jy wil beïndruk selfs jou tjom moes erken jy’s die grootste kakprater in die suidelike halfrond. Maar ons woon dan in die noorde het die man teëgewerp. Wat! Kak is kak noord of suid en jy het so baie gemiddelwêreld-middelwêreld dat ons tot selfs ons tale kwyt is hoekom gaan vang jy nie liewers die maan nie? Omdat ek nog elke jaar ‘n pampoen gekoop het vir my verjaardag die sestiende September het die man gemompel. O wee. Iewers moet daar tog nog ‘n ou pampoen boeppens en geel op ‘n sinkdak lê al is sy ook net ‘n windswelsel wat moet keer dat drome nie die plate lig en wegvlieg maan toe nie. Te laat! sê sy vrou. Selfs al sou daar iets so buiteseisoenliks ingevoer uit Sjina word ook dan nog kan mens nie ‘n dronk bobbejaan op die dak laat klouter nie. Nou praat jy in raaisels sê die man en hou sy kop vas asof hy wil ween. Die tyd is op jou sê sy vrou en dis normaal dat jy nie meer die verskil tussen pampoensoek en maanvloek kan verstaan nie. Hoe meer verslete en deursigtig die vleeskleed hoe digter geweef die sluier om wat moet kom. Wat sou sy van praat? Wat het oogskille met laatwerk te doen? Sal die bobbejaan en die kalf dan baklei vir ‘n sonvrug wat toe nooit bestaan het nie? Beter om dan maar hierdie woordpitjies soos ‘n soen aan die papier toe te vertrou en vir my verbeelde maanskynvriende te stuur. Beter nog om nie te verjaar nie. Maar wat sal ek nou hê om hoog en laag te soek vir my verjaardag die sestiende September?

 

Can Ocells, 16 September 2013    

(c) Bam Ki Boen 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

7e gedagtes oor “Bam Ki Boen. Die herfspampoen”

  1. Leon Retief says:
    18 September 2013 at 03:26

    Askies ek’s ‘n dag laat maar ek hoop die verjaardag was vreugdevol!

    Reply
  2. Waldemar Gouws says:
    17 September 2013 at 21:44

    Hierdie pampoen is gelukkig nie die staatspampoen van 1964 nie! Alhoewel mens nooit regtig weet nie. Mag die tyd jou met geel handskoene hanteer, Bam Ki Boen.

    Reply
  3. Melanie Grobler says:
    17 September 2013 at 04:53

    Baie dankie vir die pampoen verhaal en baie geluk met jou verjaarsdag Breyten.

    Reply
  4. Marlise says:
    16 September 2013 at 17:23

    vlam. vir bam ki boen

    die dag se vlam is vloeiend
    helder soos lemoensap
    voller as pampoen
    in die glaskom van die heelal
    vry en tog ook vasgevang
    los en vasgestik aan
    sy aardse pit

    waarom dan so mooi
    waarom so hipnoties in
    die sagte kleur van geel fluweel
    as ons jou verjaarsdag vrolik
    in ‘n ander ruimte skink?

    Reply
  5. Desmond says:
    16 September 2013 at 16:13

    Pampoenskop!

    Reply
  6. Francis says:
    16 September 2013 at 15:44

    Beste Bam Ki Boen. Mag die son genoeg skyn en die reën op die regte tyd val vir die woordpitte om te gedy sodat daar ‘n ryk oes in hierdie jaar kan wees. Francis & kie

    Reply
  7. Andries Bezuidenhout says:
    16 September 2013 at 15:28

    Baie geluk aan Bam Ki Boen! Hier’s ‘n liedjie spesiaal vir die dag – ‘n plaaslike antwoord deur wyle Doris “Psy” Brasch op “Gangnam Style”?
    https://www.youtube.com/watch?v=YhvBFYDuFag

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • bevan boggenpoel. winter
  • Willem de Swyger. Ou Steenmaker
  • Krige Visser. olie op die vier
  • Miel Vanstreels. Terug
  • Elisma van Zyl. Tydloos

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d