Wicus Luwes. Tonnel-taal

Ek onthou tot vandag toe my eerste en enigste keer binne ‘n otter-tonnel. Ek was seker so Standerd 1-outjie en het somtyds by ‘n klasmaat op hul plaas gaan kuier vir die naweek. Ons het die plaas platgery saam met sy pa. Op een van die plekke waar ons stilgehou het, was ‘n groot plaasdam en ou otter-tonnels in die damwal. Die ingang na die tonnels was op meer as een plek gebreek en ons kon daar inkruip. Dit was nie wyd nie en ons het party plekke maar gespook om deur te kom. Dit was egter ‘n avontuur soos min, want alhoewel die otters nie meer daar gebly het, kon allerhande ander gediertes hulself tuisgemaak het in die gratis huisvesting. Ons het dus nie presies geweet wat om te verwag terwyl ons deur die tonnels beweeg het nie. Dit was vir my ongelooflik om in ‘n woning te wees wat nie deur ‘n mens gemaak is nie en tog stukke bouwerk insluit. Verskillende ingange, verskillende vlakke en stokke wat die ingange versper. Dis eintlik jammer dat ons net een keer daar stilgehou het.

Menigte sien kommunikasie en spesifiek ‘taal’ as ‘n brug. ‘n Brug verbind twee klowe, dit kry jou droogvoets oor ‘n rivier. Hmm. Wat daarvan as kommunikasie ook as ‘n tonnel gesien kan word? Wat daarvan as ons eintlik klaar verbind is en net die kommunikasie-kanale moet oopgrawe? Dit sal ‘n mens anders laat dink oor hoe ons dinge interpreteer en miskien hoe ons dinge verwoord of vertaal. ‘n Tonnel het die potensiaal om so ‘n kommunikasie-kanaal te wees.

Waaraan dink jy as jy aan ‘n tonnel dink? Dink jy aan ‘n trein wat onderdeur ‘n stad of deur ‘n berg kronkel? Dink jy aan ‘n mynskag of ‘n mol se verblyf onder jou grasperk? Dink jy aan groente of blomme wat in tonnels verbou word? Miskien dalk die Palestyne wat tonnels onderdeur Israel se grense grawe. ‘n Tonnel bied huidiglik skuiling en afsondering vir Iran se atoomkrag en -wapen (?) eksperimente. Dit bied ‘n plek waar Nederland ‘n ondergrondse stad aan die bou is onder Amsterdam. Tonnels is deur die eeue al baie vir huisvesting gebruik. In Turkye het die Christene in tonnels geskuil vir die aanvalle van ander gelowe. Ons eie Hugenote-tonnel, wat Worcester en die Paarl onderdeur die Klein Drakensteinberge verbind, is miskien hier simbool van ‘n religieuse tonnel wat die Franse Christene onwetend gebou het van Europa na Afrika.

Die tonnels wat ons grawe agter edelgesteentes en ander waardevolle kommoditeite aan moet natuurlik ook deel van die tonnel-gesprek wees. Daar het onwettige mynwerkers verlede jaar iewers aan die Rand vasgeval, maar wat my opgeval het in die nuus-berig was dat hulle die tonnels waarin hulle werk name gegee het. Die een tonnel wat uit die hoofskag uitloop se naam was ‘Facebook’ en die ander tonnel se naam was ‘Twitter’. Dit maak sin dat ‘n tonnel ‘n naam kry om gesprekke rondom dit te vergemaklik, maar by implikasie kry dit dan ook ‘n persoonlikheid. Nog tonnels in die geskiedenis wat name gekry het, was die tonnels wat tydens die ‘Great Escape’ in die Tweede Wêreld-oorlog gebruik is. Die oorlogsgevangenes het tonnels gebou om uit aanhouding te ontsnap. Om seker te maak dat hul plan ‘n  geheim bly het hul die tonnels Tom, Dick en Harry gedoop. Harry is op die ou end gebruik vir die groot ontsnapping. Ek wonder of the tonnels wat die Viët Kong gebruik het tydens die Viëtnam-oorlog ook name gehad het. (Lees meer daaroor in Joan Hambidge se blog https://versindaba.co.za/2014/01/06/joan-hambidge-vietnam-n-digterlike-reisverslag/ )

Dagboek van 'n myner
dis die sesde dag
  in die tonnel
    die sesde dag wat ons
                  die lig
      verruil vir
                  die donker
 stadig met die piksteel
    die dak begin te bewe
       vinnig met die graaf
          daar's baie om uit te haal
 dis die sesde dag
   in die tonnel
     en die brood smaak na grond
       vormloos kruip ons vorentoe
         en volg die pad van die lont
       dieper in die tonnel
     dieper in die aar
   vlakker lê die klippe
 vlakker lê die aar
dit het aand geword
   sonder die maan
      dit het môre geword
   sonder die son
dit was die sesde dag

Leon Retief se tuiste, Moose Jaw, Saskatchewan, het interessante diens-tonnels. Die ongelooflike koue in daardie geweste kan maklik tot vriesbrand lei en gevolglik is tonnels gegrawe waardeur diens-personeel kon beweeg om besighede se verhitting-stelsels (‘furnaces’) aan die brand te hou sonder om aan die koue buitekant blootgestel te word. Tonnels is dus praktiese goed. Dit bied skuiling teen koue of vervolging. Dit bied wegkruip-plek vir gesteelde goedere of onwettige mynwerkers. Dit skep roetes waarin treine kan ry. Die vraag is hoe dit gebruik kan word in ‘n taal of as medium in kuns. Waar word brûe gebou waar tonnels eintlik nodig is? Watter dinge is eintlik reeds verbind, maar slegs geskei deur ‘n bietjie rots of grond? Is vertaling die bou van ‘n brug of die grawe van ‘n tonnel? Anders gestel: Moet ‘n mens fokus op die dinge wat vir albei tale as boustene dien of moet jy eerder nuwe strukture in plek sit om die kommunikasie se laat werk?

Die kenmerke van ‘n tonnel is ook belangrik om ‘n besluit te maak. Tonnels is onheilspellend. Dis donker. Mens wonder of die lig aan die einde van die tonnel daglig is of ‘n aankomende trein. Jou bron van blydskap wat omskep word in ‘n nagmerrie. Bruce Springsteen pas die gevoel toe op die liefde in sy ‘Tunnel of Love’. Dit tref vergelykings tussen die pretpark-rit en die lewens-rit.

Tunnel of Love
deur Bruce Springsteen

Fat man sitting on a little stool
Takes the money from my hand while his eyes take a walk all over you
Hands me the ticket smiles and whispers good luck
Cuddle up angel cuddle up my little dove
We’ll ride down baby into this tunnel of love

I can feel the soft silk of your blouse
And them soft thrills in our little fun house
Then the lights go out and it’s just the three of us
You me and all that stuff we’re so scared of
Gotta ride down baby into this tunnel of love

There’s a crazy mirror showing us both in 5-D
I’m laughing at you you’re laughing at me
There’s a room of shadows that gets so dark brother
It’s easy for two people to lose each other in this tunnel of love

it ought to be easy ought to be simple enough
Man meets woman and they fall in love
But the house is haunted and the ride gets rough
And you’ve got to learn to live with what you can’t rise above if you want to ride on down in through this tunnel of love

Die digkuns van Robert Creeley het my opgeval. Robert Creeley is bekend as lid van die ‘Black Mountain Poets’. Hy/hulle het gepoog (en geslaag) om ‘n nuwe vorm te skep in die digkuns. Ek hou daarvan om die ritme wat ‘n digter skep te ondersoek. Met elke lees van die gedig het ek nader aan Robert Creeley se tonnel-visie of tonnel-gedagte beweeg totdat ek saam met hom in die tonnel was.

The Tunnel
deur Robert Creeley

Tonight, nothing is long enough—
time isn’t.
Were there a fire,
it would burn now.

Were there a heaven,
I would have gone long ago.
I think that light
is the final image.

But time reoccurs,
love—and an echo.
A time passes
love in the dark.

(uit The Collected Poems of Robert Creeley, 1945-1975.)

Tonnels is ‘n plek waar tyd anders werk. Tonnels is ‘n plek waar lig en donker ander betekenis kry. Ons is reeds verbind – ons moet net soek waar die kontakpunte lê. Stap saam met my deur die tonnel. Ruik die gedempte lug. Proe die smaak van die aarde. Loop tot waar die lig weer deurbreek. Binne-in die tonnel is ons deel van die aarde. Tydens interpretasie moet ons deel wees van die dinge wat ons interpreteer. Ek wil graag die dinge wat ek ervaar weergee vanuit ‘n verbintenis met die tonnel. Tonnel-gedagtes, tonnel-idees, tonnel-liefde en tonnel-vrees.

 

Bronne:

1. http://www.azlyrics.com/lyrics/brucespringsteen/tunneloflove.html

2.  The Collected Poems of Robert Creeley, 1945-1975 (University of California Press, 1982)

Foto-bronne:
1. http://walking4air.com/2013/03/08/next-up-on-the-agenda-46/

2. http://www.dailymail.co.uk/news/article-2064068/Tunnel-time-Revealed-67-years-passage-used-Great-Escape.html
3. http://www.darklife.co.za/Cave_Pictures/Andrew_Penney_Collection/Cape/Oudtshoorn/Others/

4. http://www.designverb.com/2007/06/11/tunnel-house/

5. http://www.fengerjune1958.com/member_survey_form.cfm?SurveyID=15049
6. http://www.lakesaquarium.co.uk/show_news.cfm?id=203

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Tonnel-taal”

  1. Leon Retief :

    Wicus, interessant dat jy Moose Jaw gaan google het. Jy sal dus weet waarvan ek nou gaan praat maar vir diegene wat onbekend is hiermee: die hele downtown Moose Jaw word ondergronds deurkruis deur tonnels, baie waarvan toegemaak is. Twee begeleide toere word aangebied deur daardie tonnels wat nog oop is: een, ietwat humoristies aangebied, wat vertel van Moose Jaw en Al Capone. Daar is by sommiges twyfel of hy wel Moose Jaw besoek het maar te oordeel aan wat ek deur middel van my eie navorsing kon vasstel was hy wel soms hier wanneer dit te ongemaklik geword het in Chicago en my tuisdorp was inderdaad destyds een van die plekke waarvandaan “bootleg” drank na die VSA vervoer is. Die ander is die sogenaamde Chinese toer wat ‘n blik bied op die misbruik van Chinese arbeiders tydens die bou van spoorweë in die negentiende eeu. Mens kan daaroor lees by:
    http://www.collectionscanada.gc.ca/settlement/kids/021013-2031.3-e.html
    Baie van hierdie Chinese arbeiders was ten minste tydelik in Moose Jaw en is in haglike omstandighede in die tonnels gehuisves en die Chinese toer draai geen doekies om daaroor nie. Die nasate van daardie Chinese is vandag dankie tog volwaardige en gerespekteerde burgers van hierdie land.
    Daar is nog twee tonnels wat vir my interessant is: wurmgate (wormholes) wat beskou kan word as tonnels tussen twee verskillende lokusse in ruimte-tyd en die fenomeen van “quantum tunneling” – weet nie of daar ‘n Afrikaanse woord is vir “tunneling” nie.

  2. Wicus Luwes :

    Ek het baie geniet om inligting vir hierdie blog in te win. Ek het begin soek na tonnel-name om by te voeg by die Tom, Dick, Harry, Facebook en Twitter en het hoofsaaklik gesoek na na dinge soos ‘hidden tunnels’, ‘tunnel names’, ‘animal tunnels’ ens. Dis hoe ek op die Moose Jaw-tonnels afgekom het. Suid-Afrikaanse tonnels wat ek oorweeg het om te gebruik is die Krugerdorp se bankroof-tonnel (https://www.facebook.com/media/set/?set=o.44210031914&type=3) en Bloemfontein se stormwater-stelsel. Dankie vir die ‘quantum tunneling’ – lyk interessant. Ek wou ook swart gate en vortekse bespreek het, maar dit sal maar moet wag vir ‘n volgende tonnel-storie.

  3. Leon Retief :

    Ander tonnels: ek stel voor dat jy “The Big Necessity” lees, vergeet nou die skryfster se naam, maar wanneer mens oor tonnels wil praat is, um, rioolwerke beslis heel bo aan die lys, gesien dat so baie mense in groot stede woon 🙂

  •