Wicus Luwes. Die waarde van woorde

‘Righty tighty
Lefty loosy’

As alles maar net so maklik was om te onthou. Daardie paar woorde is so eenvoudig en tog so belangrik as jy in die waskamer instap en voel hoe die kouse aan jou voete nat word (en jy besef die kraan moet toegedraaai word).

Sommige woorde is nou maar net van meer waarde as ander. Dit word gou gewild of gou in gesprekke gebruik. Terwyl my kinders na die hedendaagse Teenage Mutant Ninja Turtles kyk onthou ek goed hoe ek so twintig jaar gelede gelees het oor die Oxford woordeboek wat die woord ‘cowabunga’ opgeneem het in die woordeboek. Ek het dit beide interessant en amusant gevind dat so ‘n woord dit tot in die woordeboek gemaak het. Miskien kyk die Oxford woordeboek-mense na die Ninja Turtles gedurende teetye?

In ons eie taal is daar natuurlik woorde wat hul beurt afwag om opgeneem te word in ‘n woordeboek. Die digkuns behoort eintlik ‘n groot bron vir nuwe of nuutskeppings te wees tot ‘n taal. Daar word van tyd tot tyd woorde wat in gedigte gebruik word opgeneem, maar dit moet eers ‘n hele paar regmerkies kry voordat dit opgeneem word. Alet Cloete, Mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, het ‘n paar voorbeelde van sulke woorde aan my deurgegee. Haar voorbeeld “stolp” het my opgeval. ‘n “Stolp” verwys na ‘n glaskoepel waarmee iets bedek word. Dit voldoen aan heelwat van die regmerkies om toegang te verkry en behoort in ‘n volgende S-deel van die WAT opgeneem te word volgens Alet.

Speelgoed langs die grootpad
deur Wilma Stockenström

Ja, in die dorpies met kuiltjies in die wange
Waarom die berge wydsbeen wagstaan
lui die klokke in popkerkies
skuif die skadu’s om die bome

val die rook uit die skoorstene –
so behoue gebly
onder ‘n stolp stil sonlig
kompleet asof mens hul so kan optel
en op ‘n kleedjie op jou spieëltafel sit.

By die graf van ‘n ou dominee in ‘n verwaarloosde kerkhof in die Noordweste
deur S.J. Pretorius

Nou slap hul almal aan die kant
van die gehuggie in die sand,
die graffies wind- en reën-verweer,
gebreekte stolp en steen skaars meer
van klip en kluit te onderskei

Eksistensie
deur Sheila Cussons

Plotseling verstar die goudwit wolke
tot hout in ‘n stowwerige stolpe
En plotseling lewe ek woes vol vlerke
in ‘n hol beknopte hout heelal.

Woorde en dit dan in digvorm het bepaald waarde. Die gedig kan egter nie konteks vryspring nie. Ek dink maar aan Scrabble. Elke letter het ‘n waarde, maar die waarde raak meer as jy op die regte blokkie staan. Jou letter of woord se waarde word maklik verdubbel as dit op die regte plek staan. Die TV-program ‘Wheel of Fortune’ gee ook waarde aan letters om woorde te bou en weereens het konteks ‘n belangrike rol te speel in die waarde van ‘n woord of die letters wat saamstaan om die woord te vorm.

By die Nuwe Stemme 5-werkswinkel het ons bespreek hoe gedigte eers deel was van wette. As ek reg onthou het Jaco Barnard-Naudé genoem dat Japanese en Griekse wette vroeërjare in poësie-vorm geskryf was. (As dit iemand anders was, vra ek om verskoning.) Dis duidelik in poësie-vorm geskryf sodat dit makliker onthou kon word, maar ek kan myself net voorstel hoe interessant die interpretasie van die wette moes gewees het. Ons sien twee of meer betekenisse in ons huidige wette wat veronderstel is om duidelik en ondubbelsinnig gestel te wees.

Ek wonder hoekom die gebruik van rymelary beperk is tot kuns. Miskien besef ek net nie hoe ingevleg dit miskien reeds is nie. Miskien is daar meer ‘righty tighty, lefty loosy’-voorbeelde in ons daaglikse omgewing as wat ek aan kan dink. Wat keer ons om onbeproefde dinge in rymformaat te omskep? Ons sal dinge makliker kan onthou en ons brein skerp hou. Wat keer ons om resepte in poësie-vorm te skryf? Miskien moet ons Nataniël uitdaag om sy volgende resepteboek in rymformaat te skryf – dit sal mos iets oorspronklik wees. Dit sal die konteks waarin gedigte gebruik word mos kan verander of nuut maak. ‘n Konkrete doel vir rymelary of gedigte. Dit is goed om die vure van die kunste aan die gang te hou, maar dit behoort moontlik te wees om nuwe vure te stig.

As deel van my korrespondensie met Alet Cloete van WAT, vra ek toe sommer of daar al poësie-verwante woorde geborg is. Die WAT het mos ‘n borg-‘n-woord veldtog. Geen woorde wat met poësie verband hou, soos alliterasie of metrum, was op daardie stadium eksklusief geborg nie. Ek sien wel die woord ‘spanning’ is deur ‘n sekere Deon Meyer geborg. Hmmm. Die waarde van woorde en die konteks waarin dit gebruik word verander seker soos wat die tyd aanstap. ‘n Woord ten bate van ‘n instansie soos die WAT kan sekerlik help dat fondse beskikbaar is om woorde soos stolpe op te neem in ons kultuurskat.

Die regte woord op die regte tyd is kosbaar.
Die regte woord wat tydloos word is poësie.

Bronne:

1. Cussons S. 1978. Verf en Vlam. Kaapstad: Tafelberg.

2. Internet. http://blog.etundra.com/going-green/10-commercial-water-conservation-tips/

3. Internet. http://www.heritage-antiek.nl/index.php?item=jeanne-d_arc-living-stolp-klein&action=article&aid=11428&lang=NL

4. Pretorius SJ. 1981. Smartlap. Kaapstad: Human & Rousseau.

5. Stockenström W. 1970. Vir die bysiende leser. Kaapstad: Reijger-uitgewers.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •