Wicus Luwes. ‘n Trollie-teorie

Ek onthou nog goed toe die ontslape Vuyo Mbuli van Morning Live begin het met sy ‘business of‘-stellings op die gewilde SABC-ontbytprogram. Eers was dit ‘the business of sport‘ toe dit tyd was vir die sport-berigte en verder ‘the business of business’ toe dit tyd was om die markverslag te bespreek. Elke insetsel het later ‘n ‘business‘ gekry. Vuyo was ‘n goeie aanbieder en die kenmerk van so iemand is dat hy iets akkuraat kan opsom. In die wêreld van digkuns word die ‘poësie van‘-stelling weer ingespan. Jy kry bv. die ‘poësie van ‘n sonstraal‘ of die ‘poësie van ‘n skewe tuinhekkie‘ ens. Ek wonder nogal wat die ‘besigheid van poësie‘ sou beskryf of wat die ‘poësie van besigheid‘ sou wees. Ek dink die (gebrek aan) poësie van besigheidsbesluite stop die besigheid van poësie dikwels in sy spore. Uitgewers en skrywers is maar te bewus daarvan dat ‘n mens nie van woorde alleen kan leef nie.

In my omgewing sien ek gereeld winkeltrollies langs die pad staan. Dit word somtyds tot by bushaltes of taxi-staanplekke gestoot en ‘n mens kan amper sien waarlangs die verbruikers en/of kliënte beweeg het om die produkte by hul huise te kry. Marknavorsers kan behoorlik die trollies tel en op teikenmarkte fokus met die inligting wat die trollieroetes oor die kopers se voorkeure uitwys. Dit kan moontlik wys waar die spesifieke mark verkies om hul aankope te doen of dit kan bloot net wys watter winkel se trollies die langpad die beste aandurf.  Op asblikdae word die trollies gebruik om skrootmetaal, plastiek en ander waardevolle artikels te karwei. Daar is mense wat weggooi-produkte uit asblikke versamel om weer te verkoop en so ‘n lewe te maak. Die een se vrot brood, word die ander se brood en botter. Weereens is daar roetes waarlangs die trollies beweeg. Tussendeur is daar natuurlik die winkel-eienaars wat hul trollies tel en probeer terugbring. Die winkeliers sit met die penarie: as hy die kliënt toelaat om die trollie tot buite die parkeerterrein te stoot, kan hy dalk die trollie verloor, maar as hy die trollie tot die parkeerarea beperk kan jy weer die kliënt verloor. Dis nou waar ‘n besigheidsgeleentheid opgeduik het, want ek sien ook mense met bakkies wat trollies versamel en (hopelik) terugbesorg aan hul eienaars.

In die winkel word die besigheid van roetebeplanning tot ‘n fyn kuns gevoer. Die koeldrank in die kafee moet agter in die winkel wees sodat jy deur die winkel moet beweeg daarvoor. Ek is seker daar is riglyne waarvolgens groot kettingwinkels ingerig word om die maksimale blootstelling aan produkte te bied. Dis ‘n soort poësie van roetebeplanning en agter die eenrigtingglas staan die bestuurders en asem ophou om te sien of die beplanning in die ‘poësie in verkope’ omgeskakel kan word. Op die internet spioeneer bemarkers al ‘n geruime tyd op die gebruikers/verbruikers. Daar word produkte aan jou voorgestel na aanleiding van jou internet-gewoontes. Die besigheid van roetebeplanning is dus eintlik ‘n integrale deel van die internet en reuse soos Facebook of Google gebruik hierdie statistieke tot hul voordeel.

Die trollie word as barometer in die verbruikers-omgewing gebruik en terwyl die trolliewiele draai, is die ekonomie tot ‘n sekere mate gesond. Ons ekonomie is onder druk en die naderende Kersseisoen is die perfekte tyd om die druk tydelik te verlig. Ekonome kyk ook spesifiek na Kersinkopies om te sien hoe vloeibaar die verbruikers se beursies is. ‘n Mens verwag nou al die Boney M in die winkels en later die ‘Arrive Alive’-veldtog om af te skop wanneer die skoolkwartaal afsluit.

Die ekonomie volgens ‘n trollie-mechanic

daar’s meer aan trollies
as wat die blote oog sien
sê die man
wat die trolliewiel versien

‘n gelukkige trollie
is ‘n gelukkige kliënt
‘n gelukkige kliënt kom weer
koop meer
en vul die sakke
van ‘n ekonomie wat stagneer

dis snaaks dat ‘n bietjie olie en ghries
die wette van koop-en-verkoop vir ons leer
dis snaaks hoe die trollie se geoliede wiel
reguit trek en stil loop
en dan raas die ekonomie ook nie meer

Die vraag ontstaan amper of jy die trollie stoot en of die trollie jou dalk trek as jy na al die bemarking en beplanning kyk wat in die verbruikers-omgewing ingaan. Die draadtrollie word die harde / koue waarheid van wat in ‘n ekonomiese omgewing aangaan. Die groottes van die trollies verskil, maar op die ou end word produkte en dienste in ‘n trollie gelaai. Gelukkig is die poësie van ‘n trollie nie beperk tot die besigheid van ‘n trollie nie. Ons is beide kopers en verkopers in verskillende dele van ‘n ekonomiese siklus. Party van ons sien kuns as ‘n produk en ander sien kuns as ‘n diens. Beide het seker ‘n plek in die samelewing, en kunstenaars dink al jare lank oor die lyn wat die twee skei. Die poësie van die trollie het nie ‘n slotvers nie en volg die paaie waarlangs dit gelei word totdat die wiele ingee en dit verlate langs die pad gelaat word.

Iewers tussen die Eko-digkuns en Andries Bezuidenhoud se ‘Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle’ het ek aan die volgende gedink:

Morfologie van ‘n Trollie
Algemene Naam: Draadtrollie / Winkeltrollie
Wetenskaplike Naam: Metallum Plaustrum
Orde: Portare
Familie: Tabernus
Sub-Spesies: Plastiek trollie, Mandjie-trollie
Habitat: Enige plek waar daar handel gedryf word / In areas waar self-help winkels voorkom
Algemene gedrag: Staan in simbiotiese verhoudings met kliënte en winkel-eienaars in tipiese gedrag wat herinner aan iets tussen Mutualisme en Kommensalisme

(Nota: Latynse name is vertalings via Google en is bedoel om sommer tong in kies te wees.)

Illustrasie 1: Tipiese afmetings van ‘n winkeltrollie

Illustrasie 2: Die trollie in sy natuurlike habitat

Illustrasie 3: Die wiel van ‘n trollie

Prente:
1. http://www.americaeconomia.com/negocios-industrias/pasivos-de-retailer-chileno-smu-aumentan-en-us150m-luego-de-correccion-de-arrien
2. http://www.coxsales.com/products/detail/technibilt-used-shopping-cart-model-3440
3. http://www.google.com/patents/US8387209

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Wicus Luwes. ‘n Trollie-teorie”

  1. Leon Retief :

    Wicus jy het nou die taksonomie van trollies mooi uitgele maar nagelaat om die oorsprong te beskryf. Is daar al enige opgrawings gedoen waar trolliefossiele gevind is? 🙂

  2. Andries Bezuidenhout :

    Ek is mal oor die patentskets vir die trolliewiel!

  3. Wicus Luwes :

    Ha-ha. Snaaks genoeg is daar blykbaar ‘n paar Egiptiese kunswerke in ‘n trollie opgegrawe naby ‘n buurt wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in puin gelê is. Die kunswerke was 1 miljoen jaar oud volgens toetse en die trollie was 2 miljoen jaar oud. Die trollie word steeds gebruik deur die dept, want al sy wiele werk nog. Hulle bou net nie meer dinge soos hul 2 miljoen jaar gelede gedoen het nie. 😉

  4. maria snyman :

    Jislaaik, nou voel ek sommer beter oor my plan van baie lank terug om in ‘n trollie by my troue aan te kom! Toe nooit by trou uitgekom nie, maar ek is steeds mal oor trolliestoot – is wel lanklaas soos lank gelede in een rondgestoot!
    Toevallig ook juis die week gesien hoe ‘n verwer sy groot blikke verf in ‘n winkeltrollie versigtig oor ‘n drumpel kry en weg karwei – ek vra hom toe juis of daar nog nie spesiale verftrollies is nie, of hulle gedwing word om maar ‘n winkel-een te “leen.”
    Viva vir die veelvuldige gebruike vir winkeltrollies – wie weet, dalk ontmoet ek nog ‘n trollie-mechanic wat iets weet van “reguit trek en stil loop”!
    Baie oulik Wicus – jou hart het definitief uitgegaan na hierdie nederige noodsaaklike business van trollies. ‘n Trolliestoter kan in die laaste instansie ook mens se inkopie-ervaring maak of breek – party het net die kuns vervolmaak om jou die fooitjie met ‘n lied in jou hart te betaal!

  5. Zandra Bezuidenhout :

    “Trolliediertjies” (Nuwe Kinderverseboek 2009)

    Ma’s en Pa’s is baie dom
    as dit by supermarkte kom;

    want kleingoed wat in trollies sit
    word honger, dors en ongeskik.

    Inkopies is só lang-d-r-a-d-i-g;
    trollies rol so bitter s-t-a-d-i-g.

    Ons vra ‘n vier-by-vier wat gly
    by seep en meel en pap verby.

    Gee ons ‘n woema-winkelwa
    waar niemand koes en niemand kla

    as wiele wye draaie gooi,
    torings omstamp, blikkies strooi!

    Het Pick ‘n Pay of Super Spar
    dalk so ‘n warm resieskar?

    Is daar ‘n sportmodel by Checkers
    wat blitsig jaag tot by die lekkers?

    Dink tog aan jul trollie-diertjies
    en gun die pikkies hul plesiertjies!

    Zandra Bezuidenhout

  6. Wicus Luwes :

    Baie dankie Zandra. Ek weet nou sommer ook wat om vir my kinders te kry vir Kersfees! Sal maar vroegtydig moet bestel, want die Afrikaanse boeke is ‘n skaars ding in KZN.

  7. Renée du Toit :

    Was altyd lief daarvoor om ‘n grys Pick n Pay staaltrollie teen die skuinste af te ry na die parkeerplek van die toe-nuwe The Workshop sentrum, 24 jaar gelede. Het opgehou toe ek verwag en geweet ek moet meer verantwoordelik optree. Daarna is ons eers biblioteek toe sodat my dogteriets kan lees in die trollie terwyl ek inkopies doen, lekker gewerk tot sy nie meer in die trollie kon sit nie. Ek hou trollies nou fyn dop, dankie Wicus!

  •