Om te reis:
om my stilte
te oorleef
om vreemd
ander klanke
te beleef
en
andersom.
Die afgelope Europese somer, besoek ek Kriaritsi strand en slaan penne vir ’n paar dae by Camping Paradisos Chalkidiki (Halkidiki), Griekeland in.



Chalkidiki vorm deel van noordelike Griekeland wat in drie skiereilande die Aegeaanse see inloop. Poligros is die hoofstad van die argeologiese gebied, vol olyfboorde en bekend vir sy heuning. Die eerste skiereiland is Kassandra, ons kampeerterrein by Kriaritsi, op die middelste been: Sithonia, reg oorkant die derde skiereiland Athos, en berg Athos, die Agion Oros, die Heilige Berg. Athos is die tuiste van twintig Oosterse Ortodokse monnike kloosters en vorm deel van UNESCO.
In die mitologie behoort die naam Athos aan die Thrasiaanse reus. Gedurende die konflik tussen die Gode en die Reuse wou Athos ’n groot rots teen Poseidon gooi, maar die rots het deur sy vingers in die see geval, om nou dié reuse stuk land te wees. ’n Ander weergawe is dat Poseidon die rots teen Athos gegooi het. Dit het hom verpletter en hy is onder die die rots wat nou Berg Athos genoem is, begrawe.
Volgens die Christelike geloof, het die Maagd Maria saam met die evangelis, Johannes op besoek aan Lazarus, op pad ’n stormagtige see teëgekom en was gedwing om tydelik skuiling te soek in wat nou die hawe van die Heilige Klooster van Ivira is. Maria het die ongereptheid en skoonheid van die landskap so bewonder dat Sy vir God gevra het om vir haar die berg as geskenk te gee. Die stem van God is gehoor sê: “Laat hierdie plek jou lot wees, jou tuin en jou paradys en ook ’n toevlug, ’n veilige hawe vir diegene wat gered wil word”. Vandaar dat Berg Athos beskou word as ‘Die Tuin van die Maagd Maria’.
Athos is verbode vir vrouens. Om die skiereiland te besoek moet daar eers ’n spesiale permit (Diamonitiria) verkry word. Afsondering, gebed, oefening, gehoorsaamheid aan die Heilige Vader se dienste en om te vas, word deur die monnike beoefen as ’n manier om God te bereik.
Daagliks, olywe, feta, tsipouro en ouzo, met slaai en seekos op die strand. Saam met Griekse vriende wat in hul taal, hul digter Odysseus Elytis se vers “Die Monogram” voorlees, onder sowel die Helios son as Selene die maan, alles in die alomteenwoordige Berg Athos.
Oorgeskryf
Meisiekind, maak oop jou ore
uit die geraas wat aanhou
en lag en gloei
oor jy kan
oor en oor
ophou
en oor en oor
begin
luister na stilte
om jou oor te skryf,
na Athos.
Meisiekind, val net agteroor
in hande met polsende palms
voel hoe vingers vere
pluk-pluk vir vlerke
eerder as om vas teen mekaar
polse binne vir plek te sny
laat alles oopvou
met die roetes uitgekerf,
na Athos.
Meisiekind, val net neer
sodat jou seer kan stukkend
breek en oor bundels
die grond insak
nat jou wortels met woorde
kan vervoer
van waar jy
kom en gaan,
na Athos.
Meisiekind, maak oop jou mond
jou tande slyp bang en vernietig
so elegant hierdie diamante
na stof as
jy wind is
maak oop om
deur te waai
skoon na bo,
na Athos.
Meisiekind, maak toe jou oë
vir stoom om te verdamp
jy onderwater kan sien
meermin, selfs soms in die donker
groot en leeg binne ’n walvis
meermin, selfs soms so lig
soos strale jou ’n waterverf
van anemone wys wie na jou soen
skulpe wat lostrek en hul pêrels aanbied
soos die stroom jou vat,
na Athos.
Meisiekind, trek aan jou jakkie
jy leef in winter buite
vir ’n swart son om binne
philía, storgē, éros en agape,
in vlamme
van swart
na wit
na rooi
na swart
na wit
na rooi
binne jou
brand
en smelt
vorm
verander
altyd
binne jou meisiekind,
Athos.
Ek het later die vakansie teruggekeer na Paradisos – dit is toe moontlik.
Bibliografie: [Nageslaan Oktober 2014]
http://www.halkidiki.com/english/ginfo_e.htm









Dankie vir die terugvoer!
Heerlike blog. Om terug te keer 🙂
Karen, hierdie is fantasties. Ek verlang. Liefde uit Kaapstad.
Jou verse spreek tot my – baie dankie, Karen!
Verruklike verse, Karen. Ek sien uit na jou volgende bundel.
Aangrypende gedigte.