Ankor Wat
die lig besit alles hier
in die gange flits jou kamera
soos ‘n eerste vuur
die lig besit jou
sê jy vir elke vervalle muur
en vir die klein donker vroutjie
voor haar Buddha
toe jou kamera oor haar boggelrug blits
asof sy water is
Ayutthaya toe
op die trein Ayutthaya toe myself skielik weer in Indië bevind
’n af-been man smous koeldrank water lemoene
seningrige arms sy stem soos die einde van die dag
sy lyf taai bruin spinnekop om ’n kierie gespin
my agt oë staar en na die landskap wat riviere maak in die venster
stormagtige gras dan ’n gladde meer huise word gevloed
later die dag vir ure deur die mure van Wat Mahathat gestap
lighoofdig die hoë torings van die aarde beklim
klam-hand aan ’n af-kop Buddha gevat-vat
agter my het julle stemme in die hitte verdamp
die son stadig en swaar soos ’n emmer oorgehel
toe hoor ek die man op die trein weer skel
hy verkoop ek en jy, ons jare-terug soos warm koeldrank soos ou lemoene
sy stem staan regop soos ’n murasie in die veld
Siem Reap
nie regtig plek in hierdie gedig vir ek of jy
jou ma, pa, broer, jou pa se niggie
vir 17 ure van hardlywig wees op die vliegtuig
vir familie kibbels of opmaak nie
om hierdie gedig te skryf moet die Westerse toilet
wat kon flush die groot wit bed soos ’n koninkryk
die kersboom op my Starbucks koffie geroom
moet alle luukshede uit
geen olifant van ’n kamera lens
geen krummels van die internet
geen belaglike Fransman, verdagte Eiffeltoring, duur Belgiese bier
om hierdie gedig te skryf sit ons in ’n tuk-tuk
swerf my kamera verby ons drywer Channa se breë rug tot in die grondpad
waar ek draf met die versigtige voete van ’n basterhond verby
drie skoolkinders wat grootwiel fiets-trap verby
’n ou man wat steier en krimp onder die bondel op sy rug verby
langbeen winkelpoppe met parmantige wit borste verby
die dorp mark waar ’n duisend bruin hande in dollars smous verby
die swanger teef haar uithang ribbes uithang tong verby
die grommende motorfiets sy swaar wiele wat wortel skiet in die grond onder pa
se gewig en ma haar lyf soos deeg waaraan twee seuntjies klou verby
die kleuter agterop haar sterk tande flits wit likkewaan in die son haar
bruin hand waai soos ’n vlag vir ons verby die woud waar die sonbesies skril
skreeu en skreeu en skreeu en ek omdraai en jou vra of hoor jy dit, of jy dit regtig hoor


