
Prof. Joan Hambidge het op 11 September 2026 70 jaar oud geword. Sy is by die 15de Tuin van Digters vir haar werk vereer. Foto (gewone volgorde): Prof. Louise Viljoen, Prof. Joan Hambidge, Prof. Karen de Wet wat die lofrede gespreek het, dr. Johan Myburg.
Hier volg Joan Hambidge se rubriek nommer 163:
I
Vir Juan
Daar is nie digters of digteresse nie
slegs een enkel poësie
en die asem daarvan is een en Hy
wat kom wanneer dit wil
fyn fluisterend
tussen die pen wat jaag
en – gedwee en bleek – die papier.
Die knetterende woord (1990).
Hierdie gedig staan op bladsy 548 van die Versamelde gedigte. Met ‘n Spaanse weergawe eerste geplaas en hierna die Afrikaanse een.
In die bundel staan die opdrag:
Vir my mense, Juan, Jordi en Jaume.
Cussons se gedig is sowel ‘n ars poetica as ‘n religieuse besinning.
Wanneer ‘n mens nou haar oeuvre bekyk, is dit opvallend hoe sy in gesprek tree met Opperman en Louw. Maar uiteindelik berusting vind in die religieuse dimensie.
In Vers en Kapittel III deur Daniel Hugo (Turksvy, 2026) word die volgende tersaaklike opmerking oor haar werk gemaak op bladsy 192:
Sheila Cussons het ten slotte op ‘n byna mistieke wyse een geword met die taal, alle tale. Dit verdien ons verwondering en lof.
Soos Hugo is hierdie leser eweneens geïnteresseer oor die verband tussen die lewe van ‘n digter en die gedigte (Sheila Cussons: digter en gedig).
In sy artikel haal hy haar aan oor die impak van die ongeluk. Dit het haar as mens gelouter en haar kuns verryk.
II
Pêrel
Die stil swart oester het my wit gevorm.
Ek is die bitter blink korrel,
die harde angs in haar verstomde vlees,
maar steeds vou vrees haar spiere vas
en dieper vas om my, want sy
verkies bo daardie ander smart
my vreemde knaging aan haar sy.
Hierdie gedig staan in haar debuut Plektrum (1970).
Plektrum is al vere kere beskou as die sterkste debuut in Afrikaans. Suiwer en helder.
Personifikasie ook, want die pêrel is aan die woord en praat namens die swart oester. Die “harde angs” in haar “verstomde” vlees.
Angs, vrees, smart en knaging beklemtoon dat die proses pynlik is.
Die vreemde knaging word verkies “bo daardie ander smart”.
Hier kan die leser self begin nadink oor die betekenis oesters.
Ek luister na Luciano Pavarotti wat Bizet se Pêrelvissers sing saam met Nicolai Ghiaurov.
https://www.youtube.com/watch?v=hVR2hkGtKmw Besoek 15 September 2026
In hierdie opera van Bizet uit 1863 word twee vriende se eed van ewige vriendskap en trou getoets deur die liefde wat hulle koester vir die priesteres.
Dit speel af in die antieke tye op Ceylon.
III
En groot digters neem ons immer op ‘n assosiatiewe reis. Van die gedig tot besinnings oor die gedig (soos Hugo) tot die musiek wat ‘n mens weer terugneem na die klank in die gedig.
Joan Hambidge
Kaapstad
15 September 2026
