Nabyskote in Woord en Beeld
There are mirrors for the body, but there are no mirrors for the soul.
Baltasar Gracian
Vir die Woordfees 2015 stel ek, in samewerking met die Distell Stigting, ’n tentoonstelling saam met die titel: Portretteer: Nabyskote in woord en beeld.
My betrokkenheid met die jaarlikse projek is grotendeels om ’n nagraadse beursfonds vir die Departement Beeldende Kunste van die Universiteit Stellenbosch tot stand te bring. Ons kon reeds vier beurse in die verlede toeken. Sewentig kunstenaars en skrywers is gevra om ’n selfportret te skep. Skrywers kon ’n storie bou of ’n gedig komponeer. Daar was nie beperkings ten opsigte van medium en inhoud nie – behalwe dat die deelnemers iets van hulle self moes reflekteer.
Die selfportret is een van die oudste kunstemas in die kunsgeskiedenis. Aweregse kunshistorici meen dat die prehistoriese palmdrukke op die rotswande in die grotte van Lascaux in Frankryk en Altamira in Spanje, die eerste konseptuele selfportrette van die mens is. Die idee was ook om ’n bundel te maak van die selfportrette. En voilà, hier is ’n paar uittreksels.

GEDIG VIR MYSELF
.
dis jou storie
wat my huis toe bring
dis jou boek
wat ek wil lees
dis jou liedjie
wat ek nou wil sing
dis jou ek
wat ek wil wees
jy’s die skrywer
van my lewe
jy’s die storie
van my reis
ek wil lê
hier in jou skaduwee
ek wil kook
in jou kombuis
ek wil stap
en praat en luister
na die woorde
wat jy skryf
ek wil liefhê
ek wil fluister
en eindelik tuiskom
in jou lyf
.
Koos Kombuis

ek is gebore met die vloed
ek is gebore met die vloed van 1976
ek onthou nie my geboorte in November nie
om as doofgeborene in die lewe te kom
is om onderaards stil te luister:
hoe ritsel die rietsanger, singende grys wond
hoe klouter die syselbos al blouer
teen die watermassa uit
struike struikel
waar ‘n vlakvark kniediep kniel
saam met Pa en Ma vra
dat die bulkende berge om skemertyd
die moddersnuif van seekoeie
dat die brood wat aan tafel
gebreek word
soos ‘n doodgewone wóórd
my nie sal verbygaan nie
een aand rank ‘n beaarde hand
deur die venster digby my kot
en ek kon hóór toe hulle sê:
sy is geskryf deur die Wilde God
.
Carina Stander

Nie mooi nie en ook nie slim nie
Met my geboorte is ek, as tweede dogter, na my ouma aan vaderskant vernoem: Adriana Wilhelmina. Goddank is ouma Willemien se derde naam – Petrusina – nie vir my aangegee nie, ek sou my ouers nooit vergewe het nie.
Ek het nóg ‘n naam, my Zoeloenaam wat ek as kind gekry het. In die Zoeloe-kultuur kry jy nie net sommer ‘n naam nie, jou naam is dit wat jy is. Of dit wat jy hopelik sal word. My Zoeloenaam, ‘n naam waarop ek baie trots is, is Ntonbenhle. “Mooi meisie”, beteken dit.
Helaas, ek het nog altyd geweet dat ek nie té vreeslik mooi is nie. Dit het nie saak gemaak nie, want ek geweet ek is slim, en slim is vir my belangriker as mooi. Maar êrens in my agterkop het ek tog geweet ek is bietjie mooi, al is dit net in Zoeloe.
Op die plaas waar ek ná my troue ingetrek het, is ‘n bekkige vrou met die naam van Katryntjie Kruger. Sy is my huishoudster. Haar man, Basjan, is my tuinier. Omdat ek baie meer hou van tuinwerk as huiswerk, bring ek nogal baie tyd saam met Basjan deur.
Op ‘n keer kom ek terug uit die olienhoutbos waar ek en Basjan die hele oggend braambos en ander wilde dinge uitgekap het. Ek probeer slim wees en sê vir Katryntjie:
“Katryntjie, is jy nie bekommerd dat ek so alleen saam met jou man in die bos werk nie?”
Sonder om eers ‘n sekonde na te dink, sê sy vir my: “Nee, wat, Mevrou, so mooi is jy ook nou nie.”
Nou ja, daar het jy dit. Nie mooi nie. En ook nie slim nie.
Riana Scheepers

Die koms van die biblioteekbus
.
Die omgedolwe rooigrond agter die ploeg is heerlik koel.
Ek en my sussie lê plat op ons mae en luister na die gedreun van die trekker. En ons wag.
Meteens sien ons die stofstreep aan die anderkant van die lande aangeslinger kom. Die
biblioteekbus! Hy kom! Hy kom!
My sussie is eerste op. Sy is ouer, maar ek is vinniger. By die suikerrietbos het ek haar lankal
verbygevat. Ek hardloop dat my boksterte styf agtertoe punt. My oë skreef teen die wind. Ek hoor
hoe my voete plof op die grondpad en my asem pomp.
Dis eers toe die bus lewensgroot voor die winkel opdoem, dat ek effens hokaai. ’n Mens kan nie soos
’n hygende hond dáár ingaan nie.
By die deur vat ek diep happe lug en vee my stofhande aan my blou-en-wit blommetjiesrok af.
“’n juffie!” groet die tannie van die biblioteekbus vriendelik. “Is jou hande skoon?”
“’n tannie, ek het hulle nou-nou-net gewas,” lieg ek.
Die biblioteekbus ruik soos drome. Soos opstyg. Soos wegvlieg na plekke waar daar Kersfees-sneeu,
koalabere en Bengaalse tiere is. Dit ruik na woorde soos keiser en nagtegaal en troebadoer.
Ek loop versigtig na die rak met die kinderboeke en soek met my oë en vingers na die een oor die
vlieër wat nie aan ’n tou wou vas wees nie. Die vlieër wat vry wou wees om saam met die voëls
en die son en die wind te baljaar.
My hart word ’n klein blou wolkie toe ek die groot, geel buiteblad herken.
.
Keina Swart

Die binneblik
Met skemer en vroeg soggens kan sy glo,
deur stof en mis, ougoud en perlemoen,
deur die gelaagde strale gloed en lig,
dat daar ’n waardigheid in dinge is,
dat die verhale deursypel en saam
vloei tot ’n gety in tydelose tyd.
Die ongenade van die middeldag
laat elke dorp so weerloos oop en bloot,
verkwansel aan verglyding en verweer
voor elke blik wat ongenaakbaar kyk.
Hoe sou die ou verhale nuut kon word
as die welbehae uit die oë wyk?
Radeloos oor ’n ramp wat ruim beskou
geen ware ramp is nie, staan sy nogtans
gans leeg, geluideloos verlam, en wens
vir nuwe oë, vir ’n ander blik,
omdat die kyk wat tot herkenning lei,
meer verg as wat twee oë registreer.
Daar is ’n buitelyn en ’n fatsoen,
’n vorm, formaat en die kontoere,
daar is die plasing en die samehang,
maar fynkyk wys die breuke in die beeld:
die koue onderstroom spoel sterk en kalf
belangeloos bekende walle weg.
Sou sy dalk tog met hierdie onpaar oë
in streke van groot onwaarskynlikheid
’n buitetydse duursaamheid kon saamraap?
Sou sy in donkerte, nagblind, kon roep
dat uit skakeringe van swart ’n dorp asof
voor skoongewaste vensters sou kom staan?
Sou sy aan rommelwinkels van vreemdes
wat taalloos kommunikeer, aan klinies
gekloonde koopsentrums, aan vergane
slaggatbedolwe strate, aan sieklik
stowwerige bome en slordige
sypaadjies sin kon gee deur hoe sy kyk?
Die huise meer as bousels bloot van steen,
omdat die mure numineuse aarde is,
die vensters en die deure oopgeskreef
op die menslikste mistiek van menswees
en die strate nuutherstelde roetes
wat lewens met lewens ryklik verbind?
Al hoe meer, al hoe meer lê al dieper
ágter die oë, lewensonthalwe.
Op die onpaar oë aangewese
vir die binneblik om sagter te kyk,
kies sy die goue ure van min lig
en die genadige blou van die nag.
.
Heilna du Plooy

lied
.
dis ‘n bergterras
wat ek my verbeel:
ʼn boweland geplavei
met struike en sering
waar die vrou alleen staan
en ‘n lied van Sviridov
as versugting sing
met die teensang
van ʼn waterval
en alle klank
simuleer ander klank
vleg soepel
soos linte
deur water
porseleinwit
breekbaar
al hoe verder
deur rankende
sproei –
spoorsny dan oor
maanblom en klip
al hoe stiller
die tinte
van haar stem
in ʼn rivier
wat kloof
na die ruspunt toe
en lank daarna
steeds eggo
in die leegte
van my
oor
.
marlise joubert

Selfie
No one is exempt
and everyone’s pain has a different smell.
Craig Raine
.
‘n Steelfoto geneem
net toe die oggendson
breek deur die blindings:
onvermeld die naam
van die fotograaf,
‘n Zapruder,
betrap die objek,
presies geplaas teen
‘n wit agtergrond:
hoeveel klieks was daar?
Was daar ander footage?
Uitgewis of dalk bewaar?
Sou die fotograaf
dalk die res verklap?
‘n Digter besig
om sonder klere en weerloos
‘n gedig te skryf
net ná sonsopkoms
oor haar voormalige geliefde
wat stiekem ‘n foto neem
oor ‘n digter sonder klere
wat besig is om ‘n gedig te skryf
oor ‘n geliefde wat haar Zapruder
teen die blindings en oggendson.
.
Joan Hambidge uit Matriks

Die digter as ronkedoor
Borde, bekers & eetgerei stapel op
in die wasbak, wasgoedmandjie volgestop.
Vervaldatums kom en gaan in die yskas,
die sitkamer sien nooit ’n kuiergas.
Dra van klere opsioneel, onoopgemaak
hoop briewe & vensterkoeverte op. Gestaak
kontak met medemens, selfs die natuur
vervang met hoë definisie uur na uur.
Elke boekrak is tjok & blok & ongelese vol
& onpaar kouse teel aan in ‘n bol.
Wasdag breek aan met die laaste skoon
hemp & onderbroek, ongestopte kouse vertoon
kleiner & groter gate. Met die ys- & koskas leeg
word hy uitgedryf om tussen rakke te beweeg,
maar die inkoop loop sonder plan of lys
& die trollie vul met kitskos & kouevleis.
Macbook, iPad & iPhone versadig elke lus.
Met webcam & Grindr wat alles opdis,
ervaar hy selde die gemis wat omgestook
moet word, of die stank van offerrook.
Maar behoed die siel wat ontydig bel
as hy verdiep is in sy sepies, of op sy sel
‘n ingewing of droomvers intik in die nanag.
’n Slaaf van sy aptyte beteken: Níks kan wag.
Johann de Lange

Woorde vs. Water
(‘n deurmekaar magstryd opgedis in los idees)
‘n geboorte sonder vrugwater is ‘n idee sonder ‘n woord
vloek en skel bly gif nét vir die hel sonder speeksel in die bek
die een vloei deur ‘n klip en die ander oor ‘n blad
‘n boom se eerste sien is ná die reën
‘n boom se laaste sien is wit papier
een koppie water kan my vrek maak
‘n halwe sin kan my wêreld verwoes
aan die begin was die woord
op die derde dag – die see
die een gee lewe, hou die are gesond
die ander een laat jou lewe, peuter met die brein
om dors te wees is meer as een ding
en om dit te les, soveel meer
God het water gemaak, die mens die woord
in mý wêreld is ek ‘n god want ek kan nuwe wesens skep
ek is ‘n god want ek kan lewens skep
In mý wêreld waar woorde leef is water net ‘n mite
In mý wêreld waar mites werklik is, is woorde DNA
In mý wêreld kan ek bomme plant wat die aarde oopruk
In mý wêreld bly ek in ‘n moerse huis met flatscreens en ‘n bar fridge
In mý wêreld is ek koning tot iets my pla, my krap, my tong laat vasplak, my krapperig maak, my oë laat jeuk, my stem laat verdwyn…
Ok,Ok. God, jy wen
ek het tóg jou water nodig
na ek skaam by die wasbak gestaan het met ‘n glas in my hand
laai ek die bad vol boeke
want…
ek kan bad nét waarin ek wil
Wilkin Calitz

VOORTVLUGTENDE
Kaapstad. Skemeraand. Lughawe. Hoe lank het ek staan en wonder oor hoe ek in só ʼn wegvlug-vliegtuig kan kom, waarheen dit my sou neem? Ek is ʼn banneling, moet ontsnap van myself, vlug na ʼn ander kontinent.
Geruisloos beweeg ek na die Boeing 747. Hy skud sy vere. Ek is ʼn verstekeling onder een van die 16 wiele, klouter teen hulle op om in die holte weg te kruip.
Aitsa, so ʼn parmantige kolos van ʼn enjin, die gebrul toe die passasierstraler opstyg oorverdowend. Die buik van die groot voël in die lug rammel en skud. Petrol se verstikkende reuke oral, my oë traan. Ek kyk af, ek is op pad!
Terwyl die masjien die swartheid inklim, lugwaarts, kry ek kouer. Onder my skitter die laaste ligte van die metropolis, verdoof soos ons oor Afrika vlieg. ʼn Hele vasteland kreun en suis, klein katogies knipoog van onder in die duister.
Bo my, maak 345 mense reg vir aandete en skemerkelkies. ʼn Baba huil, ʼn ma soen haar kind op die voorkop. Hoe hoër ons vlieg, hoe minder die suurstof, ek bibber.
Geen mens kan dié koue asem van die donkerte so hoog oorleef nie. Daar word bespiegel ek het doodgevries, versmoor, twee ure ná my vertrek.
Terwyl die lompe dier stil oor alles sweef, het ek, ʼn verkluimde, ontheemde kadawer, opgekrul gelê in die handpalm van die nag, het ek soos ʼn weeskind gewieg, gewieg oor ʼn kontinent waar ek sonder naam of liefde deur die duisternis ingesluk is.
Herman Lategan

Die bundel is beskikbaar by Protea Boekwinkel Stellenboch en by die Oude Libertas Galery.
.


Wat ‘n lieflik-veruimende, tog dieper blik in mens-en-siel met die foto’s en woorde; baie dankie Louis. ‘n Boek om te hou
Baie dankie vir die bemoedigende woorde.
Jy skep soveel ruimte vir ander kunstenaars wat in jou kielwater vaar.
Dankie, Louis.
Die selfportrette natuurlik ook!
Puik plan! Lieflike lusmakers – sien uit na die ander storiegeboue en gedigkomposisies. Baie dankie!
Uitstekend soos altyd Louis, dankie!
Heerlike blog, Louis! My ellelange lysie v boekbegeertes is pas gewysig – deur jou blog. Dis wonderlik om selfportrette te sien deur kunstenaars soos JP Meyer.