Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
18 May 201424 June 2014

Wicus Luwes. Die Siel van ‘n Hoender

Ek eet hoendersop as voorsorg – die oorgang van seisoene maak dit moeilik om die loopneuse in toom te hou. Gelukkig hou ek van hoendersop en die oorgang verander maklik in oorgawe. Die hoender glo darem nog in lewe na die dood. Of miskien dood na die lewe. Een kap met die slagmes en daar laat spaander die hoender sonder ‘n kop. Ek het so slagtery nog nooit beleef nie en glo nie ek wil nie. Ek het wel so paar jaar gelede deur ‘n regte hoender-slagtery geloop en het in die proses gesien hoe menslik die dier onthoof en ontveer word. Hulle spuit nie al die chemikalië in soos die ander plekke nie, laat die eienaar my weet. Dis hoekom die mense sy hoender verkies. Die ander make krimp weg in die kospotte, maar sy hoender behou die grootte en is meer natuurlik. Mense kan die verskil in smaak proe.

Dis interessant hoe ‘n mens jou sintuie wil gebruik om dinge te verklaar. Voel, proe, ruik, sien en hoor. Die sesde sintuig is ‘n ander storie, want dit is dikwels verkeerd, maar die meetbare sintuie word ‘moeiliker’ gefnuik. Dink maar aan die namaaksel parfuum of die namaaksel ‘brand name’ t-hemp wat jy kan koop by die smous by die verkeerslig – niemand sal die verskil kan sien or ruik nie.

Hoekom het die hoender die pad oorgesteek? – die vraag wat nie maklik op ‘n nugter maag beantwoord kan word nie.
Ons het onlangs in die Nasionale Verkiesing gestem vir die mense wat namens ons moet praat, maar deur die jare het ‘n paar mense ook namens bekende figure die oorbekende hoender-vraag probeer beantwoord:

Nietzsche:     Because if you gaze too long across the Road, the Road gazes also across you.
Ernest Hemingway:     To die. In the rain.
Jack Nicholson:     ‘Cause it (censored) wanted to. That’s the (censored) reason.

 

Die siel voel vir my so ‘n oorbenutte onderwerp in die digkuns, maar miskien geld die reël dat jy dit eerder moet beskryf as om dit direk te noem. Miskien raak dit aanvaarbaar as jy die siel beskryf en nie die siel gebruik om iets anders te beskryf nie. Miskien skryf ons slegs oor die kruin van die ysberg omdat ons nie weet hoe om die res te sien of te meet nie. ‘n Ander komiese vraag in ‘n Shakespeare konteks is miskien as volg: Wat noem ‘n mens ‘n sielkundige wat nie in ‘n siel glo nie? Sal ‘n mens begin by die definisie van ‘n siel of die definisie van ‘n sielkundige om hierdie komiese vraag te beantwoord.

Albert Einstein: The chicken did not cross the road. The road passed beneath the chicken.

Pinkster
deur Izak du Plessis (uit Nuwe Stemme 5)

Teetyd op die plaas het my oupa Jaap
die voorwiel van ‘n trekker vasgetrap
sy tee met boerse sekerheid gedrink:

die piering soos ‘n siel in sy moerse
linkerhand gehou terwyl hy vlamme
tee versigtig daarin uitstort met sy

regterhand. Soos een wat smak na God
het hy die koud geblaas en opgeslurp
en geestig weer die braakland omgeploeg

 

‘n Boer-vriend van my is ‘n gebore sakeman. Hy vra altyd eers hoeveel jy vir ‘n produk wil hê. Hy antwoord nooit direk of eerste nie en antwoord dikwels een vraag met ‘n volgende vraag. Hy is seker ‘n soort filosofiese sakeman as ek mooi daaroor dink. Hy stry die prys af sonder om die prys af te stry.  Ekself is nie veel van ‘n sakeman nie – ek betwyfel my eie prys, maar ook die prys wat die kliënt my aanbied. Dieselfde geld vir ‘n antwoord oor die siel. Ek betwyfel iemand wat ‘n eensin-antwoord het oor die siel. Wat die verband is tussen lewe en dood en ook dan tussen die fisiese liggaam en siel. Ek betwyfel konkrete antwoorde op abstrakte vrae.

Jacques Derrida:      Any number of contending discourses may be discovered within the act of the chicken crossing the    road, and each interpretation is equally valid as the authorial intent can never be discerned, because structuralism is DEAD, DAMMIT, DEAD!

Douglas Adams:        Forty-two.
Darwin:               It was the logical next step after coming down from the trees.

 

Die definisie van die siel is iets wat nie maklik gedoen kan word nie.
Op ‘n vereenvoudigde vlak het Plato die siel in die volgende dele ingedeel:
1.    die logos, of logistikon (gedagtegang of redenasievermoë)
2.    die thymos, of thumetikon (emosies)
3.    die eros, of epithumetikon (begeertes)

Die verskil tussen die definisie van ‘n siel en ‘n gees kan ook in die soeke na ‘n definisie ingetrek word. Die moderne mens sien homself dikwels meer as spiritueel in plaas van geestelik wanneer Godsdiens ter sprake kom. Die spirituele wêreld is iets waaroor die meeste mense nie eintlik wil praat nie. Drome en buite-liggaam ervarings se verwantskap bied miskien ‘n verdere invalshoek. National Geographic het in die week ‘n artikel gepubliseer oor ‘lucid dreaming’ en die kunsmatige indusering daarvan deur elektriese pulse. Mense wat astrale projeksie beoefen verwys na ‘n soort silwer-lyn wat hulle siel met hul liggame verbind. Die mense wat astrale projeksie be-oefen se groot toets lê daarin dat hulle iets met hul geestelike liggame kan skuif in die fisiese wêreld terwyl hul buite hul fisiese liggame is. ‘n Mens wonder of alles net ‘n paar elektriese prikkels en chemikalië is. Wat bind die liggaam aan die siel?

Verskillende gelowe interpreteer die siel op verskillende maniere. Die Bybel onderskei bv. in Matteus 22:37 dit as volg in die 1983-vertaling: “Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”
‘n Ander vertaling, ‘Die Bybel vir Almal’ het begin as ‘Die Bybel vir Dowes’. Dit het ten doel gehad om die boodskap van die Bybel met die unieke verwysingsraamwerk van die dowe persoon uit te druk. Die vertaling het soveel inslag gevind, dat dit herdoop is na die ‘Bybel vir Almal’. Die Bybel vir Almal se vertaling stel dieselfde vers so: “Jesus het vir hom gesê: ‘Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand.'”

Constable:            To get a better view.
Kafka:               Hardly the most urgent enquiry to make of a low-grade insurance clerk who woke up that morning as a hen.
Hamlet:               That is not the question.

Om terug te keer na beide vrae: ‘Waarom het die hoender die pad oorgesteek?’ en ‘Wat noem ‘n mens ‘n sielkundige wat nie in ‘n siel glo nie?’ Die anderkant het nog altyd ‘n onmiskenbare bekoring vir die mens ingehou. Of dit die anderkant van die draad of die anderkant van die heelal of die anderkant van die pad is. Miskien sien jy net konkrete vrae en antwoorde of miskien gee jy glad nie om wat die ander hoenders doen nie. Hoe dit ookal sy sou ek jou wel aanraai om Captain Kirk se raad te volg en die eerste tree oor die pad te gee ‘to boldly go where no chicken has gone before’.

Verdere leesstof:
http://news.nationalgeographic.com/news/2014/05/140511-lucid-dreaming-sleep-nightmares-consciousness-brain/
http://en.wikipedia.org/wiki/Soul

 

Bronnelys:
1. http://en.wikipedia.org/wiki/Soul
2. http://www.savagechickens.com
3. http://www.patheos.com/blogs/exploringourmatrix/2013/04/valley-of-the-shadow-of-kfc.html
4. http://sreyner.wordpress.com/2010/11/04/why-did-the-chicken-cross-the-road/
5. Marais, L & du Plooy, H. 2013. Nuwe Stemme 5. Kaapstad: Tafelberg

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

24e gedagtes oor “Wicus Luwes. Die Siel van ‘n Hoender”

  1. Maria Snyman says:
    24 May 2014 at 11:13

    Ek wonder of ons begin om hane wat baie harder as die hen wat die eier gelê het, te hoor kraai. Dalk het dit tyd geword dat ons Hugo se Hanekraai weer ‘n kykie gee. Soos Heilna du Plooy dit stel:

    “Die titel Hanekraai is ’n belangrike sleutel tot die tematiek van die bundel. In die openingsgedig “Kantekleer,” wat verwys na die tradisionele haan, die aankondiger van die dag, draer van allerlei assosiasies uit die Nederlandse en wêreldliteratuur, word die nag beskryf as die tyd van donkerte en nadenke wat eindeloos lank duur. Dan klink die haan se kraai wat daarop dui dat die morester verskyn. Met die hanekraai, ontstaan die gedig, maar die gedig “skitter kortstondig” omdat die son wat as die “rooi vos” beskryf word, die haan verjaag.”

    Bron:http://bookslive.co.za/blog/2013/09/03/heilna-du-plooy-resenseer-hanekraai-deur-daniel-hugo/

    Reply
  2. Leon Retief says:
    23 May 2014 at 19:10

    @ Wysneus: :-)!

    Reply
  3. Wysneus says:
    23 May 2014 at 18:16

    Leon, hoekom dink jy die hoender was ‘n hen? Dis omdat jy dink la donna e mobile, dis hoekom. Seksis.

    Freud sou sê dis ‘n haan, en dat: The cock unconsciously crossed the road to kill a bigger cock — his father.

    Reply
  4. adriaan says:
    23 May 2014 at 06:57

    Wicus, hierdie een was groot pret. My eerste poging was ook jurassie wetenskap: It was all feathered up and nowhere to go. Maar, en dalk snaakser, my swaer reken: Because of the farmer’s neglect.

    Reply
  5. Leon Retief says:
    23 May 2014 at 06:00

    NS: Nie die grappies gaan dissekteer nie bedoel ek, opera en kwantumfisika mag mens maar aan die dissekteermes onderwerp.

    Reply
  6. Leon Retief says:
    23 May 2014 at 05:59

    Wysneus nee, ek’s nie die hoeners in vir jou nie, maar maak nie saak hoe mens die hoenertjie se spoed (momentum) meet nie, volgens Heisenberg sal daar ‘n mate van onsekerheid wees as mens die posisie baie eksak bepaal. Behalwe natuurlik as jy verder wil argumenteer dat die hennetjie nie ‘n subatomiese partikel of selfs eers ‘n 60-koolstofatoom Buckminsterfullerine is nie en in daardie geval sal jy weliswaar korrek wees. Baie grappies verg maar ‘n mate van “suspension of disbelief” (net soos kwantumfisika en opera) so dalk moet mens dit nie te noukeurig gaan dissekteer nie.

    Reply
  7. wysneus says:
    22 May 2014 at 23:20

    Leon, hoop nie ek maak jou nou de hoeners in nie, maar ek reken jou Heisenberg-weergawe is dalk verkeerd. Die gemiddeld kruising-spoed is weetbaar, want die breedte van die pad en die kruising-interval is meetbaar. Net die oombliklike spoed en ligging is, saam, ewig duister.

    Nog vervelings: Einstein was nie nodig vir sy aanhaling daarbo nie (sien Lorentz, et al.). Maar hy sou eerste kon sê: The faster the chicken, the shorter the road (to the chicken) and the heavier the chicken (to the road).

    Jou siel is (almal weet dit tog!) jou eie, enkel onweetbare, regte egte naam.

    Reply
  8. Waldemar Gouws says:
    21 May 2014 at 20:34

    Ek het vergeet van die siel. By termiete en bobbejane is dit redelik groot en relevant, volgens Marais. Mense praat ook van dagga s’n. Myne het kort n.C. verdamp. Het eenkeer gedog ek sien dit in iemand se oog, maar het later besef dis ‘n kontaklens toe sy dit uithaal, klein soos ‘n miniskule jiffy-sakkie, vol sig.

    Reply
  9. Waldemar Gouws says:
    21 May 2014 at 19:45

    Wicus, ek dink jy sal van Jeanne Goosen hou. Sy weet meer van regte hoenders as enigeen in Afrika. Haar boek “Wie is Jan Hoender?” (2001)is die standaardwerk.

    Reply
  10. Wicus Luwes says:
    21 May 2014 at 18:44

    Sjoe maar al die hoender-resepte sal mens skoon vegetaries maak. Gelukkig is hoender n groentesoort waar ek vandaan kom en word dit netjies in pakkies op die winkelrak uitgestal.

    Reply
  11. adriaan says:
    21 May 2014 at 14:40

    Is jy gereed om hoenders te slag Maria? Daardie eie bloed aan hande? Onthou, die kaal oë kort naels plaasvrou weet die lyf bly warm tot in die pot.

    Reply
  12. Maria Snyman says:
    21 May 2014 at 13:04

    Lyk my ons gaan pit nodig hê om hierdie hoender wat Wicus in ons midde gelê het hok te slaan, maar ‘n gebraaide hoender vlieg niemand in die mond nie.

    Reply
  13. adriaan says:
    21 May 2014 at 12:51

    o ja, die leestekenfilistyn se universum in sewe woorde beskik oor ‘n onsigbare punt soos ‘n belowende mieliepit. Die hoender wat dit in plek kan opbring wen ‘n grafsteen en epitaaf van eie keuse

    Reply
  14. adriaan says:
    21 May 2014 at 12:10

    of dan, die kringloop van ‘n leestekenfilistyn: Cause beckoned, and it wanted to be-

    Reply
  15. adriaan says:
    21 May 2014 at 11:46

    Cause beckoned and it wanted to be

    Reply
  16. Desmond says:
    21 May 2014 at 11:32

    Ek het een middag in Havana in ‘n musiekwinkel gesoek vir CD’s van die sanger Polo Martinez. Ek vra toe hulp by ‘n winkelassistent, maar spreek die naam per ongeluk uit as ‘Pollo Martinez’ (ek wou fênsie wees). Toe die man my korrigeer het ek so klein gevoel soos ‘n mieliepit. Niemand was gelukkig die hoenders in nie.

    Reply
  17. Buiteblaf Breytenbach says:
    21 May 2014 at 09:48

    ‘n Treffende verhaal wat nou by my opkom met bogende in gedagte is die een van die outjie wat geweier het om die huis te verlaat uit vrees dat die hoenders hom vir ‘n mieliepit sou aansien en opvreet. Nadat hy deeglik gepistorius is was hy oplaas daarvan oortuig hy’s ‘n mens en nie ‘n mieliepit nie, en veilig op die werf. Maar nog steeds wou hy nie die huis uit nie. “Hoe dan nou?” wou Gerrie Nel weet. Nee, was sy verweer, hoe sal hy nou kon weet die hoenders dink nie nog steeds hy’s ‘n mieliepit nie…

    Reply
  18. Leon Retief says:
    21 May 2014 at 02:50

    Desmond ek weet van die reeks wat hier baie gewild was maar my TV is beperk tot nuus en motorsport. Ek hou egter van die name wat jy noem.
    Wicus, ken jy die volgende grappie: Werner Heisenberg is op pad in sy kar toe hy deur ‘n spoedlokval ry. “Weet jy hoe vinnig jy gery het?” wil die polisieman weet. “Nee,” antwoord Heisenberg, “Maar ek weet ek is presies 48,3827342 kilometer van Stuttgart.” “Dis nie die punt nie” seg die polisieman, “Jy het 142.7 kilometer per uur gery in ‘n 60-kilometer sone.”
    Heisenberg rol sy oë vererg. “Pragtig,” sê hy, “nou weet ek nie waar ek is nie!”

    Reply
  19. Wicus Luwes says:
    20 May 2014 at 23:18

    Streetwise One: Ek voel party dae soos Heisenberg se hoender – eerder ‘n bietjie momentum om oor te twyfel as die pad wat ek klaar oorgesteek het.
    Streetwise Two: Het Breaking Bad baie geniet. Het eers vandag Los Pollos Hermanos se betekenis opgekyk. Lekker om dit beter te verstaan.
    Streetwise Three: Miskien is dit meer van ‘n pad met geen begin en geen einde nie – amper soos die vraag of die hoender of die eiers eerste was. As daar wel ‘n einde is vermoed ek dat Kononel Sanders die loods van hul boot oor ‘n rivier genaamd Styx is.

    Reply
  20. Maria Snyman says:
    20 May 2014 at 11:56

    … as jy begin om jou hoenders te tel kan jy dalk nie weet waar om op te hou nie … So moenie begin voor hulle nie uitgebroei is nie … “Die aanspraak van lewende wesens” ((wonderlike) Winterbach) is egter ook weer ontelbaar … Waar begin en eindig ‘n hoender? …

    Reply
  21. Desmond says:
    19 May 2014 at 22:30

    Het julle die televisiereeks Breaking Bad gekyk? ‘n Wetenskaponderwyser, Walter White, begin ‘n ‘meth lab’ om sy kankerbehandeling te kan bekostig (dit is die VSA, sy mediese versekering is onvoldoende). Hy kies as alias die naam ‘Heisenberg’. Die dwelmbaas vir wie ‘Heisenberg’ aanvanklik werk se frontorganisasie is ‘n fried chicken winkel: Los Pollos Hermanos.

    Reply
  22. Leon Retief says:
    19 May 2014 at 21:33

    Met die regte tipe transkraniale elektriese stimulasie kan mens iemand sommige psigopatiese kenmerke laat openbaar, darem net tydelik.
    Heisenberg: once you know that the chicken has crossed the road you will never know how fast it walked.

    Reply
  23. Wicus Luwes says:
    19 May 2014 at 20:05

    Ek is bly dat u dit geniet het. Interessant om die TE begrip te oordink.

    Reply
  24. Maria Snyman says:
    19 May 2014 at 09:13

    Baie geniet Wikcus. Jou slotwoorde, “‘to boldly go where no chicken has gone before'”, laat my dink aan die aanhaling van Heidegger wat Derrida in “Différance” bied:
    “(…) in order to name the essential nature of Being, language would have to find a single word, the unique word. From this we can gather how daring every thoughtful word addressed to Being is. Nevertheless such daring is not impossible, since Being speaks always and everywhere throughout language.”

    Die siel is oral, maar ons soek dit altyd anderkant die draad … (dalk omdat dit TE naby, TE teenwoordig, is).

    Ek hou dus ook baie van: “Miskien raak dit aanvaarbaar as jy die siel beskryf en nie die siel gebruik om iets anders te beskryf nie. Miskien skryf ons slegs oor die kruin van die ysberg omdat ons nie weet hoe om die res te sien of te meet nie.”

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • bevan boggenpoel. winter
  • Willem de Swyger. Ou Steenmaker
  • Krige Visser. olie op die vier
  • Miel Vanstreels. Terug
  • Elisma van Zyl. Tydloos

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d