Wicus Luwes. Foute in ‘n Foutlose Wêreld


‘n Illustrasie deur Osvaldo Cabandoli (Cava)

Een mooi somersdag sou ons skool ‘n sportdag aanbied. Die voorbereidings moes getref word en die akademie was ‘n bysaak op sulke dae, want daar was baie om te doen. Die lyne op die rugbyveld was dof en moes nuwe kalk kry. Al die apparate moes aangedra word. Ek het die L.O.-onderwyser te laat gewaar om uit sy pad te kom en toe hy sê: “Kom”, het ek besef dat dit nie die tyd was om myself teë te sit nie. Daar is party dinge wat jy net nie vir ‘n L.O.-onderwyser sê wanneer daar lyne gelê en swaar apparate aangedra word nie. (L.O. was ‘n afkorting vir Liggaams Opvoeding in die vorige millenium en die L.O.-onderwyser was normaalweg bedrewe in die kuns van latswaai. Die vroulike onderwysers het somtyds die seuns na die L.O-onderwyser toe gestuur indien dit ‘n eerste oortreding was.)  ‘n Mens kan ‘n fout maak deur op die verkeerde tyd op die verkeerde plek te wees.

By die hoek van die rugbyveld het hy my neergesit met ‘n styfgespande tou in die hand.

“Jy sit net hier en jy beweeg nie,” onthou ek sy opdrag nog.
En ek het nie beweeg nie, ek belowe, maar toe hy op my afgestorm kom van die 80 meter-lyn af het ek gesien dat daar fout was. Hy was besig om kalk oor die styfgespande tou te gooi om die reguit lyne netjies te gooi. Die volgende oomblik het hy opgehou en omgedraai. Op 60 meter kon ek begin hoor dat ek klaarblyklik geskuif het en dat die lyn nou skeef is as gevolg van my. Op 40 meter het ek begin wonder of ek die tou moet los en hardloop, maar ek het nie, want ek het ook besef dat hy kwater sou wees as ek dalk sou hardloop. Iewers tussen die 40 meter en 20 meter, het ek besef dat ‘n mens ‘n fout kan maak deur net op een plek te sit.

There’s a crack in everything – that’s how the light gets in.
– Leonard Cohen

Die waarde van foute
Ek wonder altyd wat die mense wat handgeskrewe nota’s van bekende skrywers ten duurste aankoop daarmee wil doen. Handskrifdeskundiges kan seker die persoonlikheidskenmerke van sulkes bespreek. Ek sal nogal wou kyk watter lyne doodgetrek is, om te verstaan wat die skrywer as ‘n ‘fout’ beskou. In ‘n tyd waar ek (en menigte ander) idees en verse op rekenaar en selfoon neer ‘pen’, wonder ek wat later van waarde gaan wees en wat as fout beskou sal word. As ek spasie soek of van selfoon verwissel bly daardie versies en idees deesdae agter of in die slag. Ek skryf graag in gebruikte boeke of notaboeke wat al ‘n krul op die hoeke het. Ek het ‘n adresboek van my Oupa en Ouma ook al van agter af begin volskryf – ek neem aan ons het Arabiese agtergrond (?), want ek hou daarvan om van agter af vorentoe te skryf. Ek kan verstaan dat party dit as verkeerd of verkeerdom sou beskryf, maar dit is meer belangrik dat die gedagtes vloei, en ‘n stroom kan nie kies waarlangs dit vloei nie.

Die waarde van foute is natuurlik al ‘n deurgetrapte drumpel. Die belangrike ding is net om te leer uit die foute – al is dit ander mense se foute. Miskien selfs meer belangrik is die feit dat iemand wat nie foute maak nie, gewoonlik nie veel doen nie! Bitter min mense begin iets met die wete dat dit ‘n fout is. Dit lyk eintlik reg (of ten minste halfpad reg) en dit is die gevaarlikste soort. Halfpad reg is die liggie wat brand deur die dag, maar nie wanneer dit nag is nie.


‘n Blad met Walt Whitman se handskrif

Die fout in konteks
‘n Regte ding kan ‘n fout wees as dit op die verkeerde plek en tyd plaasvind. ‘n Foutiewe ding kan foutloos voorkom as die tydsberekening reg is. Ek dink altyd aan die manier waarop mense na hulself kyk. Die persoon wat homself as te kort of te lank of te arm of te vet of te maer sien, hou hulself dikwels meer terug as enigiets anders wat in hul pad staan. Mense wat hul agtergrond of foute teen hulself gebruik, is een ding wat my ongelooflik pla.

Die pad
deur Elisabeth Eybers

Die pad kronkel fouteloos verder, alles moet lei
tot ontmaskering van ‘n ontsaglike misverstand…
Verdink nie die wandelaar van nodelose sloerdery want
die laaste ontluisterende skuifelgang hoort ook daarby.
Die geïmproviseerde slotnommer word samegeflans
uit raapsels herinnering, klankflarde, ‘n kruppel kadans,
maar die uitkoms is suiwer, vroeër of later beland
iedereen in die vereffening, eendag ook jý.
Al weet jou meedobberende kop beswaarlik nog wat
sy knik wil bevestig, jou voete betwis nie die pad.

Foutlose dinge
Daar is min dinge wat foutloos is op hierdie aardbol. Selfs die aardbol het volgens die Plaattektoniek-teorie foutlyne met plate wat teen mekaar skuur en aardbewings en vulkane tot gevolg het. Hierdie “foutlyne” word op goeie Afrikaans eintlik “verskuiwingsvlakke” genoem. Miskien is dit nader aan ‘n definisie vir foutloosheid: Iets wat reg was vir jou op een stadium in jou lewe verskuif moontlik na iets wat reg is vir jou op ‘n ander tydperk in jou lewe.

Eclipse
deur Roger Waters
(vanaf die ‘Dark Side of the Moon’-album deur Pink FLoyd)

All that you touch
All that you see
All that you taste
All you feel.
All that you love
All that you hate
All you distrust
All you save.
All that you give
All that you deal
All that you buy,
beg, borrow or steal.
All you create
All you destroy
All that you do
All that you say.
All that you eat
And everyone you meet
All that you slight
And everyone you fight.
All that is now
All that is gone
All that’s to come
and everything under the sun is in tune
but the sun is eclipsed by the moon.

“There is no dark side of the moon really. Matter of fact it’s all dark.”

Heildronk op ‘n fout
Ons onthou die mense wat die tandepasta oopgelos het en ons name verkeerd uitgespreek het. Ons onthou die mense wat vals note gesing het, maar tog die regte hartsnare gepluk het. Die mense wat nie die beplanning gesien het nie, dink die ‘fout’ tydens die troue was deel van die beplanning. Lig asb u glas (of koffiebeker) op die foute wat reeds begaan is en die wat vir ons om die volgende draai wag.

Bronnelys:
1. Eybers, E. 1991. Teëspraak. Kaapstad: Human & Rousseau
2. Internet: http://af.wikipedia.org/wiki/Plaattektoniek
3. Internet: http://www.whitmanarchive.org/
4. Internet: http://search.dilbert.com/search?w=dogbert+karma&x=0&y=0

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •