Georges Lory gesels met Martine Steyn o.a oor sy vertalings Syllabe de Sang,
‘n keur uit die gedigte van Antjie Krog.
Antjie Krog en haar Franse vertaler, Georges Lory, het verskeie voorlesings in die Loire-streek van Frankryk (asook in Parys, Le Mans en Lyon) gedoen in Oktober en November 2013, op uitnodiging van die literêre vereniging Lettres sur Loire et d’Ailleurs. Hierdie literêre besoek was deel van die Frans-Suid-Afrikaanse seisoen. Dit het saamgeval met die verskyning van Syllabe de Sang, die Franse vertaling van ‘n keur uit haar gedigte, saamgestel en vertaal deur Georges Lory. Ek het met dié vertaler gesels oor sy liefde vir die Afrikaanse taal en sy werk as vertaler.
Ons ontmoet op ‘n fris wintersoggend by L’Empire, ‘n kafee in die middel van die sjiek en bourgeois 16de arrondissement van Parys. Die area se breë, boomryke lane en 19de eeuse woonstelgeboue maak dit die gunsteling tuiste van diplomate en suksesvolle sakemanne.
Met ‘n stewige handdruk en warm glimlag groet Georges Lory [63] my in vlot Afrikaans.
Dié bekwame Fransman – ‘n joernalis, diplomaat en vertaler – het altesame nege jaar in Suid-Afrika gewoon voor hy verlede September na Parys teruggekeer het na afloop van sy vier-jaar kontrak as direkteur van die Alliance Française in Johannesburg. Hy lyk dalk soos die deursnee intellektuele Europeër, maar Lory is ‘n oud Helshoogte-inwoner wat tussen 1974 en 1975 aktief deelgeneem het aan Stellenbosch se studentelewe.
“Na my studies in die regte en politieke wetenskap in Parys het ek ‘n behoefte gehad om te reis en die wêreld om my te verken. My belangstelling in Suid-Afrika en Afrikaans is al op skool geprikkel. Ons het “Ry maar aan, ossewa” geleer en die onderwyser het ons vertel van ‘n ”soort Nederlands” wat in Suid-Afrika gepraat word. As kind het my pa ook Rudyard Kipling se stories voorgelees, waarvan ‘n klomp in Suid-Afrika afspeel.
“Die deurslaggewende faktor was egter ‘n artikel in Le Monde Diplomatique in 1970, wat aangevoer het dat ongeveer 60% van Suid-Afrika se blanke bevolking Afrikaans praat. Ek besef toe dat ek heeltemal onbewus was van die belangrikheid van Afrikaans.”
Lory het op Stellenbosch ’n jaar lank navorsing in sosiologie gedoen as deel van ’n uitruilprogram. Dié program is twee jaar later afgestel weens die Soweto-opstande van 1976. Die beurs was R70 per maand, waarvan hy destyds goed kon lewe.
“Ek het nooit Afrikaans in ‘n akademiese konteks geleer nie. Ek was nooit juis ingestel op die letterkunde nie, behalwe dat ek nuuskierig was en met my aankoms in Suid-Afrika André Brink se “Kennis van die aand” gelees het, asook Olive Schreiner, John Miles, en ‘n klomp ander.
“Binne drie weke was ek reeds gemaklik met die taal, seker omdat ek in Vlaandere grootgeword het en op 14-jarige ouderdom reeds Frans, Nederlands, Duits en Engels kon praat. Maar Frans bly my moedertaal en ek was nooit ewe gemaklik in enige ander taal nie.”
Lory was twee jaar oud toe sy Franse familie na ‘n dorp net buite Brugge verhuis het. Parys se besoedeling was sleg vir sy pa se swak gesondheid, en daarbenewens was dit na die Tweede Wêreld Oorlog moeilik om behoorlike huisvesting in Parys te kry. Lory het toe Frans tuis, ABN (Algemeen Beschaafd Nederlands) op skool en West-Vlaams met sy vriende gepraat.
“Met my geboorte het my ouers in ‘n residensiële area net buite Parys gewoon. Die straatnaam was Rue Joseph Stalin! Ek dink dit het intussen verander… Maar ek het nooit Parys geken voor ek as ‘n jong student hierheen getrek het nie. Ek het toe die taalkundige voordeel van my tyd in België besef.”
Lory kla dat hy steeds grammatikale foute maak en verkies om nie voor ander mense Afrikaans te praat nie. Die toekomende en verlede tyd is moeilik, asook die uitspraak:
“Vir jare het ek Anchie gesê in plaas van Antjie. Dit is die enigste klank in Afrikaans wat nie geskryf word soos dit gepraat word nie. En dit is steeds vir my moeilik om die taal voor ander mense te praat. Maar ek vind Afrikaans so buigbaar. Wanneer ek Breyten en Antjie vertaal, word ek getref deur die soepelheid van Afrikaans. Frans is heelwat strenger. Ons grammatika is swaar en die taal bied nie veel vryheid nie.”

Une Syllabe de Sang is Lory se tweede keur uit Antjie Krog se gedigte. Die titel, letterlik “lettergreep van bloed”, kom uit ‘n versreël in die gedig “Land van genade en verdriet”: “almal gedoop in die lettergreep van bloed en hoort”.
“Dit is ‘n baie ryk gedig wat ook die oorsprong is van die titel “Country of my Skull”. Ek het laasgenoemde boek vertaal onder die titel “La douleur des mots” (letterlik, die pyn van woorde), maar dit was die uitgewer se keuse, want ‘n letterlike vertaling van “Country of my Skull” sou glad nie in Frans gewerk het nie.
“Ek het die gedigte gekies waarvan ek hou. Sommige van Antjie se gedigte is uiters filosofies en dus het ek hulle vermy. As jy die gedig nie self ten volle kan verstaan nie, kan jy dit onmoontlik in ‘n ander taal weergee. Die gedigte kom hoofsaaklik uit “Verweerskrif”, maar die bundel bevat ook nuwe gedigte wat sy in die afgelope jaar geskryf het (“dalk omdat Vrou Justitia destyds geblinddoek is” en “gesig van die ander”).”
Die vertaling van poësie is ‘n baie komplekse proses. Hoeveel vryheid het hy homself toegelaat in die vertaling en het hy geworstel met enige “onvertaalbare” versreëls?
“Die vertaling moet goed klink aan die Franse oor. Ek het probeer om die ritme te behou waar moontlik, maar daar is altyd iets wat verlore gaan. Soos hulle sê, “Traduttore, traditore” (om te vertaal is om te verraai). ‘n Vertaler kan nooit alles vasvang nie, en poëties is dit nie altyd moontlik om so na as moontlik aan die bron teks te bly nie.
“Die Tafelberg-rondeau is vir my onvertaalbaar: die herhaling van “binne” en “buite”, “binneste buite” en “buitenste binne” werk nie goed in Frans nie. Ek sou moes skryf “du dedans, du dehors”, waar die klank heeltemal verskillend is en nie dieselfde effek skep nie. In sulke situasies moet die vertaler soms plek maak vir iets heeltemal anders.
“Die onvertaalbaarheid van gedigte lê hoofsaaklik in die klanke en die gevoel wat die klanke oordra. Ek probeer gewoonlik konsentreer op die boodskap as ‘n geheel, al kan al die elemente nie altyd gelykertyd vasgevang word nie.”
Die bekende Franse digter en taalkundige, Henri Meschonnic, het aangevoer dat ‘n mate van “vreemdheid” in vertalings behou moet word om die geur van die bron teks te weerspieël. Wat is Lory se mening daaroor?
“Dit was die geval toe ek ‘n bundel van Breyten Breytenbach se werk in 1976 vertaal het, Feu froid. Mense het vir my gesê sy taalgebruik in Afrikaans is soms vreemd, en dat ek dus nie moes probeer om sy werk “normaal” te laat klink in Frans nie.
“Wanneer dit kom by gedigte kan jy jouself daardie vryheid toelaat. Die woorde hoef nie altyd te vloei nie en jy mag maar die taal manipuleer soos jy wil. Dit is egter anders met prosa: as jy te naby aan die bron teks bly, dink mense dit is ‘n slegte vertaling.”
Lory is een van bitter min vertalers wat uit Afrikaans na Frans werk. Behalwe vir haar Nederlandse vertaler, werk Krog se vertalers slegs uit Engels. Sy beskou dit as ‘n groot seëning dat Lory Afrikaans magtig is:
“Vertalers val nie oor hulle voete om uit Afrikaans te vertaal nie. Vanselfsprekend gedurende apartheid, maar veral na apartheid het jy die gevoel gekry mense dink: die boere het nou hulle kans gehad, óf ek wil nie gesien word dat ek Afrikaners of wit Afrikaanssprekendes vertaal nie. Enige vertaler uit Afrikaans in ‘n vreemde taal is ‘n seëning.”
Is daar vir Lory enige spesifieke uitdagings wanneer dit kom by ‘n vertaling uit Afrikaans na Frans?
“Ek moes ‘n paar keer by Antjie uitvind of sy skryf oor ‘n man of vrou, seun of dogter. In haar gedig “Depressie”, byvoorbeeld, moes ek weet of die kind ‘n seun of dogter is – ‘n dogter kry ‘n ‘e’ of ‘é’ by. Die Franse taal vereis duidelikheid. Verder het ek haar soms genader vir hulp met my vertaalkeuses; minder oor die betekenis van haar gedigte, en meer oor die verskeidenheid moontlike vertalings in Frans.”
Lory meen dat Krog ‘n paar sterk Franse aanhangers het wat belangstel in Suid-Afrika en die huidige toestand van die land. Sy het veral bekend geraak toe “Country of my Skull” hier vrygestel is.
“Haar werk word goed ontvang, alhoewel ek ‘n paar geskokte gesigte gesien het toe ek die menopouse gedigte voorlees!”
Daarvan gepraat, is dit nie problematies vir hom, as man, om te skryf oor menopouse en die agteruitgang van die vroulike liggaam nie (‘n sentrale tema in Verweerskrif)?
“Nee, want mans ervaar ook andropouse. Die simptome is dalk minder opvallend, maar hulle is nogtans teenwoordig! Ons generasie baby boomers kom nou almal by daardie ouderdom, so haar gedigte het my nie geskok nie, inteendeel vind ek hulle baie interessant.”
Krog is verbaas oor die positiewe Franse reaksie:
“Dit is nogal verstommend. Omdat ek nie kan Frans praat nie weet ek nie wáárom hulle so reageer nie. In Nantes het iemand vir my gesê, na ‘n hele 24 uur van digters wat lees: “Jy is al een wat iets te sê het”. Nou weet ‘n mens nie of dit is omdat jou goed direk oftewel kru duidelik is nie, en of dit is omdat jy beter as die ander voorlees nie, en of dit maar net is omdat die ander digters daar nie juis goed was nie, of dalk net een van die Franse strome volg, naamlik filosofiese poësie…”.
Lory gee toe dat die Franse poësie al sedert die sestigerjare neig om té filosofies en eenselwig te wees, alhoewel daar deesdae ‘n groter verskeidenheid digters en tendense is, naamlik digters met musikale begeleiding of wat ander mense by hul voorlesings betrek.
Al is die reaksie positief, verkoop poësie nie goed in Frankryk nie. So ‘n bundel verkoop gewoonlik nie meer as 300-400 kopieë nie, en daarom is dit moeilik om Franse uitgewers te vind.
Dit het hom ook verskeie jare gevat om ‘n Franse uitgewer te vind vir “Country of my Skull”, aangesien die uitgewers gevoel het die boek is te dik vir Franse lesers. Die vrystelling van die fliek het die proses egter ‘n hupstoot gegee.
Lory is ook ‘n skrywer in sy eie reg. Benewens twee Franse digbundels, is sy Afrikaanse gedigte gepubliseer in die bundel “Visier” wat in die mid-70’s deur Tafelberg uitgegee is.
“Met my terugkoms na Frankryk in 1975 het ek gevoel dat ek besig was om my Afrikaans te verloor, asook die Kaapse meisie op wie ek verlief geraak het. Ek het sowat 21 Afrikaanse liefdesgedigte aan haar gestuur. My bedoeling was nie om hulle te publiseer nie, maar ek het geen beswaar gemaak daarteen toe sy dit aan Tafelberg voorlê en sewe of agt van die gedigte deel geword het van “Visier” nie.
“Om in Afrikaans te skryf is bevrydend. ‘n Vreemde taal dra nie die gewig van assosiasies en verwysings wat ‘n mens in jou moedertaal het nie. Dit is soos ‘n skoon lei.
“Daar is natuurlik gepeuter aan my taalgebruik, en Tafelberg was onbeïndruk met my gebruik van die woord ‘tepels’. Hulle het gesê dat die woord slegs van toepassing is op koeie, en het voorgestel dat ons dit vervang met ‘lepels’, wat bloot nie sin maak nie!”
Het hy enigsins oorweeg om in Suid-Afrika aan te bly na sy jaar op Stellenbosch?
“Destyds is Europeërs ‘n fortuin aangebied om in die land te woon en werk. Ons is in ‘n klein hotel gehuisves en drie werksgeleenthede aangebied. As ons teen die derde werksaanbod steeds nie wou aanbly nie, sou ons teruggestuur word na ons land van herkoms.
“Ek het dit egter nie aanloklik gevind nie, want ek was sterk gekant teen apartheid. Dit is een ding om ‘n student of waarnemer te wees, maar ‘n ander om in die land aan te bly en tot ‘n mate aan die sisteem deel te neem.”
Lory het sy verhouding met Suid-Afrika op ‘n ander manier voortgesit: met sy terugkoms na Frankryk in 1975, was Breyten Breytenbach die eerste persoon wat hy gekontak en ontmoet het.
“Ek het nie op Stellenbosch spesifiek in poësie belanggestel nie, maar ek het geweet wie Breyten was en ek het geweet hy woon in Parys.
“Toe Breyten daarna in die tronk gegooi is, het ek die Breytenbach komitee (deur kunstenaars saamgestel) gekontak en sy werk begin vertaal. Hulle het gesê hy is die groot digter van sy generasie.
“Toe ek die volgende jaar aansoek doen vir ‘n visum om Suid-Afrika te besoek, het ek dit nooit gekry nie. Ek het vinnig besef dat ek persona non grata geword het, want ek het ook artikels oor Breyten geskryf en anti-apartheid manifeste geteken.”
Lory is mettertyd weer in die land toegelaat en het gewerk as kulturele adviseur by die Franse ambassade tussen 1990 en 1994.
Krog verduidelik hoe sy voordeel trek uit sy meerdere talente:
“Hy is ‘n wonderlike metgesel tydens my voorlesings in Frankryk. Hy raak meegevoer as hy lees, hy kan kort en kragtig inligting oor Suid-Afrika aanvul en hy is baie entertaining. Dit help natuurlik dat hy diplomatiese krisisse soos besope aanhangers of rassiste kan ontlont.”
Wat is Lory se huidige gevoel oor Suid-Afrika?
“Daar is baie meer energie in Suid-Afrika as in Parys. Daar is ook baie optimisme. Die mense in Suid-Afrika voel dat dit beter sal gaan met hulle kinders in die land, terwyl die Franse meer bekommerd is oor hulle kinders se toekoms in Frankryk.
“Kaapstad is die mooiste stad in die wêreld. Ek het al ses of sewe keer die Argus fietstoer gery. Ek sal graag ‘n huis in Oranjezicht wil hê…”
Op daardie noot bring die kelner die rekening en raak hy aan die gesels met Lory, duidelik ‘n local by L’Empire. Ons soengroet op die Franse manier, maar hy sê totsiens in Afrikaans.
(Onderhoud deur Martine Steyn,
Traduction, révision, sous-titrage, rédaction
Français/Anglais/Afrikaans, Parys)
Georges Lory se gedigte uit die bundel Visier (Agt nuwe digters), saamgestel deur Charles Fryer en Petra Müller. © 1984 Tafelberg-Uitgewers Beperk
MIELIEMELODIE
Wanneer oorkant die groot rivier
die son oor Buenos Aires bloei
bots silwer golwe teen Kampsbaai
dan word proteas protessimbole vir die meiaand
duisende vlermuise verlaat Duiwelspiek
rigting ou Transvaal
waar Sarie onder haar familie ly
(daar by die vlei
loer ‘n groen doringoom)
duisend seeduiwe swerm
om my mielieliefie te sien swem
die leeu se kop staan stil
almal wag vir haar
en daar styg sy uit
haar lyfie blink soos olyfolie
o mieliemelodie
Helena
heeltemal alleen
loop na die maan
hardloop oor duine en golwe
agter die boomeranglady aan
en daar kom sy
met haar glimlag van die nag
en skenk my
saggies en stralend
haar sewe pragtige skulpe…
*
ANKER
Snaaks en tog waar
in ons agterplaas bloei
een roos
sy groei baie hoog om nét
oor die muur tussen palm en mango
‘n stukkie lagune te sien
sy sterf en bloei reëlmatig met die maan
‘n vuurtjie in die donker
rooi vlek op ‘n kleurlose skildery
baie name dra sy op haar skouers
rosa pança blokossensis
de Marfil y Riviera
ek weet ook sy is ‘n wang
‘n beker vir trane
en miskien herberg sy ‘n piranha in die lippe
sy fluister in die oggend as die dorp
– en natuurlik die bewaker – nog slaap:
die vrede is ‘n windjie vol geur
*
JOU HUISIE BY DIE SEE
Moenie worry nie
die huis sal ek nie oorneem nie
ek speel net met woorde
terwyl andere na kos streef
en nog andere met moorde
voor my oë leef
ek speel net
en dis hoekom ek sterflik is
in ons ysterwêreld
ek speel met jou splinternuwe taal
springbokagtig en kinderryk
moenie worry nie
Rasputin het ek miskien verdolk
maar vinnig word ek herken
ontmasker:
ek brei
(jou huis sal ek nie oorneem nie)
ek brei soos ou swart askiesvoëls
op hul stoep
ek brei dun digbundels
vir jou
wanneer jou dae sal koel
koeler word
vir jou
want wie anders kan voel
wat ek in geen taal van Babel
kan uitdruk nie?
(©Georges Lory)
(‘n Gedeelte van hierdie onderhoud is in By (Die Burger) gepubliseer in Januarie 2014. /mj)

