Hilda Smits. Oor bome (telefoondrade, blare, water, ‘n simfonie van visse)
wou die gedig hond maak op kort stewige bene
laag op die geheim van grond laat draf opsoek na
by Boskop dam ek was 10 het iemand seker ‘n man met groot harige hande
Bloekombome in die nag afgesaag met ‘n lang, lang blink lem
ry ons rooi Anglia daar verby en ek sien hoe die wind ontsnap uit reuse longe
van papier & hoe honderde Bloekomharte oor die donker aarde bloei & die gekraakte
ronde magies van voëleiers in ‘n geel rivier oor die grond vloei & teen die ruit
die begrafnis stoet van ons agt stil asems in ‘n ry
toe tel ek die bos se siel veilig op met die hyskraan van my kop & bêre haar daar
vir later se skryf vir later wanneer Pa sal sê magtag & ek dit alles laat rym
mossie onder ‘n tafel gesien hop-hop
groot soos die hart van ‘n mier & net so donsig
bo die tafel breek die helder stemme van vroue messe glas
ek wou my hand oor jou vou
soos ‘n brug
die punte van my vingers een vir een teen jou benerige ribbes
daar waar die asem ‘n poel groen water is hou
my oor stetoskoop teen die klein dreun van jou bonsende borskas druk
waar die bloed in strome klop soos deur ‘n ou jukebox skud
wou ek silwer rand in die hand vra om die musiek van jou klein liggaam
te hoor & om weer klein te wees soos onskuld & dit nie te weet nie
gebeur die gedig saam met die mans
twee swart een Mexikaan & affordabale lawn care
slaat die bakkie se deure oop & toe soos ‘n storie
deur drie liggame en die son vertaal
tot spiere bult in harde jare & woorde trek lui deur die lug
‘n football tussen vriende en ek & die stoep beskut, ‘n stil skare
‘n pawiljoen van tee en waaiers en witwees en staar
sien die grassnyer ‘n Pollock op die grasperk maak
en wonder of dit belangrik is
be-vange
Jou gedigte baie geniet Hilda. Veral die beelde.
Jou gedigte is vir my as leser ‘n fyn-fyn proe aan hoe jy as digter kyk, dink en skep en dis BAIE dinamies en interessant.
By die “reuse longe van papier” was ek al volkome meegesleur, Hilda, ek geniet jou werk – die klanke, die eenheid wat dit vorm en die hipnotiese kwaliteit daarvan.
gjg. Marthe, Carina & René. Baie dankie vir die mooi kommentaar…
Jis, jy skryf fantasties, Hila! Sulke rou en lewendige beelde.
Beelde soos hierdie laat sommer my tone omkrul van plesier, Hilda:
“ek sien hoe die wind ontsnap uit reuse longe
van papier & hoe honderde Bloekomharte oor die donker aarde bloei & die gekraakte
ronde magies van voëleiers in ‘n geel rivier oor die grond vloei & teen die ruit
die begrafnis stoet van ons agt stil asems in ‘n ry”
Marlise, dankie!
Hilda, hierdie gedig breek nogal deur grense, want as ek reg lees, is jou beelde plek-plek die plaasvervangers van ontbrekende woorde, of dan ten minste die meesprekende wit wat nie wit is nie; die digter ‘n reflektiewe teenwoordigheid in en agter die beelde. Hiervan hou ek sommer baie: die spoed, die dinamika!
Susan. Baie dankie vir die lees.
Hilda, jy mág maar! Ek en gjg sal die eerstes wees om jou bundel te koop as jy debuteer…
Hilda, ek hou baie van
‘toe tel ek die bos se siel veilig op met die hyskraan van my
kop & bere haar daar vir later se skryf…’
en al die ander beelde! Hartlik geluk!
“om weer klein te wees soos onskuld & dit nie te weet nie” – allamagtag, Hilde! Jy koop my longe en my siel met hierdie aanslag van jou! Groete, m
Corlietha, Engela & Marie; baie dankie vir die inloer, vir die lees! 🙂
Ek hou van die bakkie se deure wat soos ‘n storie…. 🙂 Ek geniet altyd jou skrywes, Hilda!
En die foto’s – weer eens stunning, Hilda!