Jaco Barnard-Naudé. ‘The past is already changing to the present’: Robert Lowell se gedig ‘Homecoming’

Homecoming

What was is … since 1930;
the boys in my old gang
are senior partners.  They start up
bald like baby birds
to embrace retirement.
At the altar of surrender,
I met you
in the hour of credulity.
How your misfortune came out clearly
to us at twenty.

At the gingerbread casino,
how innocent the nights we made it
on our Vesuvio martinis
with no vermouth but vodka
to sweeten the dry gin –

the lash across my face
that night we adored …
soon every night and all,
when your sweet, amorous
repetition changed.

Fertility is not to the forward,
or beauty to the precipitous–
things gone wrong
clothe summer
with gold leaf.

Sometimes
I catch my mind
circling for you with glazed eye –
my lost love hunting
your lost face.

Summer to summer,
the poplars sere
in the glare –
it’s a town for the young,
they break themselves against the surf.

No dog knows my smell.

Hierdie gedig is opgeneem in Robert Lowell se bundel Day by Day (1976) wat verskyn ‘n jaar voor die digter se skielike dood aan ‘n hartaanval op sestigjarige ouderdom. Die kritikus Allan Holder stip aan dat minstens ‘n derde van die gedigte in hierdie bundel op die een of ander wyse te make het met die element van terugkeer: ‘Again and again in the volume, Lowell takes on subjects he has dealt with in earlier books, and so not only returns to persons, places, and experiences that have figured as important presences in his life, but also, at least implicitly, to his earlier renderings of them’ (Holder 1989:157). ‘Homecoming’ is geen uitsondering nie. Dit gebruik onbeskroomd materiaal uit ‘n vorige gedig (getiteld ‘Returning’) omdat, soos Holder aandui, die verlede vir Lowell onteenseglik aanwesig bly in die hede: ‘Lowell conceives of himself as being caught in a movement that presumably had sent him forth into a future, into change, but that has brought him back to an ever-confining past.’ Dit is dan ook duidelik uit die openingswoorde van ‘Homecoming’: ‘What was is …’ waaroor Katherine Wallingford die volgende opmerk: ‘because there is no comma between the two verbs, the reader is free to turn the statement into an ironic question designed to demonstrate the fact that in the moment of reading (or writing), the past is already changing to the present’ (Wallingford 1988:119). Hierdie is ‘n onkonvensionele en interessante siening – dat dit die verlede is wat morfeer in of tot die huidige. Hoe dit ookal sy, mens het primêr hier te make met die oproep van die geheue in herinnering. En laasgenoemde – die herinnering –  bestaan sedert 1930. Die digter is aan hierdie herinnering verknog, hy kan / wil dit nie vergeet nie: wat was is in die sin dat die spreker in die verlede van die (konstante oproep van) herinnering in die hede leef.

In 1930 was Lowell ‘n seun van dertien en ‘n leerder aan die prominente St Marks School, in Southborough, Massachusetts, waar die Amerikaanse ‘Homecoming’ tradisie onteenseglik ‘n sterk invloed op sy jeugervaringe gehad het. Die gedig roep dus ook daardie aspek – ‘n terugkeer na die dae van Homecoming – op. Die gedig fokus voorts op die digter se ‘outsider’-status: die seuns van sy skooldae is nou senior vennote iewers in die korporatiewe wêreld, ‘They start up / bald like baby birds / to embrace retirement’ (let hier op die speling / spanning tussen jonk en oud en oud en jonk in die beeld). Deur hom te verwyder van hierdie beeld doen die digter natuurlik ook aan die hand dat hy nie aftrede verwag of met blydskap inwag nie. (Dit is bekend dat by publikasie van hierdie gedig Lowell reeds oortuig was dat hy nie meer lank sou leef nie.)

Die daaropvolgende sin spreek ‘n geliefde aan (moontlik ‘n jeugliefde wat blywend was, wat die digter nie kon vergeet of van loskom nie). Maar hierdie liefde was nie bestem nie: ‘your misfortune came out clearly / to us at twenty’. Die digter het die geliefde in 1930 ontmoet en sewe jaar later was die aangesprokene se ongeluk (die suggestie is dat dit reeds vroeër vermoed is) definitief.

Die volgende strofe keer terug na gebeurtenisse / ervaringe met die geliefde. ‘n Sprokiesagtige atmosfeer word geskep met die ‘gingerbread casino’-verwysing, maar ook ‘n gevoel van risiko met die plasing van ‘casino’, skemer deur. Daar word verwys na onskuldige nagte wat oorleef is met ‘Vesuvio martinis / with no vermouth but vodka / to sweeten the dry gin’. Die vodka wat gebruik word om die droë jenewer te versoet is ‘n allegorie: die geliefde is die vodka wat die jenewer (die lewe) versoet.

Vervolgens onthou die digter die raps oor sy gesig een aand toe hy en die geliefde intiem verkeer het. Hier het ons ‘n keerpunt in die gedig. Die verwysing na geweld word nou eksplisiet en die digter dui op die wending in die verhouding ‘when your sweet, amorous / repetition changed.’ Die vyfde strofe brei uit op hierdie wending en die totnietgaan van die verhouding deur oorhaastigheid of ongeduld. Hierdie beëindiging vergul die somer van hul liefde en verewig dit, maak dit bestand teen die verweer van tyd, teen vergeet. Dit is bekend dat Lowell en sy eerste vrou op twintigjarige ouderdom in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was waarin hy geringe beserings opgedoen het, maar sy permanent geskend is. Die verhouding tussen hulle was nooit weer dieselfde nie. Lowell verwys waarskynlik hier ook na bogenoemde insident en hoe hy haar daardeur ‘verloor’ het.

In strofe ses reminiseer die digter aangrypend (by wyse van die beeld van ‘n arend of valk op jag) oor sy verlore geliefde. In die voorlaaste strofe kom besinning oor oudword en die aflegging van hierdie liefde by wyse waarvan die ‘outsider’-status herhaal word: ‘it’s a town for the young’ en die digter is oud, sien nie meer kans vir liefdesverhoudings wat seermaak en uitmergel nie: ‘they break themselves against the surf’ (my kursivering). In die slotstrofe word die naderende dood betrek: die digter word ‘n vreemdeling vir hierdie plek of streek waarin jeug en liefde gedy – geen hond ken (meer) sy reuk nie.

Bronne:
Holder, A. ‘Going Back, Going Down, Breaking: Day by Day’ in S.G. Axelrod & H. Deese (1989) Robert Lowell: Essays on the poetry. Cambridge University Press.
Wallingford, K. (1988) Robert Lowell’s Language of the Self. University of North Carolina Press.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Jaco Barnard-Naudé. ‘The past is already changing to the present’: Robert Lowell se gedig ‘Homecoming’”

  1. Louis Esterhuizen :

    ‘n Wonderlike stuk, Jaco. Maar – ek plaas wel ‘n vraagteken by jou slotsin, die “geen hond ken (meer) sy reuk nie”. Ek dink die implikasie is dat hy hom nooit tuisgevoel het in die jeugdorp/wêreld nie; dat daar nooit ooit ‘n hond was wat hom (as simbool van kleindorpse vrede) kon verwelkom en/of herken nie. Die ironiese titel “Homecoming” is dus geen tuiskoms nie, maar verlies: “My lost love hunting / your lost face”.
    Inderdaad is Lowell ‘n wonderlike digter. Dankie hiervoor.

  2. Jaco Barnard-Naudé :

    Dankie vir jou kommentaar, Louis. Ek lees die titel anders. As iets wrang, iets bitter. Die gedig ís ‘n tuiskoms: ‘n tuiskoms by wyse van aanvaarding dat die spreker-digter nooit tot die wêreld / dorp / ‘homecoming’ (van jeug en liefde) behoort het nie.

  •