Jaco Barnard-Naudé. Sheila Cussons se ‘1945’: ’n Lacaniaanse ontleding

1945

Europa lê in puin: ‘n swart koerantberig,
staccato, stomp; ‘n oggendteegerug.
Europa is ‘n krater in die firmament, niks meer.

Maar deur die blokkiesraaisel van verstarde staal
tuimel die reëngrou duiwe heen en weer,
hunkerend na broeityd, neste op die plein
en paring bo die swart verminkte katedraal.

‘n Aartsengel lê in die reën se glans en stil verteer
die roes sy silwer vlerk, die kosmos van sy silwer brein.

Hierdie inskrywing begin by die outeur, terug van ’n kuier-naweek in Johannesburg, waartydens hy sy vriendin, die Bebaarde Digter, na lang maande weer te siene gekry het. Terug in Kaapstad, sit die outeur Sondagmiddag op sy stoep ’n salige sigaret en rook toe sy Freudiaanse superego hom aanspreek: ‘Waarom het jy so lanklaas iets vir Versindaba geskryf?’, vra die Superego parmantig. Nou omdat ek en die Superego goed bevriend is, weet ek teen dié tyd al dat verskonings – hoe geldig ookal – nie gaan help nie. Ek sal iets moet doen. Op dees aarde waarom ek toe op daardie oomblik aan Sheila Cussons se gedig ‘1945’ uit haar debuut, Plektrum (1970) dink, sal ek nie kan sê nie. Carl Jung sou wel met die een of ander verduideliking vorendag kon kom, dié weet ek. En as ek hard dink kan ook ek seker ’n Jungiaanse verduideliking saamflans, gebaseer op Jung se beginsel van sinkronisiteit en die waarneming dat 1945 die jaar is wat vereenselwig word met vrede (na die (Tweede) Wêreldoorlog). Maar op die ou einde is ek meer gemaklik met Freud en Lacan. Toe kyk ek of ek nog op die Versindaba-bydraersblad kan aanteken en vind toe dat ek wel kan. Op die daad besluit ek om dit as ’n teken te benader en (na ’n soektog van byna ’n uur na my eksemplaar van Plektrum – wat ek (tekenend) tussen Ted Hughes se Poetry in the Making (1967) en Carol Ann Duffy se Rumpelstiltskin and other Grimm Tales (1999) vind) skryf ek die volgende Lacaniaanse ontleding van ‘1945’:

Vanuit ’n Lacaniaanse oogpunt is die mees prominente beskrywing wat ons in ‘1945’ aantref dié van aftakeling en dan die spesifiek psigiese aftakeling wat plaasvind wanneer die Verbeelde ineenstort. Hierdie aftakeling is so aangrypend in die gedig as geheel, omdat dit op beide die vlakke van inhoud en vorm figureer. Wat vorm aanbetref, skep die wye kruisrym ‘n atmosfeer soortgelyk aan ‘n bomaanval – dit suggereer die trajekte van vuurpyle, handgranate, koeëls of bloot van ‘n val of ineenstorting (sien ‘staal’-‘katedraal’, ‘weer’-‘verteer’ en ‘plein’-‘brein’). Inhoudsgewys kan mens hierdie proses van aftakeling begin volg deur in die konteks daarop te let dat die eerste betekenaar in die gedig, die woord ‘Europa’, Lacan se kategorie van die Verbeelde verteenwoordig – ’n konsep wat Lacan onderskei van twee ander in ‘n analitiese triade: die Reële en die Simboliese. Saam vorm die Verbeelde, die Reële en die Simboliese die dimensies van wat Lacan as die Borromeaanse knoop van menslike belewing beskryf. In beide Lacan se geskrewe werk en in sy lesings is die Verbeelde die eerste term wat na vore tree. Dit is dus unheimlich en beduidend dat die betekenaar van die Verbeelde (‘Europa’) (ook) in Cussons se gedig eerste staan. Die Verbeelde verteenwoordig daardie gedeelte van ons psige waarin ideale en ’n Ideale Geheel bedink kan word. Die primêre proses van psigiese ontwikkeling waarin die Verbeelde voorop staan, is die proses van ego-vorming waarna Lacan as die spieëlfase verwys. Die jong kleuter-subjek sien haarself in die spieël en erken die spieëlbeeld as haarself. Tydens hierdie proses vorm die kind vir haarself ’n fantasie-beeld van haarself as stabiel, koherent en heel, terwyl dit nie die geval is nie – die subjek in Lacan is altyd ‘n gesplete subjek. Die vorming van die fantasie-beeld as Ideale (Voltooide) Ego is, volgens Lacan, noodwendig die geval aangesien die spieëlfase ’n kompensasie-reaksie is vir die gevoel van skeidingsangs wat die kleuter ondervind by bewuswording dat sy fisies onafhanklik van die moeder (en ander objekte in die onmiddellike leefwêreld) bestaan. Toegepas op Cussons se gedig, is dit my argument dat ‘Europa’ letterlik in ‘1945’ in die teken staan van die Westerling se kollektiewe ‘Ideale Ego’. Europa is immers die vasteland waarin die idees van die Verligting ontstaan het en ontwikkel is. Dit was en is steeds (hoewel in mindere mate) vir die Westerling die betekenaar van menslike Beskawing, Vooruitgang, Oorwinning, Voltooidheid en Eenheid.

‘Europa lê in puin’ dui, vanuit hierdie invalshoek, dus nie net op die ontsetting en vernietiging van die landskap deur oorlog nie, maar op die vernietiging van die ideaal van menslike verwerkliking wat Europa verteenwoordig. Europa is ’n ‘swart koerantberig’ afgetakel tot ’n ‘oggendteegerug’, met ander woorde, daar het van Europa op beide Verbeelde en Simboliese vlak minder as niks oorgebly nie. In Lacan is die Verbeelde en Simboliese nou aan mekaar verbonde en in ’n voortdurende spanningsverhouding met die Reële – die chaotiese primordialiteit van absolute voor-simboliese en onbemiddelde materialiteit, dit wat nie tot die Simboliese orde van taal behoort of kan behoort nie, wat letterlik onbeskryfbaar en onwerklik is. (Slavoj Žižek skryf in sy boek Welcome to the Desert of the Real (2002) insiggewend oor die rol van die Reële in die konteks van 9/11.) In ‘1945’ verteenwoordig die ‘swart koerantberig’ die Reële dimensie – ’n swart koerantberig is letterlik ’n berig wat geen woorde bevat nie. En dit is Europa self wat nou tot hierdie ‘swart koerantberig’ gereduseer is, ’n ‘krater’ of swart gat (’n ster wat op sigself ineengestort het) van niksheid, sinneloosheid, vernietiging – ‘n blackout. Van die Ideale Ego Europa, wat eenmaal goed en mooi was, het slegs ’n ‘oggendteegerug’ oorgebly. Dit is welbekend dat die Finale Oplossing ’n bepalende krisis in die intellektuele diskoers van die Weste veroorsaak het. Hierdie krisis van Rede en Orde is op sy eerlikste beskryf in die werk van die Frankfurt-skool en spesifiek in Adorno en Horkheimer. Ook Heidegger se werk oor Nietzsche en die einde van die metafisika staan in die teken van hierdie krisis.

Hoewel Cussons waarskynlik nie self met Lacan se werk vertroud was nie, was sy op intuïtiewe vlak egter deeglik bewus van die Lacaniaanse insig dat die menslike werklikheid nie sonder die Verbeelde kan bestaan nie, dat selfs die traumatiese ineenstorting van die Verbeelde in die Reële wat die Tweede Wêreldoorlog vir Europa beteken het, nie die moontlikheid van ’n herstel kon uitsluit nie, maar dat  enige sodanige herstel in die eerste plek afhanklik sou wees van ’n herstel van die Verbeelde / verbeelding. Met ander woorde, Cussons wou ruimte skep binne die gedig vir die moontlikheid dat Europa sou herstel van die kollektiewe psigose waarin dit tydens die oorlog verkeer het. Om hierdie rede bewoord sy hoop en verbeeld sy die moontlikheid van oplewing in Europa in die tweede strofe van ‘1945’, waarin die ‘reëngrou duiwe’ hunker na ‘broeityd’ en ‘paring’ – woorde wat dui op die proses van geboorte, die totstandkoming van iets nuuts.

Maar die slotstrofe dui daarop dat hierdie totstandkoming of herstel ’n lang, moontlik oneindige proses sal wees wat in 1945 ten beste vaag en ver weg was: die primêre proses is steeds die verterende uitwerking van die Reële op die Verbeelde en die Simboliese; die aftakeling van die aartsengel (feilbare mens-subjek) se ‘silwer vlerk’ (vryheid, die Verbeelde) en ‘silwer brein’ (rede, die Simboliese). Tog lê die aartsengel in die reën se ‘glans’ en bly die hoop van hergeboorte nie beskaam nie. Tot watter mate Cussons se versigtige hoop vir Europa / die Weste / metafisiese Rede ’n werklikheid geword het by wyse van ’n herstel van die Verbeelde en die Simboliese is ’n oop vraag. Sedert 1945 strompel Europa voortdurend van krisis tot voortslepende krisis. Kritiese teoretici soos Žižek en Badiou beweer gereeld dat Europa ‘dood’ is, dat dit ten beste ’n soort zombie-agtige na-lewe beleef. Hoe dit ookal sy, ‘1945’ is ’n gedig wat die toekoms (profetiese vooruitskouing) en verlede (sobere nabetragting) in ’n treffende tipering van ‘n huidige werklikheidsoomblik, meesterlik saamvat.


Bookmark and Share

Comments are closed.

  •